Geskryf deur Lidia Vermeulen
Dawie staar na die vasgebinde man in die stoel. Droë bloed bedek die man se hele skedel en gesig; sy een oog is erg opgehewe en pers. Die suur reuk van braaksel hang in die lug, maar Dawie ruik dit nie eers nie. Hy druk die rottang in sy regterhand teen die bewustelose man se wang, en beweeg dit sagkens heen en weer.
“Siembamba, mamma se kindjie, siembamba, mamma se kindjie, moenie vir iemand sê wat ons doen nie, anders draai ek jou nek om, en gooi jou in die sloot,” sing Dawie in ‘n stem wat klink of dit wil breek. “Klink dit bekend, hê, Herman Steyn?”
Hy lag histeries en sluk weer aan die bottel in sy linkerhand. “Bliksem!” gil hy, en stamp die geboë hoof voor hom met sy eie. “Ek haat jou!” Die drank is nou op en hy staar na die bottel asof hy dit nie kan glo nie. Hy slaan die bottel teen die sement-menger, en skerwe spat oral in die afgelëe stoorkamertjie.
Dokter Jansen het herhaaldelik in terapie-sessies gesê dat Dawie oor die verlede moes probeer kom. Dat hy moes vergeet en vergewe wat Herman vir jare aan hom gedoen het.
Dawie glimlag styf. “Dok, ek het dit so ampertjies reg gekry.” Hy wys met sy duim en wysvinger in die lug, die ledemate so een millimeter van mekaar af. “Dit was só naby…” sê hy in ‘n kinderstem. “Ek het selfs die stemme begin uitdoof, maar toe…”
Hy haal diep asem en maak sy oë toe. Sy kop beweeg heen en weer soos iemand wat ‘nee’ sê vir ‘n idee. Dan gaan sy oë oop en hy staar kil na sy gevangene. “Ek gaan dit nie doen nie, Janneman,” sis hy sag, sy stem nou anders. “Dis nie reg nie! Die Bybel sê so. ”
Maar onthou jy nie wat hy aan jou gedoen het nie, Dawie? Hoeveel maal moes jy skool toe, en wreed geskeur huis toe keer? So seer dat jy nie kon sit vir dae aanmekaar nie… Vir hoeveel maande het hy sy wellus op jou afgedwing?
“Nee! Ek wil dit nie hoor nie!” gil Dawie vir die stem in sy gedagtes. “Hou op! Hoor jy my? Ek sê hou op!” Hy smyt die rottang neer en bedek sy ore met sy bewende hande.
Kan jy regtig vergeet hoe hy jou gebreek het, verniel het, jou siel gedood het?
“Sjarrap!” Dawie storm by die houthuisie uit en val op sy kniëe neer onder die groot moerbeiboom. Rou snikke skeur uit sy bors en hy klou aan die gras vas met albei hande.
Dis waar Doempie hom later vind.
Dawie se gesig word oral nat gelek.
Die snikke staak byna onmiddelik, en hy vryf Doempie sagkens. Sy trane word dan deeglik met sy mou afgevee. “Oubaas se honne, kom ons gaan soek iets om te eet. Ek is skielik rasend honger.” Hy huppel huis toe, die bokkiehond kort op sy hakke.
Sy ma, -‘n fyn vroutjie-, sit voor die TV. Sy hoor die doenigheid in die kombuis. “Boeta, wat maak jy?”
“Kos, Mamma. Vir my en Doempie. Weense worsies op broodrolle. Met baie, baie tamatiesous op…” Hy gaan sit langs sy ma op die bank. Doempie sit by sy voete, en die drie kyk saam na die her-uitsending van sy ma se geliefde sepie.
Dawie eet sy worsrolle baie stadig, en deel kort-kort van die vleis met sy hondjie.
“Waarmee was jy heel middag doenig?” vra sy toe die sepie eindig.
“Oe, laat ek dink.” Hy trek sy mond op ‘n plooi. “Middagslapie, tee, en wat nog? O ja, hoe kan ek vergeet?” Hy klap homself op die been. “Ek het skool-skool gespeel,” sê hy egalig. “Met Meneer Steyn…” Hy draai sy kop en kyk sy ma reguit in die oë.
Sy verbleek merkbaar toe sy die blou kol op sy voorkop sien. Haar hart klop wild, maar sy probeer kalm voor kom. “D-dawie, ons het al hieroor gepraat. Jy weet dat dit jou ontstel om dinge te herleef. Meneer Steyn is in die verlede. Jy is al immers drie-en-twintig. Jy was skaars sewe… Dokter Jansen…”
Die stilte voel soos ‘n ewigheid vir Aletta.
Dawie sluit skielik sy tamatiesous-hande om sy ma se keel en kyk doodkalm hoe haar oë dowwer word terwyl sy verbete om haar lewe veg. “Kekkel, kekkel, kekkel. Dis al wat sy doen. Daar’s hy, Doempie. Nou kan ons in stilte verder TV kyk,” sê Dawie met ‘n mello-dramatiese sug.
Hy vryf oor sy wange waar sy ma sopas repe velle met haar naels afgekrap het, en lek dan die bloed van sy vingers af. Hy lig haar een hand op en haal van sy vel onder een nael uit. “Dink jy dit sal teruggroei as ek dit met ‘n pleister op my gesig vasplak, Doempie?” vra hy met ‘n grinnik.
‘n Program oor hoe om plastiek te herwin volg na die advertensie. Dawie druk sy vel terug onder sy ma se vingernael en spring op. “Doempie, ek het pas ‘n briljante plan gekry. En om dit uit te voer, kort ons ‘n plastiese sak. Kom.”
* * * *
Die hofsaal is stampvol. Daar was nog nooit eers een moord op een slag in die dorpie nie, newwermaaind twee.
“Meneer Dawid Johannes van Veijeren, hoe pleit u ten opsigte van die aanklagte teen u?”
“My kliënt pleit onskuldig, Edelagbare.”
Die hele storie word ontbloot. Stuk vir morbiede stuk. Bloederige detail word deur medici opgehaal en sommige mense kan bloed in hul monde proe soos wat die dokters die tonele so waar as moontlik probeer verduidelik.
Dawie sit uitdrukkingloos in die beskuldigde bank.
“Jy sou nie sê sy ma is skaars oorlede nie!” Die ou tannie in die tweede ry.
“Hy lyk nes so-en-so, ook geen emosie op sy gesig nie,” skinder die ander mense agter bak hande. “Mens kan sien hy is skuldig!”
Die lykskouer is nou aan die woord.
Hy het die lykskouings gedoen, ja. Aletta van Veijeren, twee-en-veertig jare oud, is definitief oorlede aan verwurging. Die kraakbeentjies in haar keel was papgedruk. Daar was geen manier dat sy sou kon oorleef nie. En nee, geen forensiese aanduiding dat dit die beskuldigde was wat dit gedoen het nie. Haar lyk was opgekap en dele was in ‘n bad vol suur gedruk. Soos haar hande, en haar kop. Daar is steeds geen spoor van haar linkervoet nie. Dalk deur die suur verteer.
“En dokter Snyman, kan u asseblief vir ons oor die resultate van u lykskouing op meneer Steyn inlig?” Die staatsaanklaer.
“Sy lyk was reeds erg ontbind toe dit gevind was. Hy was in ‘n outydse houtstoel vasgemaak, en was bo-op die hoogste vullishoop geplaas by die ashoop. Met ‘n kroon op sy kop. Daar was ‘n plastiese sak oor sy kop, en hoewel hy dood is aan versmoring dui alles daarop dat hy omtrent geen breinfunksie gehad het ten tyde van sy afsterwe nie. Sy liggaam was oortrek met fyn glasskerwe, maar dit kan afkomstig wees van die vullishoop waarop hy gevind was. Sy rug by die skouerdeel het skuurmerke gehad gelykstaande aan iemand wat oor ‘n growwe area getrek was. Sy anale opening was buitengewoon groot verrek, maar dit is onmoontlik om te sê wat dit kon veroorsaak as gevolg van die toestand van ontbinding. Nee, daar is geen DNA wat hom aan die beskuldigde kan verbind nie.
Na weke-lange getuienisse se verklarings:
“Meneer Dawid Johannes van Veijeren, die hof bevind u onskuldig aan die moorde op Aletta van Veijeren asook Herman Steyn. U mag maar gaan.”
Die gepeupel snak na hul asems. Hoe kan dit wees? Hy lýk soos ‘n moordenaar!
* * * *
“So, Doempie, my diertjie, hierdie is al die foto’s wat gedurende my hofverrigtinge geneem is. Kom ons nommer die mense wat lyk of hulle dink ek moes skuldig bevind word, en dan kuier ek so ‘n bietjie vir hulle? Wat dink jy?” Hy sit sy glas wyn in die spesiale houer wat nogal nes ‘n regte voet lyk, en lag.
Doempie blaf en lek Dawie op sy hand waarin hy die pen vashou.
“Nommer een,” begin Dawie. “Ek het gehoor wat jy vir nommer twee fluister…”
“Siembamba, mamma se kindjie…” neurie hy vrolik.