Skip to main content

Eldré Fortuin

Dylan Britz

Isaac Cloete

“Net hulle kleertjies het op die wal gesit en hulle was nêrens te sien nie.”

So het ‘n hartseer vader, Elandré van Niekerk, Sondag vertel nadat die liggaampies van sy seuntjie en dié se maatjie uit ‘n riooldam gehaal moes word.

Eldré Fortuin en sy maatjie, Dylan Britz (albei 7) het tragies die naweek by riooldamme naby Steinkopf in die Noord-Kaap verdrink. Die damme is onbewaak en sonder ‘n heining of waarskuwingsborde.

Weens die versengende hitte in die omgewing het die seuntjies waarskynlik besluit om lafenis in die damme te gaan soek. Inwoners het vertel dat Steinkopf hierdie tyd van die jaar omtrent warm kan raak.

Volgens ‘n polisie-woordvoerder, luit/kol Sergio Kock, was die twee vanaf Saterdagmiddag vermis. Die ouers het aanvanklik orals na hulle gesoek, maar dit eers Saterdaand voor twaalf by die polisie gaan aanmeld. Hulle liggame was Sondag by die riooldamme gevind.

Van Niekerk was gebroke en het die skuld vierkantig op die Nama Khoi munisipaliteit se deur gelê. Hy werk in die Kaap en het bedroef vertel: “Ek is seer en het nog nooit so baie trane in my hele lewe gestort soos vandag nie. Ek hou die munisipaliteit hieroor verantwoordelik. Ek vra dus die hulp van die media om die onveiligheid van die damme te ontbloot.”

Volgens Van Niekerk moet die munisipaliteit verplig word om dit toe te span sodat ander ouers nie dieselfde oorkom nie.

Ronel Brandt, ma van Eldré Fortuin, was verpletter. Sy het vertel dat die liggaampie van haar seuntje Sondagoggend eerste gekry was. Eers later Sondag, voormiddag, het die polisie-duikers die liggaampie van Dylan gekry.

“As ek geweet het dit sou jou laaste sien wees, sou ek jou eindeloos vasgehou het. My kind, jy is nou veilig by God.”

Kapt Paul Swartbooi is ‘n voormalige inwoner van Steinkopf. Hy het Sondag spesiaal vanaf Springbok na sy geboortedorp gereis om die families te ondersteun. Hy het weer besoek by die riooldamme gaan aflê nes voorheen. “Dis hartverskeurend wat gebeur het, derhalwe my simpatie aan die families. Ek is verder teleurgesteld in die regering wat nie sportgeriewe en swembaddens vir ons jeugdiges daar stel nie. Daar is geen fasiliteite in die Noord-Kaap nie wat so bloedig warm kan word. Ons jeugdiges het dus geen keuse nie as om hulle na onveilge damme, modderpoele en selfs riviere te wend,” het hy betoog.

Swartbooi het briesend beklemtoon dat die Noord-Kaap as regering en die plaaslike munisipaliteit hulle pak sal moet vat vir die dubbele tragedie.

Die Waarheid het intussen verneem dat daar al voorheen kinders hier verdrink het, omdat die damme nie omhein was of is nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!