Sonnette Lombaard
Die JV-vennote van Forever Diamonds and Gold kan regskuif want met herfs wat amptelik ingeskop het, wag ‘n tydige feesseisoen soos min. Die minerale maatskappy gaan nie net sy voetspoor in Namakwaland en die juweliersbedryf aansienlik vergroot en uitbrei nie, maar ook sy vyande in verskeie hofsaksies kaalvuis pak én die Boervolk en sy bondgenote vir die toekoms sekuur rig.
Nuus vars uit die FDG-stal is dat ons grootbaas Louis Liebenberg reg sit om hopelik vandeesweek die juweliersreus Arthur Kaplan, wat 100 jaar oud is, te koop. Dit sal juwelierswinkels regoor die land in die FDG-stal plaas. Hy het die blink nuus vandag per lewendige uitsending op Facebook aan die maatskappy se JV-vennote bekend gemaak.
Louis is oortuig dat FDG voor einde 2024 al die myne in die land sal oorneem en binne 10-15 jaar die grootste maatskappy in die land kan wees wat dorpe gaan bestuur, ‘n nuwe Eskom daar gaan stel en deurlopend werk sal skep. FDG beplan ook om die blanke dorpie Eureka in Garies, wat in likwidasie is, te red. As ‘n dorps-enklawe is dit die regte model vir die Afrikaner se toekoms. Die sinergie van mense saam is eenvoudig onstuitbaar, glo die mynmagnaat.
Wyl die Afrikaanse media en vyande eentonig saam- en aankoor, snoer Louis smoele met sy blink planne van kreatiewe myn-mylpale, sinvolle politieke oplossings tot beoogde ekotoerisme wat wyd werk skep en daadwerklik hongersnood verlig. Dit bemagtig nie net alle Suid-Afrikaners nie, maar bou ook brûe tussen landgenote en laat almal deel in ons land se ruim skatte.
Louis is gatvol vir die volgehoue en verdraaide media-aanslag op hom, sy vrou, Dezzi en FDG wat saam met die likwidasie-mafia pateties volhard om sy ambisieuse planne vir die maatskappy en ons land in nood te rem. Hy het nou klaar gedreig en oorgeskakel na die hoogste rat. Sy onverdunde terugslaan-aksies skop vroeg April met mening af. Intussen is die bose likwidateurs vir eers uitgeskakel en rol die wiele reeds om ook Media24 in die Kaap kaalvuis te pak. Dié eens trotse Afrikaanse mediamaatskappy word vir miljoende rande se skadevergoeding gedagvaar. Louis wil in die hof elkeen van die bykans 300 berigte oor hom sedert Oktober 2022 as vals en feitelik verkeerd bewys.
Meer aangename nuus in die pyplyn is die maatskappy se beplande koop van die Kleinzee-gholfbaan aan die Weskus, asook die uitbreiding van FDG se wildsplase in Namaland waar die grasieuse gemsbok onder meer in volglorie in Moeder Natuur pronk. Boonop wink die ontwikkeling van die ongerepte kusgebied in Namakwaland waar FDG reeds op ‘n allemintige 144 000 hektaar van kus tot binneland al wyer met mening woel.
Inmiddels versamel Louis Liebenberg fluks bondgenote oor die volle kleurspektrum wat saam met hom en sy JV-vennote as ‘n span mekaar kan help en vir ‘n beter landstoekoms kan veg. FDG begin ook binnekort sy inbelsentrums landwyd uitbrei om verskeie, nuwe dienste van die maatskappy bekend te stel. Hy hoop om teen einde vanjaar 100 000 mense in die FDG-kraal te hê, wat daaglikse omsette tot R50 miljoen kan opstoot, volgens Louis.
Tussendeur skep Louis daadwerklik oraloor werk en help diegene wat sukkel met huisvesting en kos en klere. ‘n Leë gebou van drie verdiepings regoor FDG se hoofkantoor in Kemptonpark naby OR Tambo wat laas jaar bekom is, word juis tans opgeknap en ingerig om haweloses te huisves.
Met die nasionale verkiesingsdatum nou vir 29 Mei aangekondig, sal ‘n landwye veldtog geloods word om voorbrand te maak vir Louis en sy kringkoppe se planne om voortaan die Boer- en sy bondgenote se stem in die Parlement te laat dawer. Louis streef daarna om saam met mede-Boere te sorg dat die regte Afrikaners weer so gou moontlik hul regmatige, prominente plek in ons land moet inneem. Louis begin binnekort met ‘n toer wyd en syd om mense self van sy politieke planne te vertel.
Intussen het die JV-vennote reeds briewe ontvang om hulle in kennis te stel van die aansoek om sakeredding van Tariomix wat op Donderdag, 4 April 2024 in die hof in Mahikeng sal voorkom. FDG se saak sal deur prokureur Walter Niedinger en ‘n span top-advokate gelei word.
Die goeie nuus is dat die aansoek die likwidasie-boewe vir eers in hul spore stuit en hulle tot minstens dán nie meer kan plunder en/of ontwrigting saai nie. Louis het ook sy belofte herhaal dat Tariomix se vennote eindelik hulle geld sál terugkry.
Eerste aan die beurt wag egter die onstuimige politieke kryt want die landstoekoms is op die spel. Louis se Leierberaad word oor die naweek van 16-17 Maart in Pretoria gehou. Alle volksgenote wat belang het en/of wil hande vat vir ‘n verenigde toekoms om ons wankelende demokrasie te red, word daarheen genooi.
Volgens Louis sal die leiers en afgevaardiges wat oor die twee dae by Time Square in Menlyn saamtrek, deur verskeie leiers oor die volle spektrum toegespreek word en ook apart in groepe vergader om toekomsplanne te slyp. Kenners sal o.a. praat oor die moets en moenies by optogte n.a.v. die onlangse gebeure en tragiese gevolge in Groblersdal.
JV-vennote en ander belanghebbendes moet tydig bespreek. Alle etes en akkommodasie word verskaf. (RSVP: Nicky van Heerden by 074 069 4334). Volgens Louis sal die Leiersberaad ook aanstons in Kaapstad, KwaZulu-Natal en in Noordwes gehou word.
Hy het ‘n indringende beroep op eensgesindes gedoen om by die Boerelegioen aan te sluit om die aanslag vorentoe te versterk. Geen lidmaatskapgelde sal vir eers gehef word nie.
Die soetste sege waarheen gemik word, is ongetwyfeld die likwidasie-hofsaak wat op 4 April in die hooggeregshof in Mahikeng aangehoor word. Die konkelmaniere waarop die slinkse likwidasie-mafia vanaf ‘n jaar gelede ‘n verwoede aanslag op FDG geloods het, laat ‘n wrang, bitter smaak.
Dit het gelei tot die voorlopige likwidasie van Tariomix en het vertroue in FDG geskaad. Verskeie ongure en gewapende beslagleggings oor maande op FDG se kantore en persele, asook teistering van personeel, selfs tuis, het gevolg.
Die sakereddingaansoek word gebring deur drie JV-vennote wat die voorlopige likwidasie van Tariomix teenstaan. Die besigheidsplan wat voorgelê word, word deur die maatskappy se myne gefinansier. Uitstekende produksie sover vanjaar, asook toekomsvooruitsigte by die FDG-myne oor ‘n reuse-gebied in Namakwaland is belowend.
Louis is oortuig die hof sal insien dat Tariomix se likwidasie nié in belang van die JV-vennote is nie en dat die likwidateurs op 4 April van hulle magte ontneem sal word. Die sakereddingsplan is ook by Sars ingedien, wat eweneens Tariomix se voorlopige likwidasie teenstaan. Alle JV-vennote gaan baie beter af wees met die sakereddingsplan as met likwidasie, verduidelik Louis.
Die maatskappy is geruime tyd besig om sy produkte wyer onder landgenote te bemark en mik vir 100 000 vennote wat aktief teen einde 2024 sal inkoop. Dit sal noodsaaklike uitbreidings by die FDG-myne finansier waar die ontginning van die gesogte swaar minerale wag. Dit beloof opbrengste van triljoene en sal diamantproduksie as hoofinkomstebron onttroon
Die Afrikaners en sy bondgenote soek g’n tuisland nie, meen Louis. Hulle het reeds ‘n diamanttuiste gevind in Namaland en sy Weskus. Die mynmagnaat droom groot om dié afgeleë en beeldskone landstreek tot sy volle reg te laat ontwikkel.
Eerste is die aankoop van die Kleinzee-gholfbaan waarin JV-vennote kan deel. Ook die uitbreiding en inrig van die wildsplase aan die Weskus wat reeds in FDG se besit is. Gemsbokke en njalas kom hier vry voor en beoogde verblyf- en oornaggeriewe sal vorentoe jagekspedisies en ekotoerisme moontlik maak.
Hiermee bevestig Louis sy verklaarde voorneme om ‘n positiewe verskilmaker in ons volk en land se toekoms te bly. Wyl armoede en hongersnood toeneem en baie myne tans sluit, kom hy met werkbare oplossings, brei uit, skep werk en sit ekstra rande in sy landgenote se sakke en dit wyl bankrotskap vir vele Suid-Afrikaners wink.
Louis beoog om vandeesweek ‘n paar busse vol JV-vennote na blanke plakkerkampe in Pretoria en omgewing te neem om eerstehands die verslegtende situasie waar te neem.
Die tyd is ryp vir Suid-Afrikaners om reg te posisioneer want die aanslae uit alle oorde vererger. FDG se mynbedrywighede bly uitbrei en met beter en meer tegnologie en toerusting slyp die maatskappy en sy vennote vir ‘n skittertoekoms.
Die som is eenvoudig, verklaar Louis. Uit die kloue van die likwidateurs, en die myne fluks produktief, tel handel nou mooi op. Hy verwag ‘n sterk opwaartse kurwe in die diamantprys en FDG se ophoop van silwer en goud wat wys teruggehou is, gaan almal deurdra.
Meer belangrik, FDG se wenplan weerspieël in sy goeie uitbetalings – jy kan nêrens anders beter doen nie. Word dus deel van FDG se wenspan en suksesverhaal. Voorwaarts!
WoW, dis ‘n mondvol storie, en ek glo regtig diè sakeman het die guts om enige plan/droom, whatever, van hom te laat waar word. Louie Liebenberg het nou al oor en oor bewys watter goeie sakeman hy regtig is.
Sy geveg teen media24 gaan vir my ‘n persoonlike kersie op die koek wees, want daar was teen my diskrimineer. So ek wens hom sterkte met dardie hoofstuk,
Die Waarheid sëevier altyd, likes dit of nie…