Skip to main content

Sonnette Lombaard

Jy maak kennis daarmee kort ná moedersmelk, want dis deel van tandekry en grootword in ons land. ‘n Nederige bykossie, weliswaar verleidelik goudkleurig brosgebraai, wat ook op eie bene staan en selfs buite landsgrense geliefd gehap word.

Die tydloos-gewilde braaibroodjie se status as smullekker Africana cuisine is hap vir hap welverdiend. Daarsonder vertoon en proe ons nasionale erfenis-sport, die braai, kaal en laf.

Vra vir een van ons gevierde skrywers, Marita van der Vyver van Griet skryf ‘n Sprokie-faam. Marita wat ook gewilde kosboeke skryf, woon al ‘n kwarteeu in Frankryk maar besoek deurlopend haar geboorteland.

Die nederige braaibroodjie is ongetwyfeld die Boervolk se mees onderskatte bate, verklaar sy beslis. Selfs al woon sy in een van die wêreld se prima-koslande – tans juis in Périgord in Frankryk se suide, wat foie gras oftewel ganslewer-kontrei is – bly die braabroodjie ‘n trotse tuis-staatmaker.

Sy en haar Franse wederhelf Alain se Europese gaste is gek oor die beskeie Suid-Afrikaanse braaibroodjie, verklap Marita. Hulle gesinsresep daarvoor hou by die basiese resep van regte botter, tamatie, uie en goeie kaas soos Cheddar, maar die geheime bestanddeel is ‘n skeut Mrs Ball’s chutney.

Ook in ons Noorder-buurland, Namibië, is die braaibroodjie koning. Sy en manlief, Lourens, word hoeka die braaibroodjie-ambassadeurspaar genoem, vertel oudjoernalis Ronelle Rademeyer.

Die egpaar bedryf al sewe jaar ‘n gewilde Air B&B op hul Windhoekse werf en sowat 95% van hul duisende gaste oor sewe jaar is buitelanders wat dit ‘n week of langer gehuur het. Die gesin braai twee keer in die week en elke gas word aan die braaibroodjie bekendgestel.

“Hulle is versot daarop en skryf ná die tyd briewe om ons te bedank dat hulle voortaan kan saampraat oor ‘n braaibroodjie. Ons leer vir elkeen hoe om ‘n braaibroodjie te maak en ook hoe om dit in Afrikaans reg uit te spreek.”

Die Rademeyers smeer regte botter aan die brood se buitekant. Aan die een kant binne word ‘n mengsel van goeie mayonaise en blatjang dun gesmeer. Dan dun skyfies tamatie, uie (veral pers uie) en geurige verouderde kaas soos cheddar of mozarrella.

Suidwaarts in die Kaap, glo GP en digter Anita van der Walt aan die beste tamaties in dun skywe. Soos die Italiaanse pomodoro. Haar “braaibroodjie duisend” word buite en binne gebotter, dan kom ‘n uitjie in fyn ringe gesny, en egte cheddarkaas daarby “met die towersmakie van ‘n smeerseltjie perskeblatjang om af te rond. Eersteklas-toebie saam met ‘n stukkie sappig-gebraaide boerewors!”

Mede-Kapenaar en fliekfoendie Jacques Liebenberg meen lekker plaas-witbrood is ‘n voorvereiste, gevul met dun snye tamatie, en harder kaas soos emmental of gruyere. Sy smeermiddel is ‘n mengsel van mayonnaise (soos Hellmann’s) en “my ma se tuisgemaakte appelkoos-blatjang uit die Karoo”.

Karooling en oudfotograaf Wilma Kemp hou weer van ‘n stewiger braaibroodjie met kaas, ham en aspersies met ‘n bietjie swart peper daarop. “Ek smeer margarien binne maar aan die buitekant spuit ek dit met Spray & Cook vir nie vassit nie.”

Maar van waar heil hierdie geliefde stapelhappie, wat selfs ‘n Wikipedia-inskrywing het? Terloops die resep daarop bevat die gewone bestanddele saam met blatjang én ‘n bietjie appelkooskonfyt. En wyl ons volkie nou airfryers ontdek het … ‘n skaflike braaibroodjie kan inderdaad daarin gemaak word! Loer gerus op sosiale media.

Die geskiedenis of kuns van die braaibroodjie is vaag en die vele oorvertel-stories kry kinkels. Wel waar, is dat braaibroodjies wat in wese vegetaries is, nog altyd as ‘n bykos saam met braaivleis geëet is, maar dis ook op enkel en alleen ‘n heerlike hapding. Elke generasie het hul eie weergawe(s) wat graag by saamtrekke afgewys word en party word soos familiegeheime dig bewaar.

Tommy Dickson, beter bekend as sjef Vaatjie van Toks & Tjops op TV, het by ‘n karvaan-rally ‘n handige wenk oor braaibroodjies geleer. Dis nou koklingo, deel hy.

“Wanneer jy puntenerige gaste het wat iets van die bestanddele nie eet nie, merk jy die broodjies vir hulle deur ‘n klein hoekie(s) af te sny. Een afgesnyde punt onder regs is bv. vir die nie-ui-eters en twee sulke hoekies bo is vir diegene wat neuse vir chilli optrek.”

Sy gunsteling braaibroodjie het tamatie, rooi uie, kaas en superfyn-gekerfde biltong op. Hy geur dit met knoffelvlokkies, ‘n Aromat-krui en witpeper “wat tamaties se smaak uitbring” en siedaar, jy kan aansit!

Gerda van Heerden van Johannesburg, wat eens ‘n spyseniersbesigheid bedryf het, se geliefdes hou van ‘n braaibroodjie met ‘n meer soet, romerige smaak. “Smeer botter aan die buitekant, en binne romerige mayonaise eenkant en die oorspronklike Mrs Ball op die anderkant. Vul met tamaties, uie en kaas. Rond af met Aromat en peper.”

Taaldolla Estelle de Swardt van Midstream se geheim lê in die broodkeuse. “Ek gebruik soms gekoopte pitabroodjies. Veral as daar baie kos is en twee snye brood te veel is. Dan werk die oulike miniatuurpitas, wat nou oral te kry is, goed.”

Die broodkeuse is ook die troefkaart van Bosvelders Martin en Reta Lombaard. Hulle laat weet uit Modimolle dat die gewone bestanddele van tamatie, uie en goeie kaas hulle weergawe vul, maar hulle gebruik eerder paninis daarvoor.

In die groenlande van Natal braai Petro en Ben Vorster neffens die see in Tugelamond. Hulle braaibroodjiewenner spog met mayonnaise pleks van botter, met tamaties, uie en kaas binne en daarby chutney en basil pesto. Hulle doop dit die “Hulle Weet Nie Wat Ons Weet Nie Broodjie”.

Ons braaibroodjie is duidelik ‘n volkome volksliefling waar ookal. En ‘n standhoudende skat want nie eens die moderne mens se gesonde leefstylmanie kon die braaibroodjie kelder nie. As ‘n ononderhandelbare deel van ons buitelug-volkie se braai, is dit eweneens ‘n volksbate wat palette tydloos behaag en gekoester moet word.

Leave a Reply

error: Content is protected !!