Skip to main content

Isaac Cloete

Enige ongeluk is traumaties, maar wanneer kinders betrokke is, is dit erger.

Die Daniels-gesin van Steinkopf is getraumatiseer  na ‘n fratsongeluk wat hul kleuter verlam gelaat het. Tans hoop en bid hulle onverpoos voort dat klein Fyzihano “Hano” Daniels (4) volkome sal herstel.

Die gesin moes van Steinkopf na Kaapstad reis omdat aanvanklike toetse gewys het dat hy allergies is vir byvoorbeeld koring- en soyaprodukte asook grondboontjiebotter. Sy ma, Madelaine, het verduidelik: “Ons wou presies seker maak hoekom hy soms die allergiese reaksies ontwikkel. Ons het dus besluit om na ‘n allergie-spesialis by Netcare CBM hospitaal in Kaapstad, te gaan. Toetse hier het egter die teendeel gewys – dat hy wel brood, burgers, ensovoorts kan eet.”

Volgens Madelaine was hulle so bly oor hierdie goeie nuus dat hulle besluit het om Maandag vir hom kos soos ‘n burger, ensovoorts te gaan koop. Nadat hulle klaar geëet het by ‘n gebou op die Kaapse stasie, het hulle uitgegaan om kar toe te loop.

Hierna het ‘n groot soort plastiese vensterpaneel onverklaarbaar van die gebou losgekom en op die arme seuntjie geval, het sy verder vertel: “Onmiddellik moes ons met hom terug na die Netcare CBM hospitaal haas. Hulle het die aard van sy beserings bepaal en hom na die Rooikruis-Kinderhospitaal gehaas. Later is vasgestel dat bene in sy nekkie gebreek het. Sy nekkie is nog erg geswel en nou is hy daarin verlam.”

Tans lê Hano onder narkose en verdowing in die intensiewe eenheid (ICU) by Rooikruis-hospitaal.

Sy pa, Fyzle Daniels, was baie gebroke en baie seer, maar kon tog ‘n bietje help met die praatwerk. Volgens hom het die voorwerp wat sy seuntjie getref het, soos ‘n vensterruit gelyk. Hy het bevestig dat sy nekkie en werwel nr. 4 gebreek is. Dit het die funksies van sy maag en blaas geaffekteer.

Intussen het Madelaine Donderdag ‘n bietjie positiewe nuus gedeel: “Baba het Woensdag sy ogies oopgemaak en gereageer as ons hom roep. Hy word moontlik Maandag of Dinsdag geopereer, sê die dokter.”

Dit is nog onduidelik waarom die plastiese vensterpaneel uitgeval het.

Dit het intussen aan die lig gekom dat die gebou aan Prasa behoort. Hul streeksbestuurder, Raymond Maseko, het aangedui dat die ongeluk ondersoek word en dat hulle die Danielse hieroor op hoogte sal hou.

Die Daniels-gesin het intussen versoek dat die publiek asseblief vir die seuntjie moet bid.

Leave a Reply

error: Content is protected !!