Skip to main content

Karoo Blues

Karoo-stories met ‘n Kinkel – deur Koos Roets

As jy jouself as een van die karakters herken, voel gevlei.

 

In Prins Albert hou die swart Mercedes voor ‘n imposante nuut-gerestoureerde Victoriaanse gebou stil. Vinni bekyk dit krities. Dis duidelik dat dit uit die tyd van die woloplewing in die Karoo dateer.

“Is dit nou die plek dié?”

Rot knik.

“Lyk maar ‘n bietjie poor white, hê?”

Rot bekyk die gebou sonder veel belangstelling. As Vinni sê dis ‘poor white’, is dit poor white. Wie’s hy om te stry? Wat hom betref, kan die ding van beesmis en steenkool gemaak wees. “Lyk so, Meneer”.

Rot maak die agterdeur oop.

Vinni vee die sweet met die sy-sakdoek van sy voorkop af, trek sy das reg, skiet ‘n paar denkbeeldige rafels van sy skouers af en klim uit. “Ek haat die blêddie Karoo; as jy nie vrek van die hitte nie, vries jy jou gat af.”

Rot rol sy oë en knik instemmend. “Is so, Meneer.”

Vinni plak sy wit Borsalinno Panama-hoed op sy kop en bekyk die gebou. “En dis nou Hyme Goldberg se nuwe fancy emporium dié!”

“Ja Meneer. Klein-Sarel sê hy’t gehoor Meneer Hyme-hulle het miljoene aan die plek spandeer.”

Vinni is nie beïndruk nie.

“Dit was glo destyds gebou toe hulle goud hier op Prins Albert ontdek het.”

Vinni grinnik. “Goud, sê jy?”

“Ja Klein-Sarel sê dit het nie lank gehou nie, toe’s die goud op en …

Rot kry ‘n vieslike kyk. “Spaar my die geskiedenisles, Rot!”

Vinni trek sy baadjie nog ‘n slag reg, sug diep, skiet sy sigaar die netjiese roosbedding in en stap die gebou binne.

 

********************************************************

 

Die helfte van die dorp se inwoners bondel nou om Henri wat uitgestrek en doodstil in die stof lê, saam.

Sersant Winston is op sy knieë langs Henri. Hy lig sy hand op en voel na die pols. Na ‘n rukkie skud hy sy kop. “Nee wat, Henri is weg”.

Daantjie skrik hom byna uit sy paar ‘twenty-nine-ninety-nine Pep Stores slip-ons’ uit. “Wat?”

“Ek sê ou Henri is weg, soos in ge-depart. Hier’s nie genoeg pols om ‘n parra te laat wip nie.”

“Kannie wees nie, Sersant!”

Sersant kom regop en krap sy kop. “Jy beter vir dokter loop roep.”

Daantjie begin hiperventileer. “Wat makeer hom?”

Sersant skud sy kop. “Lyk ek vir jou soos ‘n dokter?”

 

********************************************************

 

In Oudtshoorn sny Boetie gevaarlik voor die aankomende Voortrekkerstraat-verkeer in. Hy maak ‘n roekelose u-draai en mis ‘n aankomende trekker en sleepwa met enkele sentimeters. Dinkie rol haar oë. “Ek gaan vir ma se pa ry alweer soos ‘n moegoe!”

“Die spul is gevrek, ek kan nie heeldag vir hulle staan en wag nie!”

Hy hou voor die KFC stil.  Hulle klim uit.

Boetie vroetel in sy broeksak, haal ‘n vyftigrandnoot uit en gee dit vir Jim. “Hierso. Ek hoop jy kan hierdie plêstiek goed geëet kry.”

Jim neem die geld met ‘n dankbare glimlag. “Dankie Meneer, ek like die plêstiek hoendertjies.”

Dinkie trek ‘n gesig. “Vir wat moet Jim altyd eenkant op sy eie eet?”

“Sommer.”

“Hoekom sommer?”

“Omdat ek so sê!”

Bennie chip in. “Sommer het nie rede nie en skilpad het nie vere nie”.

Van Boetie se vrolikheid is daar nie veel meer van oor nie. “Bly jy stil, Bennie!”

Dinkie is soos ‘n bulldog – as sy eers haar tande ingeslaan het, laat los sy nie. “Ek vra hoekom kan Jim nie saam met ons eet nie, Pa?”

Boetie wag tot Jim by die deur in is voor hy antwoord. “Hoeveel keer moet ek nog vir jou sê ons doen dit nie so nie?”

Dinkie is op die aanval. “Doen dit nie hoe nie?”

“So!”

“Vir wat kan hy nie saam met ons eet nie?”

Boetie raak nou warm onder die kraag. “Omdat hulle anders is as ons, my magtig man!”

“Hoe anders?”

“Net anders. Jy kan mos sien!”

Sy kyk beskuldigend na hom. “Pa bedoel nie wit soos pa nie”.

Boetie stik byna. “Ja, en dis nou genoeg!”

“Dis die nuwe Suid Afrika dié. Sê nou ek trou met ‘n swart outjie?”

Boetie verstar. “Wat?”

“Sal hy dan buite op die agterstoep moet loop eet?” vra Dinkie gemaak onskuldig.

Bennie chip in. “In die kombuis. Daar’s mos darem ‘n tafel en stoele en op die agterstoep …”

‘n Keelvol Boetie val hom in die rede. “Ek’t gesê bly stil, Boetie!”

Hy draai ergerlik na Dinkie. “Wat het jy gesê?”

“Ek’t gevra hoekom kan Jim …”

“Nee ek praat van die trouery?”

“Dinkie’t gesê sy gaan dalk met ‘n swart lat trou, Pa.”

Boetie se kaakspiere begin trek. “Ek’t gehoor wat sy gesê het!”

“Nou hoekom vra pa dan as pa gehoor het?”

Boetie gluur Bennie aan, draai dan na Dinkie. “Jy praat nie eers met ‘n swart seun nie, nevermaaind trou! Verstaan jy my?”

“Is pa nie lekker nie of wat? Wat’s fout met pa?”

Boetie blaas sy eerste fuse. “O, jy wil weet wat’s fout? Kyk net na hierdie verdomde dorp. Vandat hulle oorgevat het, het die land sy gat gesien!”

Boetie beduie so woes en wyd dat hy byna ‘n ou omie se bril van sy kop af slaan. Dié staan verskrik terug. Bennie dink dis snaaks en giggel.

Boetie onderbreek kortstondig sy tirade. “Askies tog, Meneer.”

Die arme ou siel knik en gee haastig pad.

Dinkie krimp ineen van verleentheid. “Pa! Kalmeer net asseblief en gaan in!”

Sy’t nou ‘n ding aan die gang gesit en hardegatheid staan hoog in die saad in Boetie se familie. Sy pa, ou Koos de Wet en Eben Beentjies was vir sewe jaar lank kwaaivriende oor ‘n bokram!

Boetie skop na ‘n leë koeldrankblikkie wat op die sypaadjie lê. “Kyk hoe lyk dit! Dis blikke en papiere en fokkin potholes net waar jy kyk! En dan’s daar mense soos daai blêddie Julius Malema wat hulle lyf rondgooi …”

Dinkie val hom vermakerig in die rede. “Wat’s fout met Julius?”

Boetie ruk sy kop om gluur haar aan. “Wat?”

“Ek dink hy’s ‘n cool dude.”

Boetie snak na sy asem. “Wat sê jy?”

“Sy sê Julius is ‘cool’.”

“Ek’t gehoor wat sy gesê het, Bennie!”

Dinkie roer nou die warm pot met ‘n enorme lepel. “Ek like Julius omdat hy guts het en hy’s nogal sexy in daai rooi outfit van hom.”

“Wat?”

“En hy’t ‘n mooi smile.”

Boetie is stomgeslaan. “Ek glo nie wat ek hoor nie!”

“En hy …”

Boetie val haar in die rede. “Weet jy wat het hy nou die dag gesê?  Weet jy …?”

Dinkie ruk haar op. “Ek’s nie nou lus vir ‘n les nie, Pa. Die skool het gesluit. Al wat ek wil hê, is om lunch met ‘n ordentlike mens soos Jim te eet, dis al.”

Boetie storm die KFC binne.

Leave a Reply

error: Content is protected !!