SONJA BROWN
Die reuse veelkleurige ruiker wat op Elmarie se lessenaar pryk, laat haar effe frons. Dit is egter die kaartjie wat trots bokant die ruiker uitsteek wat haar mond laat oophang.
‘Elmarie, gisteraand was ongelooflik verfrissend. Hartlik geluk! Ryno.’ lui die woorde.
Talle gedagtes maal deur haar kop oor wat hierdie Ryno-man kan bedoel met sy suggestiewe woorde, en elkeen van hulle is iets waaroor mens nie in die publiek hardop kan gesels nie.
Rika, Elmarie se jarelange vriendin en ook haar sekretaresse, steek haar blondekop om die kantoordeur.
“Oe, ek sien jy het jou blomme gekry,” skerts sy. “Wie is die gelukkig man wat jou op so ‘n oulike manier op Valentynsdag verras?”
“Dis juis die ding,” antwoord Elmarie. “Ek was gisteraand heel aand besig met oorsese konferensie-oproepe.” Sy draai na Rika. “Jy weet ek glo nie in Valentynsdag nie.” Dan vernou haar oë. “Het jy weer my naam iewers gebruik?” vra sy.
“Nooit gesien nie! Ek het my les na daardie een keer geleer,” lag Rika vrolik. “Ek weet nou mens gee nie vals name om ongewenste aandag te ontduik nie. Die waarheid kom altyd op een of ander manier uit.”
Die nuus oor Elmarie se ruiker versprei soos ‘n veldbrand deur die gebou en almal maak een of ander verskoning om dit onder oë te kry.
“’n Mens sou sweer ek kry nooit blomme nie,” mor Elmarie toe Rika vir haar ‘n koppie tee bring.
“Jy weet ons is almal lief vir jou en stel net werklik belang in jou welstand,” terg Rika. Sy gaan sit op ‘n leer rusbank teen die een muur. “Nou, as die blomme niks met jou uit te waai het nie,” sê sy terwyl sy weer die ruiker bestudeer, “vir wie sou dit dan kon wees? Dit lyk of dit iemand se sak lekker kon skade aanrig. Tulpe is nie goedkoop nie,” praat Rika verder.
“Uhm, ek dink ek kan daardie vraag beantwoord,” kom ‘n diep stem vanuit Elmarie se kantoordeur. “Helga het my hierheen gelei. Die ontvangsdame,” voeg hy egalig by toe nie een van die twee vrouens reageer nie.
Rika se wenkbroue lig hoog terwyl sy na die onbekende man staar.
“Man, maar jy is darem maar mooi vir ‘n ou!” blaker sy uit en klap dan haar hand oor haar mond. “Ek loop nou,” sê sy haastig en skuur by die man verby voordat sy al trippelend om die kosyn verdwyn.
“Ek is …”
“Ryno,” voltooi Elmarie die man se sin voordat hy verder kan praat.
“Hoe het jy dit geweet?” glimlag hy. “Ek is Ryno Visagie. Die man agter die ruiker wat per toeval by verkeerde Elmarie afgelewer is. Ek weet jy sal dit dalk nie glo nie, maar in die gebou reg langs hierdie een werk ook ‘n Elmarie,” praat hy terwyl hy nader aan Elmarie stap.
Elmarie skud die hand wat hy na haar toe uithou. “In die Vidi-gebou?”
“Die einste,” sê Ryno.
“Jy kom seker die ruiker haal,” offer Elmarie toe daar ‘n lang stilte ontstaan. “Dis…”
“Nee, dis joune,” voeg Ryno vinnig by. “Ek wou net self kom uitvind hoe ‘n bekende bloemis blomme, wat gestuur is aan ‘n spesifieke persoon, by ‘n verkeerde adres kon aflewer. As ek eerder die ander Elmarie se van bygevoeg het sou dit seker nie so geëindig het nie, maar ek het nie daaraan gedink nie.”
“Ek sien.”
Daar is weer ‘n lang stilte.
“Jammer dat ek jou dag omge-ellie het met ‘n onskuldige bos blomme. Lekker dag,” groet Ryno en stap by haar kantoor uit.
Rika storm kort daarna weer in.
“En toe?”
“Wanneer laas het jy die woord omge-ellie gehoor?” vra Elmarie ingedagte.
“Wie gee om? Wat sê die mooie man?” por Rika.
“Nie veel nie. Net dat ek die mooi ruiker kan hou.”
Rika roer nie.
“Toe nou agie, het jy nie werk om te doen nie?”
“Ja baas,” mor Rika. “Maar moenie dink dat hierdie gesprek agter die rug is nie. Ons gesels na werk oor ‘n glasie rooiwyn. Hoor my lied!”
Drie dae later daag daar weer ‘n bos blomme vir Elmarie op. Hierdie keer lui die kaartjie: ‘Vir die regte Elmarie. Die een met die diep kuiltjies in haar wange en die seegroen oë. Ryno.’
Gmf! Hy sal hom wat verbeel! dink Elmarie maar daar is ‘n effense roering in haar borskas. Sy druk die kaartjie vinnig in haar lessenaar se laai voordat Rika, soos oudergewoonte, allerhande vrae kom vra.
“En dié?” vra Rika toe sy getikte notas op Elmarie se lessenaar neersit.
“Is dit die papierwerk vir die Le Roux kontrak?” probeer Elmarie die onderwerp verander.
“Komaan, jy ken my seker beter as dit,” lag Rika. “Uit met die sak patats.”
“Dis van daardie … hoe het jy hom genoem?”
