Skip to main content

KOOS ROETS ONTHOU BEROEMDES SE STREKE

…al vergeet hy soms hulle name.

Filmmaker Koos Roets kan nie elke oomblik van sy huwelik met Katinka Heyns onthou nie, maar hy sal die laaste dag nooit vergeet nie.

“Ons het die oggend geskei en dieselfde middag verder aan ‘n movie saamgewerk. Ek as kameraman en Katinka as regisseur. Dit was die gelukkigste egskeiding van my hele lewe.”

Nie al Matthys Jakobus Roets se besoeke aan die skeihof het so goed afgeloop nie. Waar hy in die stoepkoelte van sy Victoriaanse huis op Klaarstroom ‘n worshondjie probeer paai, erken Koos dat hy drie keer geskei is en dat dit nie altyd so vreedsaam verloop het nie.

“Ek dink baie keer ek verstaan Willemien beter as wat ek vrouens verstaan.”

Willemien is die swart worshondjie wat so sukkel om Koos te vergewe. Sy voel Koos het in ‘n oomblik van totale stupidgeit ‘n optelbrak huis toe gebring en nou gee hy die Jack Russell wragtag net soveel liefde as wat hy haar gee. Bluey, die Jack Russell, is ook ‘n meisiehond. Willemien kan haar nie verdra nie en behandel Koos ook maar kil.

“Sy sal baie liewer met Eunice vriendelik wees. Ek dink sy glo Eunice is die regte baas hier rond.”

Eunice glimlag in stilte. Die vrou van die huis weet wat sy weet.

Mens kom agter dat Koos dit soms gelukkiger met vriende as vroue getref het. Op 80 moet hy die geheue bietjie reboot om die name te onthou, maar dis duidelik dat hy met warmte praat van die mense wat hy in sy 61 jaar as filmmaker leer ken het.

Beroemdes soos Jamie Uys. Koos het as assistent kameraman vir die legende van die Suid-Afrikaanse filmbedryf op Lord Oom Piet gewerk, lank voor Jamie aan die idee vir The Gods Must Be Crazy gekom het.

“Hy was ‘n mens. Ek was besig om my ambag te leer en kameraman-assistant was een van die laagste vorms van lewe in die filmbedryf. Hy’t my baie goed behandel.”

Jamie het nie geraas of gespot as Koos foute maak nie. En geld kon nie koop wat Koos by die skepper van Daar Doer In Die Bosveld, Vyftig-Vyftig, Hans En Die Rooinek, Dirkie en Rip van Wyk geleer het nie.

“Jamie was ‘n genius. Hy’t wiskunde gegee toe hy nog ‘n onderwyser op Boksburg was, later as algemene handelaar en magistraat in die Bosveld gewerk. Sy beste idees het nie uit handleidings gekom nie, hy het dinge uniek en briljant op sy eie manier gedoen.”

‘n Manier wat Koos ook het. Veral wanneer sy verbeelding groter as die begroting van ‘n film is. Hy word in filmkringe bewonder as ‘n kameraman en regisseur wat wonderwerke kan bewimpel wat lyk of dit ‘n fortuin gekos het.

Vir die leer van sy ambag het Koos ook oorsee gaan werk. Pinewood, ‘n filmateljee gebou op ‘n historiese landgoed net buite London, is basies die Hollywood van Engeland. Koos het in die ateljee se eetplek beroemde filmvervaardigers en akteurs ontmoet. Van hulle het goeie vriende geword.

Sean Connery, die eerste James Bond, het soms na ‘n dag se werk aan The Name Of The Rose saam met Koos dop gesteek. Wat problematies kon raak as die voggies Connery se tong en Skotse aksent begin tref het.

“Sean was ‘n wonderlike ou. Van sy stories kan ek ongelukkig nie oorvertel nie, want ek kon nie altyd presies uitmaak wat praat die man nie.”

Michael Caine se Cockney-aksent het dit nie vir Koos makliker gemaak nie; die ster van Alfie en The Ipcress File was ‘n ou drinkmaat van Sean Connery en dit moes vir die Boertjie soms weird geraak het om die Skot en die Cockney se grappe te volg.

En toe, net om die Babelse verwarring regtig interessant te maak, daag Charlton Heston uit Amerika op om ‘n nuwe film by Pinewood te skiet. Heston, oral bekend as Moses en Ben-Hur, was heel verstaanbaar vir Koos omdat hy met Hollywoodfilms grootgeword het, maar van die Engelse het na ‘n paar doppe erg verwilderd na Heston geloer: dit was beslis nie hoe Moses geklink het toe hy met die Tien Gebooie berg-af gekom het nie…

“Dit was lekker om met sulke ouens maats te maak,” onthou Koos, “want hulle het nie aangegaan asof hulle sterre is nie.”

Hulle sou ook nie by Pinewood daarmee weggekom het nie: daar moet filmgode elke dag afkom aarde toe om saam met ander werkers voor en agter die kameras te swoeg. Daar is nie tyd vir ego-speletjies nie. Koos was teen daardie tyd ook al te gehard om nog vir handtekeninge te vra.

Maar eendag op ‘n reëndag, in die parkering van Pinewood, flood ‘n god sy donkergroen Porche en dis iemand vir wie Koos ‘n geweldige bewondering gekoester het.

Koos ken karre. Iemand is besig om daai Porsche te flood, besef hy daardie dag. En hy gaan kyk of hy kan help.

Die eienaar van die Porsche het toe geen bekendstellig nodig nie: Stanley Kubrick, baanbreker van film. Skrywer, vervaardiger, kameraman, regisseur, hy het alles gedoen in 2001: A Space Odyssey, Lolita, Doctor Strangelove, Spartacus, The Shining en nog sulke meesterstukke wat filmstudente nog steeds na drank dryf, want hulle weet hulle sal nooit sulke beelde kan skep nie.

Koos voel basies soos daardie studente, maar in Pinewood se parkering ontdek hy toe Stanley Kubrick was net ‘n mens. Hy was mal oor karre maar het nie besef hy flood sy Porsche nie, Koos moes hom help die kar aan die gang kry. Hy was net so mal soos Koos oor vliegtuie maar het ‘n vrees vir vlieg ontwikkel, so erg dat hy na ‘n landing in Engeland daar ‘n huis gekoop het en nooit weer nader as die ongelooflike modelle in 2001: A Space Odyssey aan enigiets wat vlieg gekom het nie.

“Sy oog vir detail was ongelooflik,” vertel Koos. “Hy het by Pinewood aan Full Metal Jacket gewerk. Die film speel af in Vietnam maar Kubrick en sy spelers het nooit hulle voete uit Engeland gesit nie, elke palmboom en Vietnamese hut is daar geskep.”

Kubrick was ook lekker eksentriek. Hy het Koos een aand in paniek gebel. Hy was lus vir ‘n toebroodjie met prawns en avokado wat jy toe net in Londen by Marks & Spencer kon koop. Maar hy het vergeet waar die winkel is, Koos moes kom help.

Kubrick, bang vir hospitale ook, sou nie kon doen wat George Peppard gedoen het nie. Die Amerikaanse akteur, gewild as Hannibal Smith in The A Team, het later in Suid-Afrika aan ‘n film gewerk en Koos in die hospitaal op Simonstad kom vermaak nadat ‘n bedonnerde bobbejaan besluit het hy wil nie vir Koos en sy kamera poseer nie.

“Ek en ‘n duur Arriflex-kamera is saam by ‘n afgrond af,” lag Koos nou.

En Koos se vriende het vriende gebly. Jy kan nie maats met Koos Roets wees en ‘n Tobie Cronje, Richard van der Westhuizen, Deon Lotz of Willie Esterhuizen raakloop sonder dat daar oor Koos uitgevra word nie.

“Selfs my vyande wil weet waar ek is,” lag Koos. “Ek dink basies net vir veiligheid.”

Volgende keer: Koos Roets het al amper so ver gevlieg as sy bagasie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!