Sonnette Lombaard
Bykans ongemerk het Afrika Frankryk onttroon as die plek met die meeste Franssprekendes op Aarde. Dít stu die herlewing van ou taalbande tussen Afrikaans en Eurosentriese Frans. Terselfdertyd groei kruisbestuiwing met veral Afrosentriese Frans sterker – positief vir Afrikaans in die afskud van die “onderdruktaal-meulsteen” en vir oorlewing in ‘n ongenaakbare millennium.
Na raming praat 300 miljoen mense wêreldwyd Frans – die vyfde grootste taal op ons planeet. Teen 2050 sal daar ‘n geskatte 700 miljoen Franssprekendes op Moeder Aarde wees, met 80% van die sprekers afkomstig uit Afrika. Tans woon 80% kinders wat in Frans leer en studeer, reeds in Afrika. Daar is ook net soveel Franssprekendes in Kinshasa, hoofstad van die Demokratiese Republiek van die Kongo, as in Parys.
Met Afrika se jeugbevolking wat toeneem, terwyl die res van die wêreld grys word, voorspel demograwe tot 85% van Franssprekendes sal teen 2060 op die Afrika-kontinent woon. Oftewel die omgekeerde van die 1960s, toe 90% van Franssprekendes in Europese en ander Westerse lande gewoon het.
Tans is Frans die enigste amptelike taal in 11 Afrika-lande en tweede amptelike taal in nog 10 lande, wat die belangrikheid van die Franse taal op die vasteland onderstreep. Die Franse se flair oorrompel wyd. Insluitende hul mooi moedertaal, wat tussen die twee wêreldoorloë toe Frankryk se koloniale rykdom een van die grootstes was, wyd gevestig is. Die Franse invloed het vanaf die 16de eeu reg deur Afrika, oor die Indiese oseaan na die Verre Ooste tot in Noord-Amerika gekring. Hoewel dit in Noord-Afrika diep kerf, het dit ook gekronkel na die Demokratiese Republiek van die Kongo in sentraal-Afrika tot by ons in die suide.
Suid-Afrikaners en veral Afrikaanses word lank deur die Franse kultuur betower, wat in ons musiek, kuns, flieks, letterkunde en die kos van bv. ons eie Michelin-stersjef Jan weerklink. Die Franse taal se reis het ver gedraai, ook tot hier as ‘n stamtaal vir Afrikaans.
Maar terwyl vertalings tussen Frans en Afrikaans durend is in veral boeke en liedjies, moet taal as ‘n lewendige medium vir oorlewing bly aanpas en eietyds eggo. In ‘n migrerende millennium-mensdom is kruisbestuiwing tussen Afrikaans en Frans deesdae meer inheems gekleur. Met al meer Franssprekendes in Afrika, vertoef baie van hulle ook in ons land.
Ons jonger geslagte kunstenaars span reeds geruime tyd Afrika se Frans vir kunswisselwerking in met verskeie produksies. En hou terselfdertyd Afrikaans en Frans se geskiedkundige konneksie deur die Franse Hugenote lewendig.
Sanger Jannie du Toit is volksgeliefd vir sy trefvertolkings van die enigmatiese Belg Jacques Brel se musiek, al drie dekades lank. Sy Franse verbintenis spruit uit sy liefde vir Latyn, sy gunsteling-skoolvak.
“Brel is al 44 jaar dood, maar vandat ek die eerste keer sy musiek gehoor het, was ek uitgeboul; al was die Franse lirieke onverstaanbaar.” Hoewel Jannie nie Frans praat nie, het hy ‘n fyn taalaanvoeling. Hy is oortuig ‘n gehoor kan die betowering van die Franse taal wat in musiek tuiskom, aanvoel. “Almal weet dis hemels om in Frans te sing.”
Omdat Brel se musiek biografies is, werk Franse klanke perfek vir sy gevoelsmusiek. “Sy ryk nalatenskap van towerwoorde tref ons gemeenskaplike bewussyn … soos Koos du Plessis s’n in Afrikaans. Dis ‘n gehalte-waarmerk waarvan die gewildheid nie sal taan nie,” voeg Jannie by.
Die Johannesburgse sangeres/liedjieskrywer Willemien, wat ook ‘n Franse verhoognaam Philomène het, woeker ook in Frans. Willemien het in Duitsland skoolgegaan waar sy Frans geleer het. Die taal se flair en finesse was vir haar meer aantreklik as Duits.
As “kreatiewe entrepreneur” praat en sing sy in Frans, en bedryf verskeie Franse projekte. Sy was al Franse dosent by Tukkies, in Frankryk en by die Alliance Française, ‘n wêreldwye organisasie wat die Franse taal en Frankofoon-kulture bevorder, en alle dialekte van Frans vier.
Volgens Willemien is die verskillende dialekte in Frans en Afrikaans van die min ooreenkomste tussen die twee tale, want Frans het ‘n Latynse grondslag en Afrikaans het Germaanse wortels. “Afrikaans is robuuster met harderplof-klanke vir sterk emosies soos woede of ontsteltenis eerlik oordra. Frans is sagter en nasaal met ‘n ryker tekstuur vir subtieler lirieke, en meer geheimsinnigheid op die verhoog. Frans is ook sensueel én classy – jy sing vrylik oor seksualiteit sonder om kras te klink.”
Die groeiende aantal Frankofone in Afrika verbreed Frans se internasionale trefkrag, bevestig Willemien. Haar meestersverhandeling was oor die Franse musiek van Wes-Afrika. Tydens skoolbesoeke stel sy leerders deur musiek, animasie en kreatiewe skryfkuns bekend aan Frans buite Frankryk. “Frans is ‘n wêreldtaal en kan oraloor gebruik word. Vir oorlewing manifesteer dit in nuwe vorms.”
Naòmi Morgan van Bloemfontein is hoof van Frans aan Kovsies en ook literêre vertaler. Sy is tot Franse Ridder geslaan vir literêre vertaling. Haar pad met Afrikaans het op skool begin. As ‘n au pair in Parys, het sy Franse flieks gekyk. Ditto in Genève waar sy studeer en gewoon het.
Hoewel Afrikaans Naòmi se moedertaal is, is Frans haar eerste taal. “Ek praat, lees en skryf dit soos ‘n moedertaalspreker. Volgens haar is die Franse hoogsgekultiveerde mense wat nuuskierig is oor alles wat die lewe lekkerder maak.
As literêre vertaler tussen die twee tale is bi-kulturaliteit ewe belangrik as tweetaligheid, aldus Naòmi. “Vertaling is nie net ‘n woord in ‘n ander taal vind nie. Die teks wat jy vertaal het ‘n register, toon en melodie.” Die woordorde en die sintaksisse in Afrikaans en Frans verskil baie, asook die woordeskatgrootte. “Afrikaans is omtrent 100 jaar oud, terwyl die eerste teks in Frans uit die jaar 800 ná Christus dateer.”
Jy lees nie nét met jou kop om te verstaan nie, maar met jou hart, daarom in jou moedertaal, meen Naòmi. Vertaling van Afrikaans na Frans is ewe kern. “Ons letterkunde moet wyer gelees kan word. Deon Meyer wen pryse in Frankryk met die Franse vertalings van sy boeke.”
Met vertalings en taal leer jy ‘n land, volk en letterkunde ken. As ‘n kleiner letterkunde word Afrikaans deur vertalings verryk. ‘n Ryk oes Frankofone tekste wag om in Afrikaans vertaal te word. “Om ‘n teks te vertaal, is tydrowend en ‘n teken van respek. Jy maak iemand se taal- en kultuurgoedere toeganklik.”