“Die mooi man? En vir wat nogal? Ag, ekskuus, nie dat jy nié blomme verdien nie, maar die ou ken jou nie eers nie,” babbel Rika.
“Presies, en dis hoekom ek nie op hol gaan raak oor ‘n ruikertjie nie.”
“Moenie so ‘n imposante ruiker beswadder deur ‘n verkleining by te voeg nie. Jy moet eerder in hoofletters praat,” rol Rika haar oë.
Sy staan nader en vis tussen die blomme rond.
“As jy na die kaartjie soek…” sê Elmarie sonder om op te kyk van die papier in haar hand.
“Nee, glad nie!” jok Rika. “Ek bewonder net die pragtige tulpe.”
Die res van die week verloop seepglad en Elmarie is bly toe Vrydagmiddag aanbreek.
“Almal is weg. Ons kan sluit sodra jy gereed is om jou naweek te begin,” roep Rika vanuit haar kantoor skuins oorkant Elmarie s’n.
“En twee uur kon nie op ‘n beter tyd aangebreek het nie. Dink jy die blomme sal die naweek in die kantoor oorleef of moet ek dit eerder huistoe neem?”
“Dit sal ‘n sonde én ‘n skande wees om so ‘n mooi ruiker op kantoor agter te laat. Ek sal dit vir jou dra, want ek sien jy het reeds ‘n reeks bagasie wat jy kar toe gaan karring. Sal jy iets oorkom as jy net vir een naweek nie jou skootrekenaar en werk huis toe neem nie?”
Elmarie weier om die aas te aanvaar. En sy gaan ook nie laat blyk dat Rika se laaste woorde ook gereeld oor haar ma se lippe rol nie.
Naweke vlieg te vinnig verby as mense besig is, maar hierdie keer is Elmarie eintlik heimlik bly dat die afgelope naweek agter die rug is. Dit is altyd dol wanneer ‘n nuwe finansiële jaar begin. Alle belangrike sake met betrekking tot haar diamantmaatskappy se nuwe jaar is uiteindelik afgehandel, en nou kan sy aandag gee aan die diamant-slypskool wat sy besig is om op die been te bring.
Die slypskool was eintlik Rika se idee omdat sy bewus was van die hoë werkloosheidsyfers onder skoolverlaters. Elmarie moes lang ure spandeer om oorsese beleggers via internetkonferensies te bekom vir hierdie reuse onderneming, maar meeste van haar oorsese diamantkopers was bereid om hand in die sak te steek op voorwaarde dat hulle óók mense van hulle lande kan stuur vir gratis opleiding.
‘n Derde ruiker daag in die volgende week vir Elmarie op. Weer tulpe, maar rooies hierdie keer.
Hierdie keer pluk Rika die kaartjie uit die ruiker wat sy self op Elmarie se tafel neersit en hou dit onder haar vriendin se neus. “Net in geval jy dit miskyk … die mooi man se telefoonnommer is hierdie keer op die kaartjie geskryf,” sê sy vasberade. “En as jy hom nie gaan bel nie, sal ek. Namens jou, natuurlik. Ek is dolgelukkig met my gade,” knip-oog sy.
Elmarie tob vir twee dae oor die idee of sy die vreemde man moet bel of nie. Wat sou sy vir hom sê? Hei, ek wil weet wat die oorspronklike kaartjie vir die ander Elmarie beteken?
Sy lag vir die blote gedagte daaraan.
Rika raak nou knaend omdat sy nog nie die oproep gemaak het nie.
“Nou maar goed, jy wen,” mor sy toe Rika weer met een wenkbrou omhoog om haar kantoordeur loer.
“Goed so! Toe bel! Ek loop nie voordat ek die werklike oproep hoor nie.”
Die dag het verbygevlieg, en nou sit Elmarie in die Sky Bar by Emperors Palace op háár aandrang, natuurlik, want dit is beter om ‘n vreemdeling in ‘n openbare plek te ontmoet. Haar senuwees knaag maar sy het nie tyd om kop uit te trek nie, want Ryno Visagie klim reeds die trappies na die boonste dek.
Elmarie is verbaas om te sien dat daar reeds ‘n uur verstryk het sedert Ryno oorkant haar stelling ingeneem het. Die man is plat op die aarde, intelligent, en ja, aantreklik, maar dit behoort nie in haar boekies punte te tel nie. Dis ‘n bonus, dis al.
“Is jy nie nuuskierig oor die eerste ruiker se boodskap nie?” onderbreek Ryno haar gedagtes.
Elmarie bloos, iets wat in die laaste ruk baie gebeur. “Ek moet erken dat allerhande scenario’s deur my kop geflits het nadat ek daardie woorde gelees het. Maar ek los eerder die verduidelikings vir jou,” lag sy.
“Elmarie Son, ‘n universiteit-vriendin wat met ‘n Sjinees getroud is, het in die gebou langs joune ‘n skoonheidsalon oopgemaak. Een van die dienste wat sy bied is ‘n klomp tenks vol doktervisse, oftewel garra rufa vissies. Mense sit om die tenks met hul voete in die water, dan vreet die vissies aan jou voete totdat jy mooi, nuwer vel het. Dis iets wat sy in die Midde-Ooste op een van haar reise ontdek het. Dis danksy háár dat ek by jou uitgekom het. ‘n Goeie gelukskoot, en dit nogal op Valentynsdag,” voeg hy by.
Elmarie glimlag. Dalk is daar tóg iets soos ‘n kupido, en dalk is daar tóg rede om effe in Valentynsdag te begin glo.