Skip to main content

HOOFSTUK VIER

Die stem wat hy gehoor het, kan ‘n bobbejaan wees. Dit klink mos of hulle gesels.

Aggie sluip na die bek van die grot, kapmes reg in sy vuis. Dorpmense dink bobbejane is oulik apies, veldmense weet hulle is wredegatte wat jou arm kan afruk. Hy onthou die krag waarmee een in die Kalahari ‘n boerbok oopgeskeur net om haar melk te kry.

Die son is klaar skerp so vroeg in die môre. Hy loer deur skrefies uit die grot. Dis stil teen die rant, nie eers ‘n vink kwetter in die bosse nie. Te stil.

“Sio chui,” grom iemand in Swahili.

Aggie lig die kapmes dreigend. Swahili is maar nog Grieks vir hom, hy verstaan darem iemand het hom gesien en besef hy is nie ‘n luiperd nie. ‘n Manlike iemand.

Die man tree agter ‘n rots uit, hou self ‘n kapmes reg vir veg, ‘n boog aan een skouer gehaak, pyle in ‘n bokvel op sy heup vas. Hy is lank, sy lyf dié van baie arbeiders in Kenia, jonk en maer, net senings gewerk, sy swart vel vaal van die stof, sy kroeshare lank en wild. Hy dra ‘n verslete ou Caltex-oorpak en onverwags cowboy-stewels versier met ‘n pragtige blaarpatroon. Die stewels kan van ‘n vermoorde koffieboer se voete af kom.

Mau-Mau, besef Aggie en hy kan die bloed in sy slape hoor klop.

Agter die man verskyn nog van hulle. Tien, twaalf, dertien van hulle. Gewapen met pyl-en-boog, kapmes, byl, hier en daar ‘n ou geweer. Almal is jonk of amper jonk, het hulle hare laat uitgroei en lanklaas gewas, dra  meestal klere waarin hulle vir die witman gewerk het: Aggie sien pompjoggies, kombuishulp, een wat die uniformbaadjie van ‘n konstabel oor sy vuil onderhemp en kniebroek aan het.

Niemand glimlag vir Aggie nie. Hy weet wegkomkans is min as hy probeer hardloop. Hierdie manne kan hol, daar is geen vet aan hulle nie.

Waar is sy pruimtwak nou, verdammt? In tye van nood help ‘n pruimpie in die kies.

As diamantdief het hy geleer hoe maak jy as die gereg jou vang. Help nie jy raak kwaad of  huil nie nie. Moenie te vriendelik wees nie, beleefd is nog erger, enige aap kan sien jy is vals. Maar niemand kan vir ‘n clown kwaad bly nie.

Hy wys sy tande en knor soos ‘n dier. “Who say I am not leopard?”

Dit skok hulle. Hy kan ‘n paar hoor asem intrek. Skok maak mense kwaad ook. Hulle gaan hom opsny in klein stukkies biltong as sy toneelspel vrot is.

Die Caltex-man met die cowboy-stewels bars uit van die lag.

“You are not even a proper house cat.” Sy Engels is Colonial Lah-dee-dah uit die boek. “I recognise you now, you are Nguchiro, the meerkat!”

“Nguchiro,” grinnik ‘n ander moordenaar.

Van die ander begin giggel.

Aggie se blaas wil skielik gaan, maar hy hou in.

Sloet het gisteraand al sy tas gepak, doen dit nou weer voor hy saal toe vir ontbyt gaan. Netnou vergeet hy iets. Hy vertrou nie meer sy geheue nie.

“Hoeveel pare sokkies is genoeg?” vra hy sy oorlede vrou.

Daar is ‘n klop aan sy kamerdeur, te sag en beskeie om PJ Buys te wees. Hy staal homself vir die ergste.

“Hy’s oop, Magda.”

Maggie Grundling kom in ‘n tent versier met blomme binne, probeer skaam en klein lyk. Sloet vermoed dit sal ‘n groter wonderwerk as water word wyn wees.

“More, Oom Sloet. Het oom darem lekker geslaap?”

“Soos ‘n klip.” Hy moes gereeld opstaan om te pie. Wat dink hierdie weduvrou kan hy nog in die kooi doen? Haar tande vir haar in ‘n glas water sit?

“Ek hoor oom-hulle haal môrevroeg die trein Kaap toe.”

“As ons so lank gespaar bly.”

“Dan vlieg oom-hulle môreaand Kenia toe.”

“Bloed, het jy en PJ Buys saam koffie gaan drink?” Hy weet sy kan die ou skoolmeester met sy groot woorde nie verdra nie.

