Internasionale Vrouedag word vandag wêreldwyd gevier en wie beter om die vrouweeskuns uit eg eva-binnekamers tuis te bring as Dezzi Liebenberg, die blonde buks aan Louis se sy? Oop-gesig Dezzi met die blou kykers en mooi sproete wat warrel soos ‘n welkome windjie wat afkoel en geurig verfris waar sy ook al waai. Met ‘n aangrypende lewensverhaal wat jou hart oproep, is Vrystaat-boorling Dezzi se vlerke vroeg getoets. Dit onderskraag en dra steeds ‘n vasberade vasbyter wie se roerboodskappe tref. Een wie graag helder in oranje blom want haar rugbyhart lê trots by haar tuisspan, die Cheetahs. Skaars 1.56m in haar sokkies, is dié aantreklike en innemende vrou die toonbeeld van sagte menswees wat ooglopend dankbaar die lewe bereis, die mooi gryp en die onlekkertes grasieus systap. Haar vermoë om ons grootbaas in taai tye kalm en gelukkig te hou, is opvallend. Waar sy ook al aanland, bruis Dezzi se lewenslus onbeskaamd en aansteeklik; al was haar eie paadjie besaai met eina-duwwels. Gebore in ‘n disfunksionele gesin met afwesige ouers, kronkel sy en haar vyf sibs se lewens van kleintyd deur Kinderhuise. Destyds toe Dezzi op haar dikwielfiets geriel het om die PnP-till te gaan slaan. Sy sytrap steeds behendig weg van bitterheid en hou met geloof kop, stip haar pad met genade uit. Bly JA sê vir die lewe en lééf! Ná matriek studeer Dezzi met vriende se geld stuk-stuk, begin stelselmatig self die leisels van haar lewe vashou totdat sy met selfvertroue kon galop. Sonnette Lombaard het die skerpsinnige Dezzi gepols oor dit wat haar stylvolle dinamietpakkie aanvuur.
Woorde wat moderne vrouwees raak saamvat?
Vookoms, sien, woorde en passie. ’n Vrou moet mooi na haarself kyk want jou beeld na buite verklap baie van wat in jou binneste aangaan. Dit gaan goed met my hart en siel, ‘n mens trek jou wapenrusting soggens aan, omgord jou met die waarheid om die dag te pak. ‘n Moderne vrou moet kan sien wat ander nie kan sien nie. Sy moet veral haar woorde keurig kies want woorde is magtige wapens – het jy dit eers geuiter kan dit nie teruggetrek word nie. Passie is nog altyd vir my ‘n wonderwoord. As jy nie praat met passie nie, mompel jy, as jy nie stap met passie nie, strompel jy. As jy nie met passie eet nie, wat eet jy? As jy nie met passie na mense kyk nie, kyk jy nie met die oog waarmee God wil hê ons moet kyk na ander nie. Boonop hou ek van die dubbel “s” in passie en in passion – dit lyk kompleet of dit ‘n dans uitvoer!
Jou seun en dogter is beide in die twintigs. Watter soort ma is jy en wat leer jy hulle oor menswees?
Ná my eersteling en dogter Lumé, wou ek graag ‘n seun hê, want hy moes die stamboek voortdra. En wraggies, Dihan is toe op sy oupagrootjie en oupa se verjaarsdag gebore en is die enigste kleinseun. ‘n Ma het elke kind eiesoortig lief. Hulle was my eerste liefde. Ek was/is ‘n streng en reguit ma maar ondersteun hulle in alles. Ons is hulle vangnet. Soos alle kinders toets hulle die grense maar hulle weet van reg en verkeerd en moet verantwoordelikheid vat vir hul besluite. Hulle is geleer dis arm spirituele higiëne om almal toegang tot jou liggaam te gee. Daarteenoor is gesonde aanraking kern. My kinders het beide beautiful harte en verstaan genade en dankbaarheid.
Is jy ‘n dromer of doener? Wat is die beste raad aan jou nog?
Dromer én doener, maar wanneer iets gedoen moet word, dóén ek dit. Die beste raad is om nié onseker in jouself te wees nie. Dít verwoes jou én ander om jou. Ek het geleer onsekerheid is ‘n moordenaar – dit dood menssiele. Los eerder iets indien jy onseker is. God is dan seker want alles is beplan vandat hy met ons te doen gekry het. O ja, dis ook lekker om te deel ek is daar waar ek gemaklik in my eie lyf is, waar ek by omdraai vir myself kan kyk en sê dat ek van myself hou!
Jou vlyt met woorde val op. Van waar?
‘n Mens moet versigtig met woorde omgaan. Dis emosionele wapens wat tolk, optof en diep kan sny. Wanneer jy woorde uiter, gee jy dit lewe. Jy moet dit dus verantwoordelik inspan. Ek voel dikwels gelei, of ek die woorde kan hoor wat ek vir ‘n spesifieke mens moet gee, hang ook af met wie jy praat en wat jy ontvang hoe jy sal reageer. Die gesegde waaraan my hart vasklou, juis ook in kommunikasie, is: ”Kan jy kies om reg óf om kind te wees, kies ALTYD kind.” Woorde toor met my, soos die mooi lirieke van Rudi Claase wat Juanita du Plessis sing “Tussen woorde lê daar soveel dankbare ure …” Woorde maak my opgewonde, soms vind ek woorde in Woordeboeke wat steeds te kort skiet!
Wat maak jou siel lag en maak vir ‘n vrek lekker Vrydag, wat met jou wese toor?
Ek lag my maklik oor ‘n mik. My siel lag baie, ook hardop en uitbundig. Ek kan ure spandeer aan goed wat vir my snaaks is. Soms gly my lag oor na huil en hartseer. ‘n Perfekte Vrydag is wanneer ek my vingers deur Louis s’n kan vleg en ons kan iewers stap, deur water, of op die gras lê met sy kop op my skoot. Ek geniet dit erg wanneer ons so naby aan mekaar is, net ons twee, hartlik-harmonieus sáám in óns tyd.