Skip to main content

Die spookhuis – Deur Sonja Brown

“Jimmel, Herkie, jy moet daai huis sien. Dis to die for!”  Paula, alias Paulus Struwig, het sy bleek hand op sy benerige bors gesit. Dan laat sak hy sy hand vinnig. “Net jammer van die…” Hy pruil effe maar praat nie verder nie.

“Die wát?”

“Nêwwer maaind. Jy sal self nog sien,” het Paulus senuweeagtig gesê en by die slaghuis ingegaan.

Nee kyk, mense moet my nie aan’t wonder laat nie. Ek storm agterna. Binne-in flankeer Paulus openlik met die jong mannetjie agter die vleistoonbank terwyl hy wag vir sy maalvleisbestelling.

Ek gaan staan reg agter hom. “Net jammer van die wat?” vra ek weer.

“Hy stel belang in die kliphuis,” sê Paulus grinnikend vir die blosende verkoopsmannetjie.

“Maar weet hy dan nie van die…?”

“Presies net mooi niks,” sê Paulus en blaas vir my ‘n soentjie toe hy weer by die deur uitglip .

“Kan ek help, Meneer?” vra die outjie belangstellend.

“Wat gaan aan by die kliphuis?”

“Mens, weet jy dan nie? Where have you been?” lag hy vermakerig.

Sag of nie, ek is sommer lus en moer die ou. “Ek bly nou maar eers twee weke hier, my ou,” sê ek stadig. “So nee, ek weet nie van wat ook al mense my nie wil vertel nie.”

“O. That explains it all.” Hy staar agterdogtig na my. “En van waar ken jy vir Pau?”

Wie de dinges is Pau? “Wie?”

“Pau-lus,” sê hy kokketerig met die klem op ‘lus’.

Berge bedek my! “Ek het my hare voor laas week daar laat by hom laat sny. En hom vandag eers weer raak geloop.”

“Jy is nogal danig met hom.” Hy snuif verontwaardig. “En dit vir iemand wat iemand anders net twee weke ken…”

Hoe het Paulus gesê? O ja.  “Jimmel, man! Ek is nie sy tipe nie. En jy ken seker by nou al vir Paulus as ek dinge so opsom. Hy praat met al sy kliënte of hy hulle al vir donkie jare ken.”

Die mannetjie glimlag verskonend. “Dis waar. Hy het net daai touch met mense. Sôrrie. Jy kan seker sien dat ek hom laaik. Baie.”

Nooit! “Wat is aan die gang by die klip huis?”

“Wat wil jy anyway daar doen?” Hy weeg ‘n vars hoender vir ‘n ander kliënt.

“Ek wil die plek koop.” Daar. Ek het dit gesê.

“Nee oema-ghoema, regtig?” Hy gee die hoender aan met groot oë.

Makeer die mense in hierdie klein dorp iets?

“Hoor jy dit?” vra hy die vrou wat vir die hoender gaan betaal. “Hierdie ou wil die kliphuis koop.”

Die vrou wou iets sê maar besluit daarteen. Sy skud net haar kop en loop vining by die deur uit.

Die vleis-outjie kyk my stip aan. “Is jy seker jy het die kwebels om daar te wil bly?”

“Die wat?”

“Uhm, moed. Durf. Uithouvermoë,” fluister hy dramaties.

“Wat de duiwel is fout met die huis?” vra ek afgemete, en ekstra hard.

Die ander mense in die slaghuis kyk my vuil uit.

“Kalmeer. Jy gaan dit nodig hê,” paai hy my. “Mense hou nie lank daar nie.” Hy leun vertroulik vorentoe en sit sy hand langs sy mond. “Dit spook,” fluister hy skaars hoorbaar. “Erg.”

Ek bars byna uit van die lag. “Is dit al?”

Die outjie tree terug asof ek hom geklap het. “Mense wat al daar gebly het is gesertifiseer. Ek hoor die een paartjie is nou nog in Sterkfontein. Vra maar rond as jy my nie glo nie.” Hy help ‘n volgende kliënt en vermy verdere oogkontak met my.

“Dan loop ek maar,” sê ek, maar kry geen reaksie nie.

Ek loop myself oral vas as ek net praat van die huis.  My oog het daarop geval toe ek hier aangekom het. Mens kan dit nie miskyk nie. Die berg waarteen dit gebou is, is lowergroen, en die klip waarvan dit gebou is blink mooi bruin teen die agtergrond.

Dié huis staan een kant, weg uit die dorp. Met rede, en dis genoeg vir hulle, sê die mense altyd as ek oor die plek uitvra. Vra maar vir so of so.

Die huis praat met my, as jy sal verstaan wat ek bedoel. Die vrou wat in die biblioteek op die dorp werk sê sy het hope koerant-uitknipsels iewers waar daar berig word oor moorde wat in die einste huisie plaasgevind het. Sy het een dag lank gelede op dit af gekom, maar weet nie nou waar sy dit gebêre het nie, vertel sy my toe ek by Paulus in die salon stoel sit. As sy dit opspoor sou sy my laat weet.

“Die moordenaar-man het eers sy skoonouers, en toe sy vrou vermoor voordat hy die huis aan die brand gesteek het, en toe homself geskiet het, as ek reg onthou,” sê sy toe.

“Daar was gelukkig nie kinders nie, anders was hulle ook seker bokveld toe,” het die een haarkapster gebrom.

By die koffiewinkel kan ek my nuuskierigheid nie beteuel nie.

“Dok Pieter Schultz het dit op ‘n kol gekoop en probeer red wat te redde was, maar kort nadat hy daar ingetrek het, is hy sak en pak weg na ‘n ander provinsie toe. Hy het geweier om te sê wat die rede vir sy haastige vertrek was. Die plek is steeds in die mark by De Jonge Eiendomme,” sê Alida Verster terwyl sy vir my tee skink.

Haar koffiewinkel is altyd besig. Nie dat ek verbaas is nie. Haar melkterte was iets om oor te dig.

“En vir wat vra jy so baie vrae oor die kliphuis?” Alida was agterdogtig.

“Ek wil dit koop,” kon ek nie weerstaan om te sê nie.

Oomblikke later lê die pragtige geblomde teepot wat sy vas gehou het aan skerwe by my nuwe stewels.

Haar hand bewe. “Jy weet nie wat jy sê nie. Dink mooi voordat jy iets so simpels aanvang. Huur eerder die plek en kyk of jy daar kan bly. Dán koop jy die plek. As jy eers gebind is…” Sy het kopskuddend weggestap en iemand gestuur om by my te kom skoon maak.

Die kelnerin loer onderlangs na my terwyl sy die skerwe optel.

Nee kyk, as Alida se woorde nou nie ‘n uitdaging was nie, dan weet ek nie so mooi nie. Daardie huis móés myne word. Nadat ek my rekening betaal het, is ek weg na De Jonge toe.

Oulike ontvangsdame, net jammer van die onderstebo glimlag.

“Kan ek help?” Sy gluur my aan.

Geen kantoortakt nie, besluit ek. Waar was haar ‘asseblief’ of ‘Meneer’ na die kil vraag? Sy is veronderstel om die venster van die maatskappy te wees.

“Die kliphuis,” begin ek.

Haar nekkie raak sommer op die plek stokstyf. ”Ja?” Haar stemmetjie is twee oktawe hoër.

“As dit nog te koop is…”

 Sy storm by my verby, reguit in ‘n kantoor agter my in, en slaan die deur toe.

Ek storm agterna.

Ontvangsdame sit nou in ‘n stoel en waai haar rooi gesig koel met ‘n maatskappy-pamflet waarop een of ander meenthuis-kompleks geadverteer word. Voor haar sit ‘n gesette man met klein brilletjies. “Dis hy,” fluister sy voordat sy opstaan en weer by my verby storm.

Wat is dit met die vroumens? Ek ruik onder my een arm. Nee, ek is darem nog vars.

“Albert de Jonge,” stel vet man homself voor. “Sit.”

Ek sit.

Hy beweeg na ‘n kabinet teen die muur, en haal ‘n geel hanglêer daar uit. Sy neef se kliphuis was steeds in die mark, vertel hy my stram. Daar was geen agente kommissie nie, want die plek moes dringend verkoop word.

Hy druk ‘n papier onder my neus. Daar staan ‘n bedrag op wat my asem weg slaan. Die plek is amper verniet! Ek moet myself keer om nie in sy arms te spring nie, en forseer myself om sy hand stadig voor my gesig weg te stoot. “Ek sien. Kan ek na die huis gaan kyk?”

“Nee! Ek bedoel, wat is daar om te sien? ‘n Huis is ‘n huis is ‘n huis…” Sy stem bewe terwyl hy vinnig praat. “Kom nou, koop die plek en ek gee jou nóg twintig duisend af. Maar dan teken jy nou.” Hy stop ‘n pen in my hand terwyl hy sy das van sy keel af weg trek.

Wat pla die man?

“Dertig duisend af en dis my finale offer,” sê hy vinnig. Hy pluk ‘n sakdoek uit en vee die druppels sweet van sy voorkop af.

Ek teken.

Sweetgesig pluk ‘n bottel Bells uit sy lessenaar laai en skink vir ons altwee ‘n dubbel voordat syne skoon wegslaan. Hy oorhandig ‘n bos sleutels met ‘n bewerige hand. “Die huis s’n,” prewel hy.

“Ek drink nie,” sê ek en stoot die glas weg.

“O, jy sal. Binnekort,” mompel hy.

“Ekskuus?” Ek hou myself aspris doof.

“Ek vra hoe jy gaan betaal? Verband?”

Jô, die man is flink van denke. Dit was my beurt om te mompel. “Ek hou van sulke speletjies.”

“Ekskuus?” Hy kyk verstom na my maar sê verder niks. Dalk dink hy dat hy my nie reg gehoor het nie.

Ek speel verder. “Ek laai netnou ‘n bankgewaarborgde tjek vir die volle koopsom hier af. Tot siens!”

Ontvangsdame maak of sy agter haar tafel buk om ‘n denkbeeldige papiertjie op te tel toe ek by haar verby loop, en ek hoor hoe Albert haar verlig meedeel dat hy ontslae was van die plek.

“Nou was die plek sy probleem,” brom hy verlig toe ek sy deur agter my toe trek.

Die bankbestuurder het byna flou geword toe ek hom vra om die betrokke tjek by De Jonge Eiendomme te laat aflewer. “Die geld is vir die kliphuis,” sê ek aspris. Ek verlekker my in sy ongemak.

Kennis gee by die tuinwoonstel was nie ‘n probleem nie aangesien ek net van maand tot maand daar huur. Ek pak die bietjie wat ek by my het met ywer. Al my goed ander staan in ‘n stoor. Ek skakel die nommer vir die stoorplek.

“Cindy? Ja, dis Klaas. Ek het ‘n plekkie gekoop. Kan jy reël dat iemand so gou as moontlik my meubels aflaai? Môre al? Dis wonderlik! Hier’s die adres… Cindy? O. ek dog net die sein was swak. Vir ‘n oomblik het ek gedink dat my selfoon alweer moeilikheid maak. Dit het byna geklink of jy na jou asem snak, of iets. Nie? Gaaf. Het jy die adres? Omtrent hoe laat kan die trok daar wees? Ek sal nog vanaand hier slaap, en vroeg deur gaan. Nege uur pas my perfek. Laat weet as ek nog enigiets ekstra skuld, hoor? Tot siens.”

Tot die buurdorp was bewus van die status van my nuwe eiendom. Interessant…

Vir die eerste keer in twee jaar voel ek opgewonde oor iets. My egskeiding het my duur te staan gekom. Die eks het gemelk wat sy kon. Gelukkig het die dame nie geweet van die erfgeld van my oupa af wat ek veilig onder ‘n ander naam belê het vir ses jare nie. Dis al waarmee ek uitgestap het. O ja, en my klere. Nie dat dit die nuwe kêrel sou pas nie. Hy was ‘n bietjie aan die dik kant.

Kan jy glo? Dis skaars sewe uur en ek lê al in die kooi. Toe ek ‘n kind was het ek altyd gedog dat as ek vroeg gaan slaap, die son vroeër sou opkom.

Teen vyf-uur die volgende oggend kon ek dit nie meer hou nie. Ek moes op. Op die kop ses-uur klop ek aan die ou tannie se agterdeur en oorhandig haar tuinwoonstel se sleutels met ‘n groot glimlag. Alles wat ek hierheen gebring het, was agter in my Isuzu bakkie gepak.

“Het jy in die bed gepie?” Sy was vies.

“Nee liewe tannie, maar ek is reg vir my nuwe lewe. En hou maar die huurgeld wat ek vooruit betaal het.”

Haar mond het oop gehang toe ek haar met ‘n klapsoen groet, en sy het die bokant van haar japon stywer om haar keel geklem. Haha, dalk dog sy ek het belang gestel in haar tagtig-jarige … uhm, toemaar.

Hoe nader ek aan die dubbel-verdieping kliphuisie kom, hoe meer kan ek die see ruik. Die klipperige grondpad kronkel en styg en styg en styg… En ek?  Ek sing. Ek sing enigiets wat in my kop kom. My opgewondenheid is gelykstaande aan ‘n graad eentjie wat vir die eerste keer skool toe gaan.

Die laaste honderd meter ry ek zero kilometer per uur. Ek sê die gebed van Jabez op, kry ‘n beeld van hoe gelukkig ek hier gaan wees, en hou stil voor die groot swart staalhek. Mý groot swart staal hek. Daar is ‘n enorme ketting om die bokant wat dit aan ‘n staal paal vashou.

Sleutels. Die bossie wat De Jonge my gegee het word naarstigtelik gesoek en gevind. Vir die eerste keer sien ek hoeveel sleutels hier aan die bossie hang. Dertien. Gelukkig is ek nie bygelowig nie…

Ek probeer die enigste sleutels wat soos ‘n slot s’n lyk, en die slot klik dadelik oop. Die groot hek skuif moeiteloos na links oop. Dit lyk asof iemand gister hier was en oral in die oprit gevee het. Hier was nie ‘n krieseltjie sand te bespeur op die spoor waarop die groot hek loop nie. Dalk die eiendomsagent.

“Welkom tuis, Herklaas Johannes Steyn.”

Het ek my verbeel, of het die kantgordyne in die een vertrek pas beweeg, so asof iemand dit weggetrek het om te sien wie by die hek was? Kon nie wees nie. Dit beweeg nie meer nie…

***

“Japie, hy is uiteindelik hier,” fluister ‘n sagte vrouestem opgewonde binne in die huis, en haar gedaante loop deur die muur na die vertrek langsaan…

Leave a Reply

error: Content is protected !!