Skip to main content

Willem Petzer

Tewie Wessels

Devon Hofmeyr

Die regse sosiale media-aktiviste Willem Petzer en Tewie Wessels het hulle vanoggend aan die polisie op Groblersdal oorgegee.

Die Bittereinder-leier Devon Hofmeyer het hom ook vanoggend by die polisie aangemeld. Die voormalige Groblersdal-burgemeester mnr. Dries Olivier, is ook versoek om hom oor te gee, maar het na bewering ‘n siekebrief by die polisie ingedien.

Hofmeyr, Wessels en Petzer het vanoggend in die hof verskyn. Geen klagtes is aan hulle gestel nie, maar volgens die voorlopige klagstaat sal hulle onder meer van openbare geweld en regsverydeling aangekla word.

Die staat het vanoggend aangedui dat hy borgtog sal teenstaan.

Die mans was twee weke gelede deel van ‘n optog in Groblersdal waar daar konflik met die polisie uitgebreek het. Francois van der Merwe, ‘n leier van die Bittereinder-beweging, is in hegtenis geneem en is steeds gewikkel in ‘n voortslepende borgtogaansoek.

‘n Emosionele Petzer het vroeg vanoggend ‘n boodskap op Facebook geplaas waarin hy sê hy weet in sy hart hy en Tewie Wessels het niks verkeerd gedoen nie, maar dat “hulle” daarop uit is om hom en Wessels ‘so seer te maak as moontlik”.

Wessels het op TikTok gesê hy en Petzer “en ‘n paar ander manne” moet hulle vandag by die polisiestasie op Groblersdal gaan aanmeld ingevolge ‘n lasbrief wat vir hulle inhegtenisneming uitgereik is.

Hy het, nes Petzer, ontken dat hy iets verkeerd gedoen het .

Leave a Reply

error: Content is protected !!