Skip to main content

Karoo Blues

Karoo-stories met ‘n Kinkel – deur Koos Roets

As jy jouself as een van die karakters herken, voel gevlei.

‘Sorry Meneer, maar hy’s nie ons lyk nie’

 Met ‘n geknars van remme hou Henri Williams met sy gehawende bakkie oorlaai met brandhout voor die Klaarstroom Bed-en-Brêkfis stil. Hy klim uit, stap die trappies op en druk die voordeurklokkie. Geen geluid, geen reaksie. Hy stap af en druk die bakkie se toeter. ‘n Skril geskal galm deur die gehuggie. Henri kyk stip na die voordeur, vroetel in sy bosak en steek ‘n Camel aan. Hy breek ‘n doringboomdoring van ‘n droë tak af en karring ‘n stukkie koedoebiltong uit sy tande.

Nogsteeds is daar geen reaksie van binne die Bed-en-Brêkfis nie. Henri laat waai weer met die toeter. Die voordeur vlieg oop en ‘n bedremmelde, mompelende Daantjie le Roux met handdoek om die onderlyf gedrapeer, storm vervaart uit. “Ek kom, my magtig man! Vir wat raas jy so?”

“Ek’t jou hout gebring, Daantjie, en die dag stap aan.”

“Ek’t gevra of dit nodig is om so ‘n helse lawaai te maak?” blaf Daantjie.

“As dit nie vir daai verdomde moer-toe deurklokkie van jou was nie, sou die toeterblasery nie nodig gewees het nie. Die ding werk nou al vir weet nie hoe lank nie…”

‘n Moedswillige Henri druk weer die toeter.

Daantjie vererg hom bloedig. “Los daai ding voor ek dit in jou gat in opdruk!”

Henri se kop ruk en hy gee dreigend ‘n tree vorentoe. “Nou toe, kom traai! Laat ons bietjie sien!”

Daantjie spring die stoeptrappies twee-twee af en kom hande in die sye voor die houtsmous te staan.

Henri beduie swaaiend met sy sigaret. “Right, hier’s jy nou! Kom druk jou druk!”

Henri leun oor en blaas weer die toeter. Twee kortes en ‘n lange, nes dié van ‘n ou plaastelefoon.

Dis te veel vir Daantjie. Hy storm vorentoe. “Hou op met daai ding voor ek jou doodbliksem!”

Henri skiet sy sigaret weg en pluk sy baadjie woes uit. Die mou steek vas en hy swets. “Fokkit.” Die mou skeur met ‘n laaste geweldadige pluk. Hy smyt dit vies eenkant neer en kom staan met gebalde vuiste voor Daantjie. “Toe kom! Kom ek wag!”

Dulsie, Daantjie se ewig-lydende vrou, kom kaalvoet met kamerjas en hande teen haar slape gedruk, die voordeur uitgeslof. “Wassit met julle? Vir wat skreeu julle so?”

Met ‘n bewende vinger wys Daantjie na Henri. “Die klein stront soek my!”

Dulsie slaan haar oë ten hemele en trek haar neus op asof ‘n onaangename reuk haar neus ingesluip het. “Los hom Daantjie, die hele dorp weet hy’s nie lekker nie! Seker gesuip ook nog!”

Sy tree die eerste stoeptrappie af.

Daantjie laat sy arm stadig sak. “Ek waarsku jou! Laai af daai hout en dan fokkof jy! Vinnig!”

Henri leun oor in sy bakkie en laat waai weer met ‘n lang, uitgerekte toet.

Dulsie gryp na haar ore, en Daantjie snak na sy asem en spring vorentoe. Hy slaan woes na Henri, wat wild retireer.

Dulsie gil. “Daantjie! Moenie! Los, mens slaan nie aan stront nie!”

Die handdoek wikkel los en val af. Daantjie pluk dit vinnig van sy voete af op en bind dit vervaart oor sy kaal boude en familiejuwele.

Henri spotlag, maar voor hy hom kom kry, hak Daantjie met mening af. Die wilde swaaihou is mis, maar Henri slaan soos ‘n volstruis wat ‘n haelkorrel teen die kop weg het, op die stowwerige sypaadjie neer.

‘n Brawe Daantjie stoot sy bril terug, staan ewe permantig nader en skop-skop selfvoldaan met sy twenty-nine-ninety-nine Pep Stores slip-ons teen die ‘verslaande’ Henri se gehawende Caterpillar-stewel. “Toe jou blêddie grootbek, staan op!”

Daantjie bekyk die roerlose figuur van alle kante. Hy skop weer aan die stewel.  “Henri staan op, ek’t nie lus vir jou stront nie!”

Daar’s geen reaksie nie. Dit begin tot Daantjie deurdring dat alles dalk nie pluis is nie. Hy druk-druk versigtig met sy voet teen Henri se bo-been. “Henri …?”

‘n Effe bekommerde Dulsie skuifel ‘n treetjie nader. “Wassit met hom?”

“Seker uitgepass van skrik. Loop haal water. Gou Dulsie!”

Dulsie draf die trappies op, gryp die gieter tussen die stoepplante en verdwyn die huis in. Daantjie buk by die ‘gesneuwelde’ Henri. “Henri staan op! As jy met my gatskeer, gaan ek jou, die Here weet, doodbliksem!”

Dulsie verskyn met die gieter water en keer dit onseremonieël op die slagoffer se kop om. Geen reaksie nie.

