Engo Vrystaat het hande gevat met twee gerekende plaaslike kunstenaars, Jacobus Silwer en Cezanne Yzelle, wat ’n unieke liedjie vir Engo geskryf, getoonset en uitgevoer het.
Kyk na die Here is ’n liedjie wat spesifiek fokus op ’n boodskap aan laerskoolkinders, maar tog met ’n dieper boodskap vir almal wat daarna luister. Temas wat in die lirieke voorkom sluit onder andere die lag en seer van die lewe, en dan ook die hoop en genade dat daar wel ’n plan is en dat alles oukei gaan wees, in.
Die positiewe boodskap en aansteeklike, ritmiese toonsetting, laat die wysie by jou vassteek; jou voete begin spontaan saam dans en die woorde vloei uit jou uit (of jy nou ’n Kontrak-wenner is aldan nie).
Dié liedjie was De Wet Claassens, die hoof-uitvoerende beampte van Engo Vrystaat, se breinkind. “Elke jaar in Oktober word Omgie-maand gevier; ’n maand waarin daar spesifiek gefokus word om hoop, binne die gemeenskappe waarin ons werk, te bring.
Die fokus val veral op kinders en ook skole,want dit is wáár die groot seer begin.
“Ons wou enersyds ons boodskap op ’n prettige en kreatiewe manier oordra, met woorde wat Engo se hart en die wese van omgee weerspieël, maar andersyds ook die boodskap van hoop duidelik oordra. Engo se leuse is immers Ewige Hoop. Dit is wat ons met die liedjie beoog,” sê Claassens.
Kyk na die Here is vir die eerste keer op 27 Oktober vanjaar op Engo se Omgie-skoledag gesing. Kinders, volwassenes en bejaardes het heerlik saam gesing en gedans op die passies wat vir die liedjie uitgewerk is.
Die plan is om ook later die liedjie in Sesotho te vertaal en dan na verskillende skole uit te rol, in ‘n poging om hoop na alle skole te bring.
Kyk na die Here is reeds op verskeie musiekplatform, soos Spotify en iTunes beskikbaar. Die musiekvideo is middel Desember bekendgestel.