Skip to main content

Basjan se geheim – Deur Annelie Pretorius

Basjan maak die vrag hout op die donkiekar met ‘n tweede tou vas. Sy toutjie is maar dun en hy wil seker maak dat hy nie weer helfte van die vrag verloor soos voorverlede week nie.  Dit het hom geld gekos.

Die vier donkies, Luies, Losgat, Maatjie en Moegoe, trap ongeduldig rond. Hulle weet reeds as die toue vas is gaan hulle begin aanstap village toe. Dan gaan baie handjies oor hulle velle vryf terwyl die ouers bondels hout vir kosmaak by Basjan koop.

Die laaste knoop is geknoop en Basjan spring op langs sy seun Willempie. “Raait, laat waai,” sê Basjan, en Willempie skud die leisels soos hy geleer is.

“Issie water agterop?” vra Willempie.

“As jy dit agter op die karretjie gelaai het, dan is dit seker daar,” het Basjan gesê sonder om te laat dui dat daar niks water op die wa is nie. Willempie moet ‘n les leer.

Willempie sug. Hy wéét dat hy die water vergeet het, en nou is hy én die vier donkies kwaai dors. Hy sê eerder niks. Netnou kry hy weer ‘n oorveeg. Sy pa se hande is gans te los na sy dertien-jarige sin.

Die eerste stop is altyd Pinkie se ouma se huis. Vyf klein kindertjies kom uit die eenslaapkamer huisie gehol en stry oor wie watter donkie gaan vryf.

Pinkie staan net met haar dik bek op die stoep. Soos altyd. “Vandat sy tieties gekry het is sy kwaad vir die wêreld. Praat niks.” het haar ouma Lalie vir Basjan gegrinnik. “PMS… Pinkie moet sjarrap!” lag die ou vrou hees en die lag gaan oor in ‘n hewige hoes bui.

“Jy moet ophou daai cheap siegrêts rook,” raas Basjan. “Jy het nog baie jare wat jy kan benut. Hoor hoe klink jy. Soos ‘n enjin wat stotter voor hy behoorlik start.”

“Wag tot ek wegtrek,” lag Lalie nadat sy ophou hoes het. Sy vat haar bondel hout en betaal vir Basjan. “Ek skuld jou nog, maar Kalla het nie die week piece-jobs gehad nie.” Kalla kry sy naam van ‘n ongeluk op ‘n dikwiel-fiets met ‘n tennisbal onder die sitplek. Een van sy kwebels het in die slag gebly toe hy so twaalf was, en die naam het net bly klou.

“Dis reg, jy kan maar met my regmaak as jy weer kweper-jêm maak,” sê Basjan sag.  Haar inegelegde goeters was meer werd as droë hout, dis for sure!

“Tsk-tsk!”

Die donkies beweeg af in die straat en draai self in by Levi se jaart. Daar is ‘n helder visdammetjie voor in sy erf en die dors donkies suip dadelik van die skoon water. Die vissies skarrel onder waterlelieblare in.

Levi kom uit die huis in sy maak-my-sterk hempie, kortbroek, en kaal voete. Die man het nie geweet dat winter klop nie. Hy loop altyd só tot diep in Julie.

“Het jy ysterhout vandag?” vra Levi met sy pap mond.

“Jy weet ek steek dit altyd vir jou heel onder weg. Jou vrou nou al gekraam?”

“Net gister. Dis ‘n laaitie. Tommie. En hy is blêddie soet, hoor…”

“Wat sê die mense oor jy met ‘n swanger wit vrou hier aangekom het?” terg Basjan.

“Hei, netnou hoor Isabel jou! Jy weet hoe gevoelig sy is oor sy so lig is. Haar ma is net so wit, en kan maklik pass vir wit as dit nie vir die frizz was nie. Gaan jy die hout vir my dra? Ek soek nie splinters in my bo-arms nie.”

Willempie staan reeds reg met die bondel hout en hy loop agter Levi aan terwyl Basjan die donkiekar omdraai. Hy geen nie om nie want Levi stop hom altyd ‘n suiglekker in die hand wat hy dan in sy wang hou tot dit op is.

Die volgende aflewering is redelik uit die pad, en Willempie het al telkemale gevra hoekom hulle juis vir hierdie lot hout moet aflaai. Hopeloos uit die pad uit, en boonop betaal hulle nie vir enigiets nie. Al vir jare.

Die ses-en-twintig jarige Iris is maerder as laas toe Basjan hier was. Lyk my die matras-griep het nou behoorlik posgevat, en sy weier om anti-retrovirale medisyne te gebruik. Dis asof sy wóú doodgaan sedert sy positief getoets het meer as dertien jare gelede. Haar stiefpa wat haar van kleins af wreed misbruik

het, is lankal ses voet onder, met die virus se hulp, en bietjies-bietjies rotgif natuurlik.

“Het jy ooit vandag geëet?” vra Basjan besorgd.

“Jy weet kos gaan my nie lyf gee nie, cutie pie. En van môre af hoef jy nie meer hout te bring nie. Ek gaan by my niggie in Pie-Ie bly tot ek styfskop.”

“Iris! Moenie so oor jouself praat nie,” raas Basjan. “Jy maak my hart seer. En ek gaan jou mis as jy weg is. In Pie-Ie of in die hemel.”

Willempie dra die hout na die klein huisie se kombuis toe terwyl hulle gesels.

“En ek vir jou. As dinge net anders kon wees. As ek net ‘n normale kinderlewe gehad het… Jy weet ek het jou altyd gelaaik,” glimlag Iris hartseer.

“En ek vir jou. Jy weet dit tog. En as jy nie so steeks was nie, dan kon ons bymekaar gewees het.”

“En as ek jou sou aansteek? Ek sal myself nooit vergewe nie Ek weet ons het nou wel daai één keer ge-jy-weet-wat, en dit sonder ‘n kondoom…” fluister sy toe sy Willempie se voetstappe hoor. “Hoe gaan dit met hom?” beduie sy in Willempie se rigting.

“Jy kan mos sien,” glimlag Basjan. “Dertien en windgat. Maar gesond.”

Iris slaan haar maer armpies om Basjan en hou hom so styf vas as wat haar armpies dit toelaat. “Mooi loop Basjan, ons sien mekaar eendag in die hemel. Daarvan is ek seker.”

Basjan sluk swaar aan die knop in sy keel. “Tot weersiens, Irissie.” Hy draai om en klim vinnig op die donkiekar. Dan lig hy sy hand en wuif effe, sy mond stram.

Iris waai nie terug nie. Sy draai om en loop by die huisie in.

Basjan kyk vir oulaas na die voordeur en val in die pad.

Basjan se gedagtes loop wye draai met sy gemoed, en hy lewer die res van die hout in outomatiese rat af.  Iris is onskuldig betrek by iets wat sy geen beheer oor gehad het nie. Hoe werk die lewe? En dan vra die dominee mens moet gelowig wees. Vir wat?

Willempie weet as sy pa so is, moet hy hom uitlos. By hul huisie maak hy die donkies los en roskam hulle goed voordat hy hulle in ‘n kampie toemaak waar hulle rustig kon eet en ontspan vir die res van die dag.

Sampie, die bure sy ses-jarige seuntjie, loer oor die moddermuur. “Wat maak jy, hê” Hy trek sy neusie op en sy haasbekkie is in vol glimlag.

“Maak jouself handig en borsel vir Moegoe. Nee man, nie daai een nie. Moegoe is die een met die een wit kol op sy been. Ja, hy.”

“Kan ons albasters speel as ons hier klaar is?” vra Sampie uit asem.

“Net as Moegoe tevrede is dat jy dit reg gedoen het,” sê Willempie in ‘n streng stem.

Sampie borsel tot sy armpies lam is.

Willempie sit al lankal met sy rug teen die muur en hou die jong laaitie dop. “Oukei, dis genoeg.”

“Dankie, moeder Maria!” sê Sampie dramaties. Sy ma se gunsteling sê-ding het heel duidelik op hom afgevryf.  “Waar is jou albasters?”

Die twee seuns speel terwyl Basjan deur die venster kyk.

Hy kyk lank na Willempie. Hy lyk nes Iris se stiefpa, dié dat sy hom wou verwurg net na geboorte, en Basjan, wat haar help kraam het, het vinnig ingegryp. “Nee! Ek sal hom vat! Jy hoef niks met hom te doen hê nie.”

Hy is huis toe met ‘n pap baba, heeltemal onvoorbereid, en danksy al die bure het Willempie dadelik klere, kombersies en selfs ‘n bottel en blik melk-formule gekry. Almal daar het hom help grootmaak. Basjan het net gesê dat hy die kind opgetel het, en aangesien hy dalk nooit sou eie kinders hê nie, wou hy maar die seuntjie hou en groot maak.

As Iris maar net geweet het dat daai een keer genoeg was om hom óók siek te maak, maar ten minste was hy op medikasie, en het nie siek gelyk nie. Hy het net gehoop dat hy lank genoeg gesond kan bly om Willempie te sien man word, en om seker te maak dat hy Iris se bloed voortdra, en nie dooie Simon s’n nie.

Tot dusver werk sy plan uit. Wat die dag van môre inhou, is vir niemand seker nie. Intussen doen hy sy bes… Vir Irissie…

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!