Karoo-stories met ‘n Kinkel – deur Koos Roets
As jy jouself as een van die karakters herken, voel gevlei.
Mamma is in die kombuis doenig toe Vinni en Rot met sakke kruideniersware ingestap kom. Hulle plak dit op ‘n tafel neer. Die maer ou tante is ‘n tipiese Italiaanse mamma en in haar tradisionele swart gewaad herinner sy nogal aan ‘n kraai. Sy is hardhorend en praat ‘n mengsel van Engels, Italiaans en Afrikaans. Die Bertellis kon nie kinders van hulle eie kry nie, en soos julle reeds weet, het hulle toe mos vir Vinni aangeneem.
Met opskeplepel in die hand beduie Mamma. “Look at you, my poor Vinni! Don’t you eat? Wil jy ‘n bordjie chicken pasta hê?”
Vinni skud sy kop en vee die sweet van sy voorkop af. ”Nee dankie, Mamma”.
Sy bak haar hand agter haar regter oor en Vinni herhaal sy antwoord nou heelwat harder en ongeduldiger.
Mamma draai na Rot. “And you Rot? Die polli is no good in this place maar ek traai my best. I still have some good Parmasan wat uncle Carlo gebring het from vecchio paese … the old country.”
“Nee dankie, Mamma.”
Weer die bakhand agter die oor. Rot leun oor en herhaal.
“Doesn’t it ever rain in this town? Dis wat verkeerd is met die chickens, they want pioggia, rain.”
‘n Geïrriteerde Vinni waai hom koud met die Panama. “Ons het ‘n verdomde hittegolf en ‘n droogte Mamma.”
“A drought? Moses and the Israeliti, they also had a siccitá … a drought maar hulle het vet pollo … chickens gehad.”
Mamma plonk ‘n enorme bord met hoenderpasta voor Vinni neer en strooi ‘n handvol parmesaankaas oor. “Eat.”
“Om vadersnaam, Mamma! Ek’t nou net brêkvis gehad en dis nog nie eers twaalfuur nie!”
“You rather want some torta … cake?”
“Nee ek moet gaan, ons het net Mamma se groceries kom aflaai.”
Vinni stryk sy baadjie reg en skiet ‘n paar denkbeeldige rafels van sy skouer af.
“You should get a nice girl Vinni, get married, have bambinos. Dan sal jy eet.”
“Ja Mamma.”
Vinni plak die Borsalinno op sy kop en rankskik dit sorgvuldig in die spieël.
“Don’t forget my black material, Vinni!”
“Yes Mamma, ek sal dit vanaand vir Mamma bring. Kom Rot.”
Nadat Vinni uit die skool is het hy met die erfgeld van ou meneer Bertelli ’n scrapyard in Port Elizabeth gekoop en so daarmee gewoeker dat hy ‘n paar vistreilers kon koop. Van die hofsake en aantuigings dat hy by die Hermanus-perlemoensmokkelary betrokke was, weet ek nie veel nie. Wat ek wel weet, is dat hy oornag ‘n man van aansien geword het.
********************************************************
Die ou Mercedes kom hortend met knarsende remme voor die Klaarstroom poeliesstasie tot stilstand. ‘n Swetende Daantjie klim uit en gaan op ‘n drafstap die gebou binne.
Sersant Winston is besig om met groot toewyding tuisgemaakte appelkooskonfyt op ‘n enorme skon te smeer. Sonder om op te kyk, begin hy die gesprek. “Het jy hom toe afgelaai?”
“Hulle wil hom nie hê nie.”
Sersant steek ‘n lepel vol konfyt in sy mond. “Wie wil hom nie hê nie?”
“Prins Albert.”
Winston Montgomery lek die lepel netjies af, vee die konfyt op sy snor tydsaam met ‘n servet af en sug. “In die lewe wou Henri se vrou en kinders hom nie hê nie en in die dood wil Prins Albert hom nou ook nie hê nie”.
Daantjie begin weer stres. “Wat maak ek met hom? Ek dink hy begin al te stink.”
“Jong, dan sal jy hom so gou as moontlik by Oudtshoorn moet kry.”
Daantjie se stresvlakke styg die rooi in.
“Dis al opsie, Daantjie.”
“Hoekom moet ek met die dêm man opgeskeep sit?”
Sersant wys beskuldigend met sy vinger na Daantjie. “Omdat jy die fight gepick het, dis hoekom! En jy moet my nou verskoon, ek’s op tee en ek moet nog ‘n verslag skryf en dit voor lunch wegkry George toe.”
Daantjie wil nog iets sê, maar besluit om eerder sy woorde te sluk voor hy en die geregsdienaar in ‘n bekgeveg opeindig en wat dan weer maande se spanning gaan beteken. Hy draai om, stap die poeliesstasie uit en doen wat elke regdenkende Klaarstroomer in soortgelyke tye van ellende en wanhoop doen – hy stap hotel toe en klok by die Ossewa Bar in.
Skeel-Bert groet. As barman en dus kenner van die menslike siel, sien hy dadelik die ellende in Daantjie se gesig raak. Hy hou op om aan ‘n bierglas te poets. “En nou? Wat’s nou verkeerd?”
“Nou moet ek met Henri Oudtshoorn toe neuk!”
“Oudtshoorn toe?”
Daantjie knik. “Maak dit ‘n dubbel, los die Coke en gooi ‘n enetjie vir ou Henri ook.”
Skeel-Bert skink ‘n dubbel-Klippies, plak dit voor Daantjie neer en begin skink aan Henri se dop.
“Stop, stop! Het ons dan geen respek vir die afgestorwende nie?” ‘n Beswaarde Daantjie keer met sy hand omhoog.
“Hoekom?”
“Dink ‘n bietjie.”
Skeel-Bert dink, maar die tor skop nie ‘n antwoord uit nie. “Nee jong, ek weet nie.”
“Wat het ou Henri altyd gedrink?”
“O hel ja – Viceroy! Sorry Henri!”
“Ons moet die man se nagedagtenis eer! Tragies nê, hy’s nog nie eers koud nie en sy nagedagtenis is al klaar aan die vergete!”
Skeel-Bert gooi die Klidrif versigtig terug in die bottel en skink ‘n dubbel Viceroy. Daantjie tel die glas op, salueer plegtig en gooi Henri se dop in sy keel af. “Cheers my ou maat.”
Dan lig hy sy eie sy dop. “Hierdie een is op jou, Henri! Mag ons reis Oudtshoorn toe voorspoedig wees en mag hulle jou daar met ope arms verwelkom!”
Dié dop is net so spoedig in Daantjie se keel af.
***************************************************************
Danksy Pieter du Toit se boek, is Stellenbosch deesdae bekend vir sy Boere Mafia, maar Oudtshoorn staan self nie terug nie. Danksy die groot groep Italiaanse oorlogsgevangenes wat na die oorlog hier agtergebly het, het die dorp allerlei vertakkinge en grade van Mafiosta wie se maniere op die plaaslike mense afgevee het. Franki van der Merwe is een van dié. Vandag is hy die gladde, groot kokkewiet wat die drom in Oudtshoorn slaan. Hy was destyds in Standerd Nege – nadat hy Standerd Agt twee keer diep gedop het – toe sy pa, wat byna elke tweede eiendom in die bo-dorp besit het, vir hom ‘n swart Ford Mustang koop. Dit was die model met ‘n V8, nie een met die amborstige sessilinder enjins nie. Daar was ‘n paar wit ‘challenge’-strepe wat van voor tot agter oor die swart gevaarte geloop het en aan die vier wiele ‘n stel oorgroot Michellin bande. Die gevolg hiervan was dat hy wat Franki is, oornag ernstig aan ‘American gangster’ koors begin ly het. Alhoewel hy lees nog altyd as tydmors beskou het, het hy nou alles wat hy oor Al Capone en Babyface Nelson en Machine gun Kelly en die lotjie in die hande kon kry, verslind.
Eintlik is hy maar net plein ‘Koot’, na sy oupa aan moederskant vernoem, maar nes Vinni, het hy homself na Franki herdoop, vermoedelik na Francesco Costello die berugte mafiabaas. Met dié naamsveranderander het ‘n dik laag donker streke bygekom. Nie te lank daarna nie, het hy morsig ryk geërf. En deesdae is hy ‘n arrogante klein stront wat hom kort-kort aan die verkeerde kant van die wet bevind en sonder skrome met al wat owerheid is, swaarde kruis. Wetsgetroues en -ontroues is versigtig vir hom, bly uit sy pad en maak hulle vinnig uit die voete as dit die geringste lyk of hulle pad met syne gaan kruis.
Presies op die oomblik toe Rot die Mercedes parkeer, kom Franki met sy paar two-tone skoene, wit Panama-hoed en pikswart snyerspak uit Tattersalls gestap, sy twee trawante kort op sy hakke.
“O shit!”
“Wat’s dit Meneer?”
Vinni wys benoud na Franki en sy twee handlangers.
“Dis net Franki en sy ape, meneer.”
Vinni vervies hom. “Dankie Rot, ek het oë!”
Dis duidelik dat Vinni ‘n rooiwarm breinaald in sy oog bo ‘n ontmoeting met Franki verkies. Wegkomkans is daar nie meer nie, want Franki wuif en kom flink nader gestap. Vinni vee die sweet van sy gesig af, steek sy hand uit en groet met aangeplakte vriendelikheid.
“Franki.”
“Vinni!”
Franki vee weer ‘n slag met ‘n enorme sy-sakdoek oor sy gesig. “Hierdie hitte gaan my nog graf toe stuur, dis onhoudbaar.” Vinni wens heimlik dat Franki se voorspelling waar word.
“Ja ons kan doen met ‘n bietjie reën.”
Franki beduie na sy selfoon. “Ek wou jou nou net op die blower kry om te hoor hoe dit met die klub se reëlings gaan.”
Vinni gee ‘n droë sluk. “O.”
“Hulle’t lekker aircon by die Black Swan, hoekom gaan eet ons nie ‘n volstruis-steak nie?”
Vinni knik.
“Right sien jou daar, dan praat ons.”