Skip to main content

GEORGE APRIL

Vir maande word die media al gebombardeer met klagtes deur gemeenskapslede oor swak dienslewering by die Lalie Cleophas-kliniek op Hopefield.

As die vrou wie se naam daardie kliniek dra nog gelewe het, sou sy geweier het dat die plek na haar vernoem moet word, is die gereelde mening van mense wat hul ontevredenheid uitspreek oor die “patetiese diens” wat hulle by die kliniek kry.

Maar wat Maandag gebeur het, was die kersie op die koek.

‘n Ma van ‘n 9-jarige seun by Hopefield Primêre Skool, het Maandagoggend ‘n oproep van ‘n onderwyser ontvang oor haar seuntjie wat siek is.

Toe sy by die skool kom, is daar aan haar gesê dat hy gekla het van ‘n pyn in sy hart.  Volgens die onderwyser het die seun dit vir ‘n maatjie gesê, wat weer vir die onderwyser vertel het.

Volgens Elvina Williams, ma van die seuntjie, het die onderwyser die kliniek gebel, en gevra dat die ambulans ontbied word.  “Dit was so 8.30 se kant, toe ek en hy met die skool se kombi na die kliniek gehaas is.”

“Daar gekom, moes ons daar staan en luister na die personeel wat in ‘n kantoor staan en klets. Later het die skoonmaker uitgekom en vir ons gevra om tussen die ander pasiënte te gaan sit.

“Dit was vir my te erg, want ek was bekommerd oor my kind, wat regtig siek gelyk het. Ek  het dadelik terug skool toe gestap, en die onderwyser vertel wat gebeur het.”

Die onderwyser het dadelik ‘n personeellid gevra om die ambulans te ontbied, wat nog boonop uit Vredenburg moet kom.

Die Waarheid het ‘n dokter gekontak wat sonder om enige diagnose te noem, gesê het; “Enige gesondheidsfasiliteit gaan dadelik optree as ‘n persoon kla van enige pyn naby die hart, al is dit ‘n borspyn. En die betrokke personeel is opgelei en behoort dus te weet hoe gevaarlik ‘n pyn in jou bo-liggaamsdeel is.”

Toe die skool die kliniek gekontak het, moes hulle dadelik die ambulans kontak het, omdat hulle weet dat hulle nie die nodige fasiliteite het om ‘n kwaal soos ‘n hart- of borspyn te behandel nie.

“Ek kan u egter nie verder help nie, omdat ek in die eerste plek nie met u enige inligting moes gedeel het nie,” het die dokter wat verkies om anoniem te bly, gesê.

Die media het reeds Dinsdagoggend navrae na die mediese media afdeling gestuur, maar het nog geen reaksie ontvang nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!