Lion Jay – Die Lewensdans
LION JAY maak sy stem dik in sy moedertaal en verras met ‘n lewendige danstreffer met lirieke wat elke hart raak.
In die laaste paar jare het Lion Jay vir hom ‘n stewige plekkie in die Countrywêreld losgesing met twee baie suksesvolle Country-albums en ‘n hele paar nommer een posisies op trefferparades en musiektoekennings. Hy het ook al kontemporêre albums uitgegee met liedjies uit eie pen en van ander kunstenaars. Dit is duidelik dat hy sy sangtalent laat woeker en dat dit wyer as een genre sterk is.
So vars in die maand van liefde kom daar nou ‘n nuwe enkelsnit uit die pen van hierdie sanger wat daarvan hou om minneliedjies te sing. Hy bring “Die Lewensdans” in samewerking met sy musiekvervaardiger, Hennie Ungerer, uit. Hierdie lied vertel die verhaal van hoop en liefde wat altyd ‘n moontlikheid is vir elkeen. Met ‘n lewendige dansritme inspireer hy elkeen om te luister wanneer liefde aan die hart se deur klop en om dan oop te maak.
In ‘n warm en sterk kompeterende Afrikaanse musiekmark, beloof hierdie lied om oud en jonk te laat lewendig voel en met goedvoel lirieke sommer dadelik in die oor in te wurm en maklik oor die tong te rol. Hierdie toevoeging tot ons Afrikaanse erfenis sal verseker dat Lion Jay ook ‘n plekkie kry in Afrikaanse musiekliefhebbers se harte.
Die splinternuwe musiekvideo van Lion Jay, deur Deon Van Wyk verfilm, vertel die storie van ‘n danseressie wat haar ander helfte ontmoet en hoe hulle saam die lewenspad hand aan hand begin loop.
“DIE LEWENSDANS” is nou beskikbaar op Apple Music, iTunes, Spotify, YouTube, Deezer, Amazon Music en nog vele meer.