Skip to main content

Sonnette Lombaard

Dis ‘n suksesverhaal van ‘n blonde eva gebore uit nood. In ‘n tyd toe vroue stil, stemmig en stigtelik was. Maar is jy ‘n platsak-enkelma, moet jy oorleefplanne beraam. Gelukkig sou Anina Roux se woordspelwaagstuk in ons eie moedertaal haar nooit weer laat terugkyk nie.

Dié vasberade vrou is vandag ongetwyfeld die koningin van blokraaisels en woordspelle in Suid-Afrika, hetsy in Afrikaans of Engels. Nou ná 40 jaar van derduisense blokraaisels en later ook sudokus opstel vir al wat ‘n koerant en tydskrif is en ‘n dosyn boeke daaroor uit haar pen, “rus” Anina welverdiend in haar aftree-hotel neffens die skone see.

Maar op 78, wil woordwoekeraar Anina nog lank nie haar Aardse woordparadys groet nie. Sy kán nie. Woorde en raaisels is haar Aardse atlas en brandstof vir die lewe op-oemf. Dit hou haar jonk en sane. “Ek droom dan selfs van woorde!”

Anina se ongewone kinderjare – sy was in agt skole – en rondtrekkery saam met die gesin het haar oorleefdrang en kennis-dors vroeg gevoed. Pa Grobbie was bankbestuurder – sy somkop kon afgesmeer het want blokraaisels opstel, behels ‘n skeut wiskunde.

Ma Fransie was die woordmens wat haar Boerfamilie se kreatiewe dagboekhouery van altyd af, voortgesit het. Ironies sou al vier Grobbelaar-kinders eindelik met woorde en taal woeker. Ousus Anina se broer Albé Grobbelaar, was lank radio-omroeper by die SAUK.

Maar al was sy ook goed met tale en opstel skryf op skool, is Anina ná matriek op Standerton agter pa aan in die bankwese die Vrystaat in. Sy het wel geweet sy sou eerder graag joernalis wil wees.

Haar kans het gekom ná haar egskeiding toe sy as jong enkelma in die vroeë 1970s groot stad toe is. Agter haar koerantdroom aan. Sonder die regte kwalifikasies, kry sy by die destydse Hoofstad koerant ‘n kantoorwerkie “om slegs joernaliste se telefoniese beriggies in te tik”. Dit was wel ‘n begin in die regte rigting … en Anina is juis ‘n vasbyter soos min.

In ‘n era toe vroue nog ondergeskik was, waag sy dapper en bied ‘n nuusstorie of twee uit haar pen aan. Dit vang oog en ‘n aanstelling as joernalis volg eindelik. Die unieke bevrediging van die joernalistiek is egter nog altyd beklad met swak salarisse.

Anina moes dringend haar inkomste aanvul en haar kop werk oortyd vir planne bedink. Woordkennis was haar passie – sy kon haar woordliefde en –kennis mos inspan vir blokraaisels opstel, of hoe? Boonop in Afrikaans, want daarin was die moontlikhede legio.

Sy lees ywerig op oor die geskiedenis en leer oor die wetenskap daaragter. Dit was in die tyd voor die kuberruim en het tyd en geduld gevra. Sy was gou gehook. “Die agterstevoor