Karoo-stories met ‘n Kinkel – deur Koos Roets
As jy jouself as een van die karakters herken, voel gevlei.
Hyme blaai vir ‘n paar oomblikke deur die stapel dokumente voor hy met ‘n sug opkyk. “Vinni … ek’t slegte nuus, hulle’t jou aansoek afgekeer.”
Vinni trek sy oë op skrefies. “Afgekeer? Vir wat?”
Rot maak sy dun nekkie styf. “Dit moet ‘n fout wees, niemand keer meneer Vinni Bertelli se aansoeke af nie.”
“Well they just did, Mister … uh … Rot.”
Geïrriteerd skiet Vinni ‘n paar denkbeeldige rafels van sy spoggerige Borsalinno Panama af. “Ek moet sê ek’s nie baie beïndruk met jou hantering van die saak nie, Hyme. Hoe moeilik kan dit nou wees om ‘n dêm lisensie te kry? En dis nie asof ek jou peanuts betaal nie, jy weet!”
Vinni sit sy hoed op terwyl hy opstaan. “Sorteer die ding uit en laat my weet wanneer ek weer moet inkom om te teken.” Hy loer in die spieël en draai die Panama versigtig ‘n aks na links.
Hyme sug. “Jy verstaan nie, Vinni.”
Vinni swaai driftig om. “Verstaan nie wat nie? Wat is nie te verstane nie?”
“Jy gaan nie daai lisensie kry nie.”
“Vir wat nie?”
Hyme skud sy kop. “Daar is deesdae ander mense in beheer. Nuwe mense.”
“Nou betaal hulle wat hulle wil hê, my magtig man! Kom Rot.”
“Bribes werk net nie meer nie en vandat jy terug is in Oudtshoorn, was jy waaragtig nou ook nie ‘n engeltjie nie.”
“Nou wat het ek nogal so danig verkeerd gedoen?”
Hyme tel op sy vingers af. “Nommer een. Daar’s die klag van aanranding.”
Vinni raak nou warm om die kraag. Hy swaai ‘n PW voorvinger. “Moenie jy met my oor daai blêddie vent praat nie!”
“Daai ‘blêddie vent’ moes sewe steke in sy wang, drie op sy voorkop en twee op sy lip kry! En dan praat ek nie eers oor die paar tande wat missing is nie!”
Rot is nou vol brawade. “Wat verwag jy, Meneer Goldberg? Die ventjie het na meneer Bertelli se damesvriend gestaar asof sy ‘n skoukoei is!”
“’Damesvriend?” Hyme se gesig vertrek in ongeloof. “Jy noem haar sy ‘damesvriend’?”
“Ja! En Meneer kon nie anders as om hom te laat opdonner nie, want Meneer is ‘n gentleman en hy gee om vir sy damesvriende!”
“Heiland, meneer Rot, sy was Vinni se spyker vir die aand!”
Vinni gee Hyme ‘n vuil kyk. “Wat sê jy daar, Hyme?”
“Sy was net ‘n ‘sak-oor-die-kop’ job van die Godfather Escort Agency. Jy weet dit!”
Vinni wys dreigend met die PW-vinger. “Oppas wat jy daar sê!”
Maar Hyme stoom voort. “Sy’t die aand so min aangehad dat selfs die blindes met wit stokke gestaar het!”
Vinni kyk hom suur aan. “Jy kyk nie na die kaggel as jy die vuur stook nie, boet!”
“Dis baie, baie ongeskik om so na ‘n dame te staar, meneer Hyme!” kruip Rot gat.
Hyme sug. “Vinni het nogtans geen reg gehad om die arme skepsel so te laat opneuk nie!”
Vinni hou sy hande omhoog soos ‘n predikant wat die seën oor sy gemeente uitspreek. “Okei, Klein-Freek het dinge dalk so bietjie te ver gevat, maar kom ons los dit daar … en konsentreer eerder op die probleem met die lisensie.”
Vinni haal die Borsalinno af en vee sy geswete voorkop met die sy-sakdoek af. Hy dink vir ‘n wyle, dan spring sy vinger vorentoe. “Wat’s die kanse as ons die klub ‘n ander naam gee en dan van vooraf aansoek doen? Of as ons dit in George of Mosselbaai gaan registreer?”
Hyme skud sy kop. “Let me be quite frank with you, Vinni. Jy’t omtrent net soveel kans om daai lisensie te kry as om ‘n pond botter met twee rooiwarm breinaalde in ‘n kat se gat te prop!”
“As ek geweet het dis die manier waarop Outshoorn sy mense behandel, het ek in Plett gebly. Ek sou waaragtig nie eers die moeite gedoen het om my besigheid terug te bring nie.”
Hyme het nou oorgenoeg gehad. “Wel, ek’t gehoor jy’t nie veel van ‘n keuse gehad nie.”
Vinni swaai ergerlik om. “Keuse? Watse keuse?”