Daantjie se brawade is nou aansienlik minder. Terwyl hy buk, haal hy sy bril af en met skrefies-oë bekyk hy Henri van naderby. “Kom nou Henri, die grappie is verby!”

‘n Bekommerde Dulsie buk langs hom. “Vir wat lê hy so stil, Daantjie?”

“Hoe de hel moet ek weet? Loop roep vir sersant. Hardloop!”

Dulsie vlieg op en sit die stukke in poeliesstasie toe.

Vir die wat nie weet nie, daar’s ‘n hengse verskil tussen ‘n ‘poeliesstasie’ en ‘n ‘polisiestasie’.  Oudtshoorn, George en Mosselbaai het polisiestasies. Klaarstroom egter het ‘n poeliesstasie en dit is Sersant Winston Montgomery Jantjies, ons eie ‘person of colour’, se ‘command centre’. Hy’s die dorp se poeliesman, vredemaker, vroedvrou, predikant, raadgewer, sielkundige en veral huweliksberader. Maar laat ek julle nou eers so ietsie oor Klaarstroom vertel.

As jy nou van De Rust se kant af deur Meiringspoort gery kom, is die afdraaipad na Klaarstroom so drie kilo’s vanaf die bek van die poort. Dan moet jy dêm vinnig briek, anders gaan jy die dorpie misry. As daar die dag dalk ‘n donkie langs die pad sou staan, gaan jy hom vir seker miskyk.

In die historiese deel van die dorpie is daar tien woonhuise, ‘n Bed-en-Brêkfis, ‘n outydse hotelletjie, ‘n bottelstoor – die belangrikste en besigste plek in die dorp -, ‘n algemene handelaar en natuurlik die poeliesstasie. Anderkant die Rooispruit lê die uitbreiding met nog so ‘n seshonderd siele.

********************************************************

Al lyk die Karoo vir jou so rustig en kalm, roer dit hier vir die vale. Dinge waarvoor jy jou hande sal saamslaan, gebeur in ons omgewing. Stories wag nie hier vir mekaar nie, hulle hardloop sommer so saam-saam.

Nou ja, so vyf-en-vyftig kilos noordwes van Klaarstroom, in die dorpie Prins Albert, cruise ‘n splinternuwe swart Mercedes Benz 500S die hoofstraat af.

Rot, ‘n maer mannetjie wie se naam sy voorkoms verraai, is agter die stuur.

Vinni Bertelli, dik sigaar tussen die vingers, uitgevat in ‘n duur Italiaanse snyerspak met sysakdoek in die bo-sak en netjies geknoopte das, sit agter. Hy kyk met misnoë na die verbygaande huise en winkeltjies. “Wie de hel wil in dié kak ou plekkie bly, Rot?”

Hy blaas ‘n bol duur Kubaanse rook deur die venster.

“Ek weet nie Meneer, maar my neef Klein-Sarel wat by die hotel waiter, sê leë stands gaan hier vir meer as ‘n miljoen.”

“Ja?”

“Ja en hy sê hoe meer die ou plekke uitmekaarhel, hoe duurder is hulle.”

Bertelli skud sy kop.

Die Mercedes begin stadiger te ry.  “Het jy die regte adres, Rot? Weet jy ooit waarheen jy op pad is?”

Rot sug. “Ja Meneer, ek weet … Fourty-two, Main Street.”

********************************************************

Aan die anderkant van die Swartbergpas, dis nou aan Oudtshoorn se kant, gly ‘n Land Rover bakkie gevaarlik vinnig deur ‘n draai. Jim, die plaaswerker agterop, klou so al wat hy werd is. Die musiek oor die radio is oorverdowend.

Boetie de Wet, ‘n aantreklike boer in sy veertigs, stuur met sy knieë terwyl sy hande ‘n denkbeeldige basviool bespeel. Die lewe is voorwaar ‘n lied!

Die bakkie kom met slepende bande voor die skool tot stilstand. Boetie spring met ‘n vrolike ‘jis-jis’ uit en gee sy dogter Dinkie ‘n piksoen op die wang.

Sy is nie beïndruk nie. “Pa, die mense kyk vir pa!”

“Laat hulle kyk as hulle wil kyk! Kyk is vry.” Dan as ‘n nagedagte. “Dis ook al wat vry is in die fokken land!”

“Ek gaan vir Ma sê pa vloek alweer en hoekom is pa laat? Ons wag al eeue!”

Boetie steur hom nie aan die mini-tantrum nie. Hy draai na Bennie, gooi sy arms om sy skouers en gee hom ‘n druk. “Ek hoor die Struisies het julle lelik getrap!”

Bennie trek ‘n gesig. “Daai ref het heeltyd gekroek pa! Ek sweer!”

Jim lig sy sweet-deurdrenkte hoed met ‘n vinger en groet. “Middag, julle twee.”

Hulle groet vriendelike. Boetie beduie na die twee se tasse. “Laai maar Jim, dat ons by die huis kan kom.”

Dinky is omgekrap. “Pa’t gesê ons kan by Kentucky gaan eet!”.

“Het ek? Ma het lekker koue frikkadelle by die huis.”

Boetie druk sy vinger in sy keel en maak asof hy opgooi. “Yik”!

“Ja! Pa’t belowe!”

Boetie sug swaar. “Nou klim tog maar laat ek dié beker by my verby kan kry.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!