Maggie glimlag. “Die hele ouetehuis weet, Oom. Ons gee net om, ek en Matrone. Ons bid die Vader gaan Sy hand oor oom-hulle hou. Die koerant is vol van Kenia.”

“Dankie, ons ken darem van moeilikheid, ek glo ons sal dit oorleef.”

“Oom weet oom-hulle gaan die Blou Trein moet vat? Hy’s al een wat douvoordag hier verby kom en hy mog net ‘n paar minute stop.”

Sloet begin voel sy stel ‘n lokval, raak versigtig. “Jy moet met PJ Buys praat, hy’t die kaartjies laat koop.”

“Oom meen hy het my gevra om dit te doen. Toe hoor ek op die stasie hoeveel kos die Blou Trein van hier af Kaap toe. Ek dink nie PJ Buys het reg verstaan nie; hy’t my  vier pond te min gegee.”

Sloet weet presies hoeveel PJ Buys vir die treinkaartjies wou betaal. Hulle kon saam net-net die bedrag uit hulle maandelikse pensioen maak. Kaatjie het toe nog ‘n pond bygelas vir toebroodjies en koffie tot by James Kerwin in die Kaap. Kerwin sal als verder betaal en Sakkie moet maar later met hom regmaak. Die koffieprys is goddank nog reg.

“Is jy doodseker?” vra hy versigtig.

Maggie se glimlag is haar sterkste punt. “Ja, maar gelukkig vir oom-hulle moet ek ook môre Kaap toe. Oom-hulle kan oom-hulle se geld spaar en sommer saamry. Die Plymouth het baie spasie. En asseblief, die Vader sal my straf as ek oom-hulle vir petrolgeld vra.”

Sloet weet nou hoe voel die vlieg in ‘n spinnerak.

Hulle steek skietgoed in die grot weg en het net patrone vir die paar gewere kom haal. Gewoonlik wei bobbejane om die grot rond. Die stilte het hulle laat vrees ‘n luiperd het bobbejaanvleis kom soek. Die Caltex-man se naam is Karimi. Dit beteken iemand wat plant, ‘n kleinboer. Hy het die cowboy-stewels van ‘n dooie msichana mweupe se voete afgetrek. ‘n Witvrou.

“Then thanks be to Murungu I made sweet love to her,” glimlag hy.

Aggie klap sy hande asof hy ‘n goeie grap gehoor het. Karimi praat gemaklik met hom, die ander bly aan die stil kant.

Karimi is Kikoejoe soos die meeste van hulle, praat ook Swahili, Engels en ‘n spatsel Afrikaans. Hy was ‘n onderwyser voor die pyn in sy land te veel vir hom geword het.

“Colonial police castrated my father because he wouldn’t confess where he hid the fifty pounds he took. He had to steal to buy medicine for my dying mother.”

Aggie ken hope sulke stories. Van hulle glo hy, want hy het self in ‘n Duitse kolonie grootgeword. Ander vat hy maar met ‘n knip growwesout. Hy wys niks, vertel ‘n paar gruwelgoed wat die Duitsers teen sy mense aangevang het. Karimi luister simpatiek, die ander bly rondgrou in die patroonkis.

Die wegsteekplek is ‘n gat diep in die grot, en die skat is in ‘n seil toegedraai: Engelse gewere en rewolwers, Lee-Enfields en Webleys. Duitse gewere en pistole ook, Mausers en Walthers. Nie baie nie, so ‘n dosyn wapens altesaam, alles sweerlik gesteel.  Daar is net een houtkis, die patrone daarin ‘n deurmekaarspul van wat hulle kon steel.

Karimi sug en skud sy kop. “Murungu save us, some of the bullets go with guns we don’t even have. We did figure out what bullet type goes where, but we’re not all that good with the actual shooting of the weapons. I am reading up on it.”

“I was born with a rifle in this hand.” Aggie voel dit kan help om bietjie te spog.

Karimi kyk na hom. “Of course, you fought the Kaiser’s Germans.”

Maar die gespog irriteer ‘n Mau-Mau met diep snye in sy wange. Hy spoeg ‘n stroom Kikoejoe in Aggie se rigting. Dit kan enigiets beteken en tien teen een niks goed nie.

“He does have a point.” Karimi glimlag wrang. “Two nights ago we lost a spy near your plantation.”

“Baraka,” brul die man met die wangmerke. “Was a good Swahili, chomba.”

Aggie weet chomba is nie ‘n kompliment nie. Dit beteken Arabier, iemand van oor die see. Al die mense met ligte velle is chombas, ‘n woestynbruine soos hy ook.