“Ek’t gehoor as jy nie sou padgee nie, die locals jou ‘n paar sementskoene sou aantrek om by die visse te gaan kuier.”
Vinni ignoreer die lae hou. Hy skuif sy baadjiemou ‘n aks terug en kyk op sy Rolex Oyster. “Ek kan nie langer my tyd hier staan en mors nie, Hyme, Mamma wag vir my.”
Rot chip nou ook ewe groot kokkedoor in. “Na meneer Bertelli se besoek aan Mamma gaan hy Tatersalls toe en daar kan hy slegs in die uiterste noodgeval gesteur word. Is dit duidelik?”
By die deur draai Vinni om en dreig Hyme weer met die vinger. “Jy sorg dat jy daai lisensie kry, Hyme! Club Paradiso gaan sy deure aan die einde van dié maand oopmaak, finish en klaar!”
Hyme gooi sy hande moedeloos in die lug. “Hoe de hel doen ek dit?”
“Doen verdomp net wat jy moet, hoe jy wil, solank die verdomde ding net vinnig uitgesorteer word!”
Vinni loop uit met Rot op sy hakke.
********************************************************
Ja onse Vinni se storie kom ‘n lang pad. Nadat Vinni se pa, ou Slap-Ewie, met die ticket collecter se assistent weggeloop het, het Vinni in die weeshuis op De Rust beland. Dié bestaan al lank nie meer nie, want die dorpie het daarvoor te grênd geword. Die dorpie is deesdae bevolk met afgetrede professore en dokters en prokureurs … en ander skelms.
Enewel, Vinni is toe op veertien deur ‘ingegnere’ (ingenieur) Bertelli en sy vrou Sofia, beter bekend as ‘Mamma’, aangeneem. Ou Bertelli is doerie jare deur die koöperasie vanaf Sicilië ingevoer om die broeimasjiene vir die volstruiskuikens te bou en te onderhou.
Vinni het met groot trots vir almal loop en vertel dat sy pa ou Luigi Bertelli deel was van die Siciliaanse Mafia en dat hy uiteindelik moes vlug vir die Italiaanse polisie. Dit was natuurlik ‘n wolhaarstorie, maar Vinnie, wat as Frikkie van Rensburg in die NG-Kerk gedoop is, het toe met sy aanneming oornag Vinni geword. En daarmee saam meer Italiaans as ‘n volbloed Italianer uit Mafia geledere.
********************************************************
Daantjie het toe maar die sitplekgordel van sy ou vaal Mercedes stewig om oorlede Henri vasgegespe en die stukke ingesit Prins Albert toe. By die hospitaal aangekom, word die afgestorwende die gang afgestoot tot by ‘n suster wat besig is om ‘n blokkiesraaisel in ‘n drie-jaar oue Huisgenoot in te vul. Sy kyk gestoord op oor haar bril toe die trollie tot stilstand kom.
“Kan ek help, Meneer?”
“Ja ek’t ‘n lyk vir julle.”
Sy loer oor haar bril na die trollie. “’n Lyk?”
Daantjie knik.
“En waar kom jy aan hom?”
“Klaarstroom.”
Sy kyk na Daantjie asof hy sopas gesê het hy kom direk van die derde planeet links van die son.
Sy frons. “Klaarstroom?”
Daantjie knik weer.
“Sorry Meneer, maar dan’s hy nie ons lyk nie.”
Daantjie is gegooi. Hy leun angstig vorentoe. “Hoe bedoel Suster dan nou?”
“Hy moet Oudtshoorn toe.”
Die paniek begin nou in rooi kolle teen Daanjie se nek uitslaan. Hy vryf met albei sy hande oor sy min hare en tol eers ‘n slag in die rondte. “Ag nee hel, Suster! Dis amper sestig kilometer Klaarstroom toe en dan’s dit nog oor die vyftig Oudtshoorn toe ook! Kan julle hom nie asseblief net vat nie?”
Sy skud ferm haar kop. “Jy moes eers gebel het om uit te vind, Meneer. Jy kan nie sommer net lyke aanry en die goed hier kom aflaai nie! Hoe sal dit lyk as elke hierjy en sy boetie hier met ‘n dooie aangesit kom. Het julle nie telefone in Klaarstroom nie?”
Daantjie raak nou desperaat … en bedonnerd. “Ag heiland tog!”
Die suster tel haar potlood op en lek dit nat. “Sorry, ons sal graag wil help, maar ons kan hom eenvoudig nie vat nie. Prosedure.”
Sy begin met die blokkiesraaisel, ‘n duidelike teken dat dit die einde van die gesprek is. Daantjie pleit nou. “Suster, ag asseblief tog, man …”
Sy val hom streng in die rede. “Meneer, het jy’t gehoor wat ek gesê het?”
Daanjie sug en beduie vir die hospitaalmannetjie dat hulle maar moet omdraai en uit, buitekant toe.