DIRK LOTRIET
Ek het my vriend Derick gister vir die eerste keer in twee weke gesien.
Dit het my hart gebreek, want hy het soos ‘n zombie gelyk. Sy wakker oë dood, sy maklike glimlag weg, asof hy dit in die Wes-Kaap by sy ouers vergeet het.
“Ons probeer alles,” sê Louis Liebenberg, die bekende diamanthandelaar, -myner en filantroop. “Ons het selfs ‘n versorger gehuur om dag en nag na hom te kyk, seker te maak dat hy nie pille drink nie. Hy beskerm Derick teen homself. Hy soek oral – deur tasse en kaste – vir pille. Hy kom nie eers agter dat hy dit oop en bloot voor ons almal doen nie.”
“Derick kan op die oomblik glad nie na homself omsien nie. Toe ons hom in ‘n hotel in Pretoria kry, kon hy nie eers sy tas pak nie. Daar was slaappille oral. Hy sou weer in ‘n koma of semi-koma ingegaan het. Ek vrees dat hy homself sal doodmaak.”
Die pille waarvan hy praat, is nie die een of ander sinistêre dwelmmiddel nie. Dis ‘n soort slaappil wat algemeen voorgeskryf word. Derick se stryd teen voorskrif-slaapmedikasie is geen geheim nie – daar is al heelwat in die nasionale media daaroor geskryf.
“Ek het die goed in my rugbydae begin drink,” het Derick een maal vir my vertel. “Jy vlieg uit Suid-Afrika uit Nieu-Seeland toe. Daar gekom, is jy skielik in ‘n hele ander tydsone – jou lyf wil nie slaap nie, dan drink jy maar ‘n slaappil, want jy moet oefen, jy moet speel… En ‘n week later vlieg jy terug Suid-Afrika toe … weer slaappille. Dan Argentinië toe … terug Suid-Afrika toe, dan Australië toe. Elke keer in ‘n heeltemal ander tydsone, en elke keer moet die slaappille jou red, want jy moet uitgerus wees as jy op die veld draf.”
“Daai spesifieke soort pille is gif,” het my broer vir my vertel. Hy was ‘n apteker, maar het later ‘n doktorsgraad in farmakologie verwerf. “Dis hoogs verslawend. Hoogs! En as jy dit saam met sekere pynpille drink, kan dit jou in ‘n koma sit.”
Ek het met my vriend Derick gesien hoe styf daai pille vashou as dit jou in sy kloue het. Louis het al meer as een keer betaal vir behandeling in ‘n rehabilitasiesentrum. Die pille wou nie laat los nie.
Soms het dit gelyk of Derick die stryd teen die pille begin wen. Dan was hy die joviaalste, aangenaamste mens wat jy jou kon indink. Goed opgevoed, gemanierd… Ander kere het die pille die oorhand gekry. Dan was Derick in sak en as. Die laaste tyd het die pille die meeste van hulle wedstryde begin wen…
***
Ek is een van min mense na aan Derick wat weet watse berg hierdie tipe van verslawing is. Jare gelede kon ek nie nee sê vir ‘n drankie nie. Die goed is wonderlik vir ‘n ekstreme introvert soos ek. Dit help jou om uit jou dop te kruip, dit maak dit maklik om met mense te gesels. Kortom, dit maak jou ’n baie meer sosiale mens.
Gaandeweg het ek al hoe meer begin drink. Reeds in die oggend op pad werk toe. Etenstyd. Na werk. Soms kon ek nie eers onthou hoe ek by die huis gekom het nie.
My destydse vrou het begin kla, en om die vrede te bewaar, het ek skelm begin drink. Ek het later selfs ‘n paar halfbotteltjies tussen die uie in my groentetuin weggesteek. Vandag huil ek in my hart as ek terugdink aan die hel waardeur ek die arme vrou gesit het.
Later het dit te veel vir haar geword, en sy het my net daar tussen die oorblyfsels van die bos sonneblomme wat ek vir haar gebring het op die kombuistrappies gelos. En toe drink ek eers!
Totdat ek besef het ek is besig om myself dood te drink. Ek het een oggend in die spieël gekyk en besluit dis die einde. Ek het werk toe gegaan en met die vrou van HR gereël dat ek by ‘n rehabilitasiesentrum ingeboek word.
Die plek het ‘n multi-dissiplinêre benadering gevolg en ek het elke dag ‘n sielkundige gespreek en elke tweede of derde dag ‘n psigiater.
“Drank sou jou doodmaak,” het die sielkundige eendag vir my gesê. “Dalk regstreeks, met iets soos lewerversaking. Dalk indirek, soos dat jy met die verkeerde vrou geslaap het – haar man kon jou skiet, jy kon ‘n dodelike siekte opgedoen het. Jy kon dronk bestuur, of besope voor ‘n vragmotor inloop. Jy kon van trappe afgeval het … maar drank sou jou doodmaak.”
Dit het my geskok. “Dink jy ek gaan dit regkry om op te hou drink?” het ek dié middag vir die psigiater gevra.
“Dis baie moeilik,” het hy gesê. “Drank en heroiëne het ‘n geweldige lae suksessyfer as dit by rehabilitasie kom – net 19%,” het hy geantwoord.
“Ek bedoel spesifiek ek. Dink jy ek sal dit kan doen?” het ek weer gevra.
“Eerlike antwoord?” het hy gevra. Ek het geknik. “Nee, het hy gesê. Ek dink nie jy sal dit regkry nie.”
“F** jou, ek sal jou wys,” het ek vir hom gesê.
Ek is deur die onttrekkingsimptome. Ek het ‘n oulike blonde vrou daar ontmoet. Ek het haar een keer gesien nadat ons ontslaan is. Sy het weer begin drink. Twee weke later is sy dood.
Ek het ‘n ander pad werk toe begin ry om nie by my gewone drinkplekke verby te ry nie. Ek het my drinkebroers vermy. Dag vir dag… Dis nou 22 jaar later en ek het nie een druppel alkohol in daardie tyd gedrink nie.
My vrou het later teruggekom, maar dit het lank gevat voordat sy my soberheid vertrou het. Ons was nog 14 sober jare saam – baie daarvan baie gelukkig.
Derick sal dit ook sien as hy die pille kan klop. Mense vertrou jou soberheid glad nie. Jy moet hulle vertroue wen. Maar f** hulle, ons sal hulle wys!
***
Louis sê Derick drink brandewyn as hy nie pille kan kry nie. Baie – amper ‘n bottel vol.
My tweede vrou was nie verbaas toe ek haar daarvan vertel het nie.
Sy is ‘n regte geitjie, nes Derick se Nadine.
Maar ek het gewedig baie respek vir my nukkerige merrie. Ek ken nie nog ‘n mens met soveel innerlike krag nie. Sy het heroïeneverslawing oorwin. En ook alkoholisme. 19%… en weer 19%.
“Die dokters het vir my ouers vertel die beste ding wat hulle kan doen, is om vir my ‘n begrafnispolis uit te neem. Ek was in baie rehabs. Uiteindelik is dit net die wil van die verslaafde wat die deurslag gee, maak nie saak hoe hard hoop die mense om hom wat vir hom lief is nie. Ek weet waar Derick is. Hy veg op die oomblik vir sy lewe. En hy weet dit nie eers nie.”
My tweede vrou vertel dat sy soms so desperaat geraak het dat sy haar met enigiets ingespuit het. “Enigiets! Selfs een keer met mayonnaise. Ek het gehuil omdat die mayonnaise gesukkel het om deur die naald te gaan. Derick is nie ‘n alkoholis nie. Drank is sy mayonnaise.”
Uiteindelik is sy is ses weke na ‘n rehabilitasiesentrum naby Pietermaritzburg gestuur. “Na ses weke het ek gesê ek is nog nie reg nie. Eers na vier maande is ek daar uit. En toe begin die stryd eers regtig.”
Vanjaar sal dit 20 jaar wees wat sy die heroiëne-duiwel die nek ingeslaan het. En byna 10 jaar wat sy alkohol oorwin het. Daai begrafnispolis sou ‘n vrot belegging gewees het.
Sy het ‘n vriendin gehad wat saam met haar met heroiëne eksperimenteer het en saam met haar verslaaf geraak het. Sy is in die rehabilitasiesentrum in Naaupoort getroud. Haar vriendinne – my vrou inkluis – het met die trein na haar troue toe gery.
Ek het haar byna tien jaar gelede ontmoet. Haar lewe was agtermekaar, sy was ‘n goeie vrou vir haar man en ‘n goeie ma vir haar twee kinders. Sy het ‘n grinterige stem gehad en mens kon sien sy is fyn opgevoed.
Na 17 skoon jare het sy skielik weer heroiëne begin gebruik. Sy het ‘n baba gehad en het nie geweet wie die pa was nie. Binne ‘n jaar is sy dood.
***
My vriend Derick se ma het op die foon gehuil toe sy met hom gepraat het, maar sy ondersteun die hulp wat Louis aan haar seun gee, volkome.
Sy pa ook.
Ek dink dis een van die moeilikste goed op aarde om ‘n verslaafde mens in jou huis in te neem en na hom te kyk. Ek weet – ek was een. Maar Louis het nie ‘n oomblik geskroom nie.
“Ons wil ‘n lewe red,” het sy vrou, Dezzi, aan my gesê. “As ons hom nie gehelp het nie, was hy dood,” sê Louis.
En ek glo dit. Ek het immers self beleef hoe verslaafde mense na aan my en na aan my vrou sterf. En ek weet, en my vrou weet, dat dit net genade is dat ons nog asemhaal.
Gelukkig weet ek Louis het ‘n oop hand en ‘n oop beursie – soms heeltemal te oop – as dit daarby kom om mense in krisistye te help. Soos nou weer vir Derick.
Ek weet hy kan dit seker bekostig. Nes ek weet ons kan nie een bekostig dat iemand soos Derick nie gehelp word nie.
Tog is daar net so bitter min mense wat bereid is om arm uit die mou te steek as dit by ander se swaarkry kom. Maar Louis doen dit – nie net met sy beursie nie, maar hy het ‘n verslaafde in sy huis geneem om te help. Dit laat my dink aan ‘n storie wat ek een keer gelees het oor ‘n barmhartige Samaritaan.
Ek het gisteraand ook weer ‘n storie gelees oor die sogenaamde omstrede diamantsmous Louis Liebenberg wie se skuld dit kwansuis is dat Derick en Nadine se verhouing op die rotse is.
Oor die paar jaar wat ek Derick ken, moes ek baie maal troos nadat Nadine die sagte rugbyheld weer afgeknou het.
Ek het nie een keer gesien dat Louis haar dwing om Derick te boelie nie. Ook nie om vir Derick emosioneel af te skeep nie. Louis het ook nie die jaar voor Derick se koma en die maande daarna die foto’s van die gelukkige paartjie van haar Facebookrekening gevee nie.
Dalk, net dalk, is dit glad nie Louis se skuld nie.
Maar as Derick eendag die stryd teen daai slaappille wen met ‘n strafdoel in beseringstyd en honderde jonger Nadines kyk met sterre in hul oë na Loftus se Liefling, sal dit beslis Louis se skuld wees.
En my hart sal swel van trots op hulle albei.