Isaac Cloete
‘n Namakwalandse atleet het die naweek weer gewys dat hy so vinnig soos ‘n windhond kan hardloop.
Brentlee John Damon, oorspronklik van Bergsig naby Springbok, het die afgelope naweek aan die Curro Podium spele in Gauteng deelgeneem.
Hy het die 100m in 10.86 afgeblits. Hierna was hy ook bobaas in die 200m met ‘n ewe indrukwekkende 21.83.
Saterdag se wedlope was tydens die Curro Podium atletiekbyeenkoms op die Pilditch-stadion in Pretoria, waar honderde van Suid Afrika se top skole-atlete deelgeneem het.
Die 16-jarige is tans ‘n leerder aan die Hoër Jongenskool Paarl (Paarl Boys’ High) in die Boland. Dis ook hier in die Paarl, waar sy atletiek nou so gedy.
Tydens ‘n byeenkoms by die UWC-FHS Top 15 Challenge in Bellville gedurende September, 2023, het Damon en Naheem Jack die eerste plek gedeel in die 100m O/17 met ‘n tyd van 11.20. Die afgelope Saterdag het hy dit met ‘n yslike 0.34 sekondes verbeter.
In Oktober het Damon (O/16) silwer in die 200m behaal tydens die Grey/Oranje uitnodigingsbyeenkoms in Bloemfontein.
Tydens ‘n onderhoud na die byeenkoms het Damon gesê dat hy net in homself glo en nie plaaslike helde in die naellope het nie. Hy glo eerder dat Usain Bolt groot indruk op hom gemaak het.
Brentlee het sy laerskoolloopbaan in Mbombela begin, waarna hy by die Curro-skool in Durbanville aangesluit het.
Hy het verder vertel dat sy suksesse sover veral aan sy familie asook vriende op sy tuisdorp te danke is.
Sy pa, Brenden Ruiter, oorspronklik van Nababeep, was nie bietjie trots op sy vinnige spruit nie.
“Brentlee het sy persoonlike beste in die 100 en 200 gehardloop. Alles ‘n uitvloeisel van sy deursettingsvermoë en harde werk. Dis ‘n kêrel wat oefen of dit nou ‘festive’ is of nie,” het hy spoggerig gesê.
* Akani Simbine se junior rekord in die 100m is 10.19, wat hy meer as tien jaar gelede opgestel het.