Skip to main content

Microsoft sny hierdie week ongeveer 1 900 poste in sy ‘speletjie-eenheid’ Activision Blizzard en Xbox, het CNBC berig. Dìt volgens ‘n interne memo van Phil Spencer, uitvoerende hoof van Microsoft Gaming.

Die afdankings, wat ongeveer 8% van Microsoft Gaming se 22 000 personeellede sal uitskakel, is deel van ‘n groter “uitvoeringsplan” wat “areas van oorvleueling” sal verminder kort nadat die Amerikaanse sagtewarereus Activision Blizzard vir $69 miljard aangekoop het, sy grootste verkryging ooit, het die hoof van die maatskappy se ‘speletjie-afdeling’ gesê.

“Dit is ‘n bietjie meer as drie maande sedert die Activision-, Blizzard- en King-spanne by Microsoft aangesluit het. Soos ons vorentoe beweeg in 2024, is die leierskap van Microsoft Gaming en Activision Blizzard daartoe verbind om ‘n strategie en ‘n uitvoeringsplan te belyn met ‘n volhoubare kostestruktuur wat ons hele groeiende besigheid sal ondersteun,” het Spencer in ‘n nota geskryf.

Microsoft het sy ooreenkoms vir Activision Blizzard, die uitgewer en ontwikkelaar van verskeie topverkoper-speletjiefranchises, in Oktober 2023 gesluit. Die transaksie het die maatskappy se gewig in die videospeletjiemark verhoog met gewilde titels, insluitend Call of Duty en Diablo. Kenners sê die aankoop hiervan sal Microsoft help om met die industrieleier Sony mee te ding.

Microsoft het Apple onlangs verbygesteek as die wêreld se waardevolste maatskappy met sy markkapitalisasie wat Donderdag $3 triljoen oorskry het.

Leave a Reply

error: Content is protected !!