Skip to main content

Adv. Izak Herbst

Adv. Piet Pistorius

Die regse sosiale media-aktiviste Willem Petzer en Tewie Wessels sowel as die Bittereinder-leier Devon Hofmeyr moet tot Donderdag agter die tralies sit – oor beurtkag.

Hulle borgtogaansoeke in die Groblersdalse landdroshof is vanmiddag tot Donderdag uitgestel weens beurtkrag wat om 15:00 sou intree. Hulle bly intussen in aanhouding.

Die drie het hulle vanoggend aan die polisie op Groblersdal oorgegee.

Hulle oorgawe en gevolglike arrestasie spruit uit ‘n optog in Groblersdal byna drie weke gelede waar daar konflik met die polisie uitgebreek het. Francois van der Merwe, ‘n leier van die Bittereinder-beweging, is in hegtenis geneem en is steeds gewikkel in ‘n voortslepende borgtogaansoek.

Luidens die voorlopige klagstaat sal Petzer, Wessels en Hofmeyer teregstaan op aanklagte wat verband hou met openbare geweldpleging en die verhindering van ‘n polisielid om sy/haar werk te doen.

Die drietal het verklarings ter ondersteuning van hulle borgtogaansoeke ingedien. Al drie aansoeke is deur die hof aanvaar.

Die staat het vroeg vandag reeds te kenne gegee dat hulle borgtog sal teenstaan. Die aanklaer het die hof verwittig dat hulle nog nie die drie beskuldigdes se adresse kon bevestig nie, maar die hof het desondanks die verdediging die groen lig gegee om met hul aansoek voort te gaan.

Adv. Izak Herbst het vir Hofmeyr opgetree, terwyl Petzer en Wessels deur adv. Piet Pistorius verteenwoordig is.

Leave a Reply

error: Content is protected !!