Skip to main content

Isaac Cloete

Die moordsyfer is so hoog in SA dat selfs babas nou gereeld onder die statistiek tel.

Ten spyte van sy klein bevolking is die Noord-Kaap nie uitgesluit van dié onrusbarende statistiek nie.

Net onlangs nog was die provinsie geskok toe dit bekend geword het dat ‘n baba waarskynlik deur haar pa, Wouter Pieterse (29), vermoor is.

Dit nadat Pieterse glo tydens ‘n argument met sy meisie, Marcolene Gouws, die baba in ‘n rugsak gesit en met hom die huis verlaat het.

Hul babaseuntjie (2 maande) se liggaam is hierna Sondagoggend in ‘n veld naby sy ouerhuis op Kenhardt gevind. Pieterse is sedertdien net spoorloos.

Owen Eland is ‘n inwoner hier. Hy het leiding geneem om ‘n soekgeselskap op die been te bring. Hy vertel:

“Daar is aanvanklik ‘n beloning van R2000 beloof vir die persoon wat weet waar die verdagte is sodat hy gearrestreer kan word. Die Mckay sekuriteitsmaatskappy het intussen bekendgemaak dat hulle bereid is om R2000 te skenk. Die beloning staan tans op R4000.”

Eloise Pretorius het ook Dinsdag aan die soektog deelgeneem te midde van die versengende hitte. Volgens haar het hulle nog tot skemeraand na hom in die veld en klipkoppe gesoek.

“Dit sal dalk Woensdag beter gaan as ons meer mense uit die gemeenskap kan kry. Die kommunikasie rondom vandag se soektog was bietjie verwarrend en nie almal het van die soekery geweet nie.

“Ons vermoed dat hy baie naby sy huis kan wees. Lede van POPCRU het eers laatmiddag gekom. Ons het gedog dat hulle ‘n helikopter sou gestuur het, maar daarvan het niks gekom nie.”

Intussen het die plaaslike burgemeester, evangelis Marshall Matthys, aangebied om die bedrag op te stoot deur ook ‘n geldelike bydrae te maak. Hy het ook onderneem om die soekgeselskappe van kos te voorsien.

Inwoners van Kenhardt sal weer Woensdagoggend na Pieterse gaan help soek. Baie is boos oor die daad waarvan hy verdink word. En as dit van sommige afhang, gaan hulle hom sommer self met hul kaal hande van kant maak, het hulle gesweer.

‘n Saak van moord was intussen geopen, volgens polisiewoordvoerder, Omphile Masegela. O/A Elrich Mienies van Kenhardt kan by 066 0984 3520 geskakel word as hulle weet waar Pieterse hom bevind.

*  Nog ‘n peuter, Chevonne Rusch (2), was ook na bewering vermoor deur haar ma, Rochelle Botha, se voormalige verloofde, Stefan van Niekerk, wat tans in Johannesburg tereg staan op moord.

Leave a Reply

error: Content is protected !!