Skip to main content

Sonnette Lombaard

Hartverskeurend en onvervangbaar. Huidige en voormalige inwoners van Brakpan het gisteraand stom trane hoorbaar hardop weggesluk toe skokvideo’s en foto’s aanlyn begin verskyn het van ‘n beeldskone en geliefde dorpsbaken wat vinnig besig was om in woeste vlamme op te gaan.

Die pragtige ou biblioteekgebou, ‘n spog-erfenisstuk uit die 1920s, is nou vir altyd daarmee heen. Daarmee saam is ‘n groot klomp waardevolle en onvervangbare geskiedkundige dokumente oor dié befaamde Oos-Randse myndorp ook vir altyd verwoes. Dit sou glo nog deur die ANC-beheerde raad na die nuwe dorpsbiblioteek verskuif word.

Die ou biblioteekgebou in die ou middedorp het leeggestaan nadat die dorp die deure van sy nuwe biblioteek van R14 miljoen in 2018 geopen het. Herhaaldelike klagtes van bekommerde inwoners oor die verval en vandalisme van die ou biblioteekgebou het op dowe ore geval.

Losweg een van die mooiste geboue in die land, het Brakpan se statige ou biblioteek op die hoek naby die ewe mooi stadsaal gisteraand in ‘n reuse-vlammehel gegroet.

Vermoedelik brandstigting nadat lieplappers en kwaadwilliges lank reeds die leegstaande gebou betrek het. Boonop is die boeke en ander geskiedkunige dokumente wat steeds daar was, as toiletpapier en vir vuurmaak gebruik.

Herhaaldelike klagtes hieroor van onder meer die DA-raadslid vir Wyk 97, Brandon Pretorius, was puur verniet. Brakpan is deel van  die Ekurhuleni Metroraad wat deur die ANC beheer word. Bekommerde inwoners het later reg in eie hande geneem en die ingang en deur na die ou biblioteek afgekordon. Maar puur verniet, vandale het dit bly beset en beskadig.

Vir geslagte Brakpanners wat oor dekades die pragtige gebou as ‘n soort vertroostende en plesierige, tweede tuiste geken het, insluitende hierdie skrywer, is die werklikheid vanoggend nog te erg om te verwerk. Dis soos om ‘n geliefde te verloor – dit het nie net ons leesliefde en kennisdors gevoed nie, maar was ook vakansies die lekker plek waar ek as tiener en later as student ekstra sakgeld kon verdien.

Daai lieflike biblioteekgebou het inderdaad geslagte generasies van kennis en leesplesier voorsien, jou aan die wonderwêreld van boeke en stories en mense bekendgestel. Dit was ons nuuskierige siele se opvoedingsbron, kennismaking en blootstelling aan die wye wêreld en als daarmee saam. In kort, daar is jy geslyp en toegerus vir die grootmensmenswêreld.

Die hartseerfeit is dat hierdie nie die eerste of laaste ou, geskiedkunige gebou in ons land is wat weens verwaarlosing en bose dade sal ondergaan nie. Min dinge bly nog bestand met die inkonk van plaaslike rade landwyd wat vervuil is van onbevoegdheid en grootskaalse korrupsie en geldmors en wat se euwels nog.

Brakpan se geskiedkundige rolbalklub, nog ‘n geliefde baken vir inwoners al sedert die dorp se onstaan in 1919, het ook ‘n jaar gelede afgebrand. Rondlopers wat in die gebou gewoon het, het glo ook dié brand begin. Die gebou het sedert sy sluiting in 2017 in verwaarlosing verval.

Boonop is die Oos-Rand, van alle plekke, bekend as een van die beste art deco-mekkas wêreldwyd en spog met ‘n indrukwekkende, groot aantal geboue in dié flambojante styl binne een gebied. Dit het liefhebbers en kenners van wyd gelok. Baie van dié geboue het egter ook sedertdien verval.

Vir eers treur ons trotse Brakpanners nou oor daai mooi biblioteekbaken van kennis en veral hoop wat ontydig vir altyd weg is. Verwens stilweg saam ons verdomde vasteland en al sy vergrype. Die troos is egter dat geen vuur of bose dade die mooi herinneringe van en oor hierdie hoekgebou kán uitwis nie.

Dit nestel tydloos in ons dankbare harte. Dit was ons plesierparadys waar jy ses boeke op ‘n slag kon uitneem. Die boeke is nie net onder mekaar in gesinne uitgeruil, nie, maar ook sommer tussen huise en buurkinders oor en weer. So het ons saam gelag en gehuil en geleer.

Vir vorige generasies waarin boeke se waarde anderkant woorde was, was Brakpan se biblioteek vir baie van ons ‘n kern-aandoenplek onderweg na wasdom. Wat nou ook die duur prys van Afrika se dwaasheid moes betaal. Maar daai statige ou dame was óns spogstuk en heiligskennis, ons poort na die buitewȇreld anderkant ons kleindorp-grense, ons voortydige Google in sement, as jy wil. Onuitwisbaar dus. Dankie tog.

Leave a Reply

error: Content is protected !!