“Were you there when Baraka got shot?” vra Karimi.

“No. I was with a woman.”

“Then why are you hiding from your boss?”

Kaatjie antwoord die foon. Haar ma is besig met brekfis.

“Katrina Vogel, goeie môre.”

PJ Buys groet nie eens nie. “Blomkind, dis die Bloutrein wat môre hier deurkom. Ons is saam met jou pond vir broodjies nog drie pond kort. Vergewe my, hart se lam, ek en oom Sloet haat dit om te moet bedel … sal jy dit kan bring of deurbel vir ons?”

Kaatjie aarsel. Die geur van braaispek kom uit die woonstel se kombuis.

“Vater, es tut mir leid, maar ek moes klaar my petrolgeld roof en pa weet hoe ver ry ek skool toe. Mutter het die landskap met skape verkoop, maar sy sien die geld eers end van die maand. Kan oom James nie help nie?”

“Hanou, hy gaan klaar die hele sending moet befonds. Jy kan ook net soveel van ‘n Engelsman vra.”

“Kan iemand by die ouetehuis nie help nie?”

“Tant Maggie wil ons met haar Plymouth afry Kaap toe. Uit die goedheid van haar hart.”

Kaatjie blaf ‘n kort, verbaasde laggie. “Prima! Daar’s die antwoord, wat’s nou nog die probleem?’

“Die probleem is Sloet Steenkamp. Jy ken tant Maggie. Hy voel hy gaan sy lyf moet gee vir die saak.”

Kaatjie vererg haar. “Sakkie vergaan al vir drie dae in ‘n tronk en hy wroeg oor ‘n vrytjie? Sy seun moet aanhou wie-weet-wat verduur oor hy nie meer kan nie? Sloet Steenkamp kan ‘n miskruier lewendig kou vir al wat ek omgee! Ek lees die Arabiere doen dit vir koerasie, maar julle los nie vir Sakkie in daardie gat nie! Is dit duidelik?”

PJ Buys sug swaar in haar oor. “Helder soos daglig, liebchen. Hierdie lydende Christen bevind homself al weer mooi reg in die middel.”

Kaatjie kook behoorlik. “Julle ry met tant Maggie se kar Kaap toe en gaan help oom James en kry Sakkie los, verdammt. Of ek los skool en verkoop hierdie huisraad onder my en Mutter uit en gaan doen dit self! Horst du mich, Vater?”

Hy sug weer. “Ek hoor jou, Katrina.”

James Kerwin pak ook vir die sending noord. Hy pak nie net sy tandeborsel, klere en skoene vir ‘n tropiese klimaat nie.

In die oorlog teen die Boere het hy saam met soldate uit die agterstrate van Londen en die kastele van die adelstand geveg. Hy het oral vriende gemaak. Omdat hy en sy Meisie ‘n gesin hier begin het, het hy nooit weer terug Engeland toe gegaan nie Hy het wyd in Afrika gereis, veral deur die Engelse kolonies waar hy oudsoldate ken wat daar gaan boer het. Hy het ‘n sagte plekkie vir Kenia. Dit mag nie in ‘n bloody bloodbath verdrink nie.

In sy cottage langs die see pak Kerwin iets baie spesiaal in sy tas. Iets wat, as dit werk, die dood van die Mau-Mau gaan beteken.

Die jong prokureurtjie kom sien Sakkie weer op die vierde dag van sy aanhouding: David Broughton-Smith, ‘n rooigebrande bleeksiel in ‘n spierwit driestukpak omdat die Engelse wragtag glo hulle sweet nie so kwaai in wit nie. Sakkie dink die twee vanne is sommer ‘n aansittery in Kenia, soos Sersant Harry met sy Wallace-Harrison. Gaan onbeholpe vanne hulle watsename hier beter laat ruik?

Hy en David Broughton-Smith gesels onder ‘n bloekomboom agter die polisiestasie. Hy is nie geboei nie, maar ‘n konstabel waak ‘n entjie weg.

“I want my shotgun back. They can give it to Emma Bakker, the predikant’s wife. It’s a genuine Purdey, it’s like family.”

“I understand your feelings, but unfortunately the weapon is part of the investigation.”

“Investigation se dinges, Sergeant Harry wants it for himself after the court case. That is not going to happen.”

Die prokureurtjie knipoog senuweeagtig.  “You don’t seem to understand, we’re not simply looking at a fine for domestic disturbance. It will be a trial for murder. You may not leave prison alive, Mister Vogel.”

WORD VERVOLG

Leave a Reply

error: Content is protected !!