Skip to main content

Dricus du Plessis is Suid-Afrika se eerste UFC-kampioen!

Die Suid-Afrikaner het sy middelgewig-titelgeveg teen Sean Strickland in Toronto vanoggend (SA tyd) met punte oor vyf rondes gewen. Saterdag is op sosiale media versprei dat die geveg reeds 5:00 begin, maar Suid-Afrikaners moes tot 8:00 voor die kassie wag voordat die twee vegters begin appels swaai het.

“Nou weet hulle wat ons weet!” het ‘n verheugde Du Plessis na die geveg in Afrikaans op die mikrofoon gesê en die Suid-Afrikaanse vlag trots vertoon. Sy hoek het ook tussen rondes deurentyd Afrikaans met hom gepraat.

Du Plessis het twee van die drie beoordelaars oorreed om hom die groen lig te gee deur deurgaans vorentoe te beweeg en groter aggressie aan die dag te lê. Hy het ook met sy kardio beïndruk deur sterk te bly tot die einde, terwyl baie leunstoel-kenners vooraf voorspel het dat sy petrol in die kampioenskapsrondes, rondes vier en vyf, sou opraak.

Tot vanoggend het Dricus nog nooit meer as drie rondes geveg nie, maar sy onlangse neusoperasie het sy asemhaling baie verbeter en hy het na die geveg nog redelik vars gelyk.

Maar dit was allermins maklik. Baie waarnemers het die geveg trouens aan Strickland toegeken, maar gelukkig is dit die drie beoordelaars se mening wat saakmaak.

Du Plessis het baie misgeslaan en Strickland se geleerde reguitlinker het tamboer gespeel in Du Plessis se gesig, in so ‘n mate dat die Suid-Afrikaner se oog na die tweede ronde byna toegeswel was. Du Plessis kon ook weinig uitrig wanneer hy Strickland grond toe gevat het. Hy het die Amerikaner se voete ‘n hele paar keer onder hom uitgepluk, maar kon op die grond nie met sy stoei of jiu-jitsu hond haaraf maak voordat “Tarzan” opgestaan het nie.

Du Plessis sal waarskynlik nou ‘n blaaskansie vat, maar die nuwe kampioen kan nie regtig op sy louere rus nie. Sy volgende geveg sal of ‘n herontmoeting met Strickland, ‘n kragmeting met die Sweeds-Tjetsniese sensasie Khamzat Chimaev of die voormalige kampioen Israel Adesanya wees.

Met die nuwe lang asem wat hy vanoggend tentoongestel het, kan Die Waarheid nie insien dat Chimaev vir veel langer as die eerste ronde vir Dricus ‘n bedreiging sal wees nie. ‘n Tweede geveg teen Strickland kan, soos ons vanoggend gesien het, enige kant toe swaai en as Adesanya nog werklik in die sport belangstel, kan ‘n geveg tussen Drickus en die Nigeriese Kiwi ‘n naelbyt-gedoente wees.

Leave a Reply

error: Content is protected !!