Die diamantmagnaat en filantroop Louis Liebenberg (links) saam met die Nama-gemeenskapsleier Dawid Marcus by die goeienuus-makietie in Namakwaland.
Sonnette Lombaard
Dit voel soos om uit ‘n aangename droom wakker te skrik, en te wis dit is toe wel die werklikheid. Só het verheugde Nama-leiers gister eenparig en opgewonde gereageer by ‘n mynmakietie soos min tussen Namakwaland se wêreldberoemde diamantduine aan die Weskus.
‘n Nuwe sprankelera vir dié agtergeblewe streek en sy arm inwoners in ons land se noordweste het aangebreek met die bekendstelling gister van Forever Diamonds and Gold se ambisieuse gemeenskapsprojek in Namakwaland. Dis die droom van ‘n Afrikaner-visionêr wat reeds 20 jaar gelede gestalte gekry het en ondanks wye winde van voor, nou trots in volle swang is.
Die projek het werkskepping en daadwerklike opheffing van die inheemse Nama-bevolking én die afgeleë streek ten doel. Daarmee sal FDG oor die volgende paar jaar 5 000 nuwe werkgeleenthede vir mans én vroue by hul myne in Namaland skep.
Meer as 200 gaste van regoor die land het gister ‘n reuse-markiestent neffens die see by die Koingnaas-myn volgeprop om te kom hoor en te sien hoe hierdie grootse droom in Namaland feestelik ontvou. Wyl kunstenaars op die verhoog in Afrikaans die plaaslike talent afgewys en skape en varke op die spitte gesis het, het een ná die ander spreker, duidelik self meegevoer oor hierdie grootse projek hier ter plaatse, die gehoor met woorde betoor.
Tereg so want Louis Liebenberg se geskiedkundige gemeenskapsprojek sal nie net plaaslik die landskap en sy mense ophef soos nog nooit tevore nie, maar skep ook breër nuwe horisonne vir alle Suid-Afrikaners, én is ‘n tydige inspuiting vir nasiebou en vir ons land se wankelende ekonomie en toekoms.
Liebenberg se unieke lewensverhaal en uitgesproke droom om alle Suid-Afrikaners in ons mineraalrykdom te laat deel, het van hom ‘n huishoudelike naam gemaak. Geliefd onder sy ondersteuners maar ook omstrede skryfstof vir sensasiebeluste joernaliste van koerante in oorlewingstryde. Maar die sakeman en mynmagnaat ken van opslagwinde en swaarkry en weer-en-weer-opstaan en sterker aangaan vorentoe.
Gister was die amptelike afskop van Liebenberg se versiende sakedroom oor hierdie dorre, sonderlinge stuk aarde wat ondergronds ryklik bedeeld is met mineraalskatte, afgerond met rare natuurskoon bogronds. Om nie te praat van die unieke inwoners van Namakwaland nie. Waarvan die inheemse Namas ‘n integrale deel is en waarom Liebenberg se plan reg van die begin draai.
‘n Vasbyter ongekend, het Liebenberg elke hindernis oorkom en was sy oorwinning ná twee dekades soet toe hy gister op sy stukke en met sy Dezzi aan sy sy, voor sy gaste sy droom-in-wording kon afwys. Twee busse vol JV-vennote van oral, asook plaaslike politici, die media, en FDG-personeel het gedeel in dié droomdag langs die Atlantiese oseaan.
Walter Niedinger, prokureur van FDG, het die pas aangegee toe hy in sy verwelkoming dit onomwonde gestel het dat die pratery in Namakwaland verby is. “Dis nou die begin van aksie, te danke aan filantroop Louis Liebenberg.
“Wat hier gebeur, is ‘n wonderwerk in die kleine en ná vandag is dit ook nie langer meer ‘n geheim nie. Dit het guts gevat vir Louis en sy span om saam met die Namas deur te druk en die projek te laat realiseer. Dit verdien almal se respek en waardering.”
Paul Swartbooi, een van die Nama-konings, het gesê ‘n droom het inderdaad waar geword. Baie bloed moes egter vloei oor eeue voordat die Namas nou eindelik op hul geboortegrond gaan kry wat hulle toekom. Mynreuse soos De Beers het te lank hier stinkryk geword uit Namaland se ryk skatte sonder om iets van die triljoene wins in die gemeenskappe terug te ploeg.
Inteendeel het die mynhuise alles net so gelos en geskoert en Namalanders het verder verarm. Tot hulle paaie met ‘n Afrikaner-leier gekruis het. “Louis Liebenberg is ‘n nasiebouer en brugbouer. Hy is my broer, wat hier kom hand uitsteek het. “Ondanks dit, kruisig van sy eie mense hom. Maar ons droom saam met hom want ons herken sy hartklop – dit klop op Afrika se ritme.”
Die Namas, deel van die Khoisan-groep, oorleef al duisende jare as nomadiese volk hier aan Afrika se suidpunt. As inheemse groep deel hulle ‘n Moedertaal met die Boervolk en hul oeroue kliektaal het gesorg vir Afrikaanse woorde soos boegoe en koedoe, het Swartbooi breëbors gespog.
Enricho Iriva, hoof van FDG se mynbedrywighede, het in sy aanbieding die projekdetail aan die gehoor verduidelik. “Die Namas is nie ‘n aggressiewe volk nie, maar ken van swerf en swaarkry op hul eie geboortegrond. Ons skep nou vir die eerste keer vir hulle strukture om na behore te ontwikkel en vorentoe te trek.”
Weens die skokkende hoë werkloosheidsyfer van 90% in Namakwaland sal die projek reuse-verligting bring. “Met ons beplande 5 000 nuwe poste, sal letterlik duisende huishoudings hier opgehef word wat afhanklik van die broodwinner is.”
Vir baie van die kleinmyners sal dit ook ‘n eerste voltydse werk en inkomste wees en dit wyl elke werkende hier tot soveel as 30 mense moet onderhou. Die eerste kleinmyners het reeds opleiding voltooi.
Boonop wink ‘n belowende toekoms vir die FDG myne wat oor 144 000 hektaar regoor Namaland strek. Nuwe tegnologie beteken ou, uitgewerkte mynhope kan tydens rehabilitasie weer en beter gemyn word. “Nog triljoene rande se skatte is hier begrawe, wat nog geslagte lank ruim opbrengste sal lewer.”
Dis veral die sg. rarer “diamantsande” of swaar minerale wat hier in Namaland se duine voorkom wat die prentjie radikaal sal verander. Dié gesogte minerale is hoog in aanvraag wêreldwyd en sal by ontginning diamante tot die vyfde belangrikste mineraal hier laat afskuif. “Dit word dan ‘n byproduk in die blink toekoms wat wink,” het Irvia bygevoeg.
Die maatskappy sal juis aanstaande week ‘n hommeltuig opstuur om oor die myngebiede te vlieg en met magnetiese sonars nog diamantneerslae uit te wys.
Daarna was dit eindelik die man se spreekbeurt waarvoor die gehoor gewag het. Die welsprekende Liebenberg het die projek se vroeë sukses toegeskryf aan die feit dat hy Namaland en sy mense goed ken. “Jy kan nie iets aan mense verkondig of verkoop as jy dit nie self ervaar het nie.”
Dit was in Port Nolloth waar Liebenberg as kind gelukkige jare beleef het. Tussen die duine, het sy diamantdroom ook toe al vorm aangeneem … “Ek het reeds op negejarige ouderdom geweet ek kan ‘n rol speel en wil ‘n verskil maak in die land.”
Hy is na die Nama-volk gedryf nadat hy al meer ontnugter geraak het met sy eie Boervolk, “wat net praat en belowe en nie doen nie”.
Dit grief hom lank dat bestaande strukture in die land dit onmoontlik maak vir gewone Suid-Afrikaners om volwaardig aan die ekonomie deel te neem of in ons minerale rykdomme te deel. “Die toegangsvlak is te hoog vir gewone mense. Die wette is vir die rykes geskryf en die middelklas trek al swaarder.”
Dít is wat hy wil verander om gewone landsburger ‘n ware kans te gee om te deel in ons skatte, anders as in die verlede toe net die rykes daaruit kon skep. Hy wis dis die begin van ‘n rewolusie waarvoor Suid-Afrika dalk nog nie reg is nie,” het Liebenberg gesȇ.
Hy het ‘n beroep op mense gedoen om hul gesindhede te heroorweeg. “Kry ‘n hart vir mense. Die Here wil jou gebruik. Word ‘n kopergeleier waar deur God werk.”
Gaste is daarna op ‘n besigtingstoer by die Koingnaas-myn geneem voor Namakwaland se feesdag verby was. Die twee Nama-leiers wat saam met Liebenberg pa staan vir die Nama-kleinmyners se NPC-komitee wat die gemeenskapsprojek dryf, het raakgevat oor gister se geskiedkundige gebeure.
‘n Ingenome Steyn Crew, voorsitter van die nie-winsgewende komitee, het gesê ‘n mylpaal is bereik en wys wat is moontlik in ons land wanneer landsburgers saamstaan en saamwerk en almal menswaardig behandel word. “Ons neem trots en dankbaar eienaarskap van hierdie projek.”
Augustus Kriek van Port Nolloth het die groter storie agter alles opgesom “As Nama-volk was ons hooploos. Nou is daar helder lig in ons donker tonnel.” Sela.
Wat ‘n pragtige storie vir die mense van daadrie Namaqualand streek, om eendag aan hulle nageslag oor te dra. Die streek se mense kan net vir iemand soos Louie Liebenberg dankie sê vir sy omgee…dit gebeur nie vandag baie maklik nie, nie in diè finansiëele agteruitgang van die eens pragtige land nie.
Wat ‘n pragtige storie vir die mense van daardie Namaqualand streek, om eendag aan hulle nageslag oor te dra.
Die streek se mense kan net vir iemand soos Louie Liebenberg dankie sê vir sy omgee…dit gebeur nie vandag baie maklik nie, nie in diè finansiëele agteruitgang van die eens pragtige land nie.