Sonnette Lombaard
Praat nou van ‘n Babelse verwarring. In die jaar 2024 baljaar Kunsmatige Intelligensie (KI), of kortweg in millenniumtaal AI, wyd. Dan skielik ‘n blikbrein se brabbeltaal-bokkerop wat die mensdom mesmeraais …
Gebruikers van OpenAI se hoogsgewilde aanlyn-kletsbot ChatGPT kon hul oë nie glo nie. Dié tot nou betroubare eietydse hulpmiddel – ‘n vorm van generatiewe KI – word daagliks ywerig deur miljoene gebruikers ingespan. Gebruikers voer boodskappe in, wat dan supervinnig in KI-geskepte menslike beelde, teks of video’s omgeskakel word.
Als met die druk van net een knoppie, super gebruiksvriendelik in ‘n besige wêreld dus. Maar o wee, wat as dié “foutlose”, slim blikbrein opstêrs of koekoes raak?
Maar wyl OpenAI indringend ondersoek doen na die vreemde gedrag van sy aanlyn-kletbotsprogram laas week, het een van die mensdom se gewildste handelsmerke nou ook op die in-aanvraag AI-wa gespring.
As ‘n blikbrein jou dus nie kan opwarm nie, is ‘n yskoue blikdrankie dalk net die klingelding. Coke se KI-geskepte futuristiese toekomsproe weergawe, is sedert die Lente vir ‘n beperkte tyd op rakke oral. Ook hier by ons.
Ek het eers onlangs hieroor gelees. Intussen geproe en my mensgegenereede sintuie het vinnig een woord suiwer uitgespoeg: onlekker!
Maar dan onthou jy Coca Cola het juis in die vorige eeu as ‘n medisyne-drankie in die Amerikaanse suide gedebuteer. Apteker John Stith Pemberton van Atlanta in Georgia het dit aan olike mense gegee om te drink. Bykans 140 jaar later is sy oorspronklike resep steeds hoogsgeheim.
Die pienkerige blikkie waarin die nuwe futuristiese gasdrankie kom, is weliswaar verfrissend. Vermoedelik aspris ‘n astrante “afwyking” van ‘n beproefde resep – Coke is mos puur rooi! Maar ons praat van 21ste eeu-vooruitgang teen ‘n tempo. Seker wensdenkery dat die vyfde gewildste en grootste handelsmerk in die wêreld nie in gelid met die massagerigte millennium sou inval nie?
Nietemin, Coca‑Cola® Y3000 Zero Sugar se pienkerige blikvoorkoms verklap glo “in gelyke maat ‘n futuristiese en optimistiese visuele identiteit”. Die kleurveranderinge beklemtoon ‘n positiewe toekoms met ‘n ligkleurige palet wat viool, magenta en sian teen ‘n silwerbasis insluit vir ‘n futuristiese gevoel.
Boonop beloof die futuristiese geur ‘n “KI-aangedrewe ervaring”. Maak my skoon bly ek gaan nie leef tot daai 3000-mylpaal nie. Die sy-tyd-vooruit-brousel se smaak laat my teenswoordige palet lou.
Die Coca-Cola maatskappy het die beperkte KI-geskepte weergawe geloods sodat hulle miljoene aanhangers hulle kan verbeel hoe die toekoms sal smaak. KI moes dus help om die toekoms deur emosies, aspirasies, kleure en geure te voorspel. Die perspektiewe van Coke-bekeerdes van regoor die wêreld is gekombineer met insigte versamel van kunsmatige intelligensie om die unieke smaak van Y3000 te skep.
O ja, en die ikoniese Spencerian-bewoording bevat, lees ek, “’n gekoppelde matriks met vloeibare stipgroeperings wat saamsmelt om die menslike verbintenisse van ons toekomstige planeet voor te stel”. Aitsa!
“Ons hoop Coca-Cola sal nog net so relevant en verkwikkend wees in die jaar 3000. Ons het onsself uitgedaag om die konsep te verken van hoe ‘n Coke uit die toekoms mag proe en watter soort ervarings dit kan wek,” lui ‘n mediaverklaring.
Die suikervrye aanbod is vir ‘n beperkte tyd beskikbaar in gekose markte, insluitend die VSA, Kanada, China, Europa en Afrika.
Terug na ChatGPT se verskeidenheid aanlynblapse laas week. Die rekenaarprogram het uit die bloute oorgeslaan na brabbeltaal en selfs Latynse en oud-Spaanse woorde gebruik – beide word beskou as “dooie tale”, wat grootliks in onbruik verval het.
ChatGPT se reaksies op ingevoerde versoeke boots normaalweg menslike spraak na. Vermoedelik is die program se algoritmes wat die fokus en kreatiwiteit van die reaksies beheer, die sondebok.
Dié tegniese probleme het daartoe gelei dat ChatGPT vir ure nie reg gefunksioneer het nie. Soos ‘n stout kind het dit “onvoorspelbare gedrag” getoon en inligting is herhaal of was onrelevant, wyl brabbeltaal gedy het.
Gesien die moderne mens se toenemende afhanklikheid van die kuberruim, het die KI-glips opslae gemaak. Weer onderstreep dat AI nié volmaak en/of foutloos is nie. Of moet ek veiligheidshalwe bly by … nog nie.
KI-stelsels word deur mense ontwerp en geprogrammeer om spesifieke take uit te voer en besluite te neem met die data en algoritmes aan hulle voorsien. Hoewel KI-stelsels kan leer en hul prestasie oor tyd verbeter, werk hulle steeds binne die parameters, bepaal deur hul menslike skeppers.
Punt, kunsmatige intelligensie, soms ook genoem masjienleer, is die samewerking tussen mens en masjien. Dit benodig menslike insette en kundigheid – tegnies en andersins – om volle potensiaal te bereik.
Die KI-stelsels steun op data vir leer en aanvanklike opleiding, maar kan wel selfstandig werk nadat hulle opgelei is. Data-opdaterings en regstreekse insette om akkuraatheid en aanpasbaarheid te handhaaf, kan nodig wees.
Bogenoemde is nou die etiese manier. Almal weet teen nou van die gevare van AI, wat vrese in ‘n oorlogbelustige samelewing aanblaas. Want iets wat KI gebruik, kán geprogrammeer word om te vernietig. Soos “outonome wapens” om mense in oorlog of stedelike terreur te dood.
Ander hedendaage risiko’s sluit in krakerskending of steel van verbruikersprivaatheid, onduidelike wetsregulering en die outomatisering van werk wat reeds tot mensoorbodigheid lei. Die verspreiding van vals nuus of fopnuus is ‘n liederlike tentakel van die KI-era wat stewig in ons daaglikse bestaan vastrapplek gekry het.
Die magtige vermaakarena frons ook al meer oor AI. Met gevorderde KI loop vrese dik van oorspronklikheid in die kreatiewe proses verloor omdat KI artistieke style en stemme kan naboots. Die eerste AI-sterre pronk reeds aanlyn. Kulturele toe-eiening wanneer KI gebruik word om kuns te skep, bly ook ‘n taaie toffie.
Daarteenoor is KI superwaardevol in die mediese wetenskap waar dit o.a. eens ondenkbare en lewensreddende teaterprosedures en pasgemaakte medikasie moontlik maak. Dit speel ‘n toenemende kernrol in die mens se versugtinge om langer en gesonder te leef.
In die letterkunde en taalveld woeker AI ook fluks met KI-gegenereerde boeke, digbundels en flieks wat debuteer. En ek kan getuig die rekenaarstem as outeur in die Afrikaanse letterkunde, oftewel Afrikaanse robottaal roer jou! Dis dalk gesigloos maar wek warm-intelligente roerwoorde wat nuwe weë skep.
In werklikheid gebruik Facebook en elke sosialemedia-platform op die planeet ook KI om te funksioneer. KI bepaal bv. watter inhoud in jou nuusvoer verskyn. En dit modereer kommentaar en inhoud om gebruikerservaring te verbeter.
Ja, liewe leser, die ordelike mensdom soos eens geken, is op die kop! Hoe ons ookal daaroor verskil, KI gaan nie verdwyn nie. As ‘n eietydse skepping van die skrander menskind, verander dit ons speelveld onherroepelik. Vir goed. Soos ‘n helder vuur, hol dit voort. Ons moet koes en klou om by te hou, om, wel, nie deur ons eie slimgeit getroef te word nie. Omdraai is lankal verby, Mars wag!
Dankie Sonnette.
Lekker om jou artikels te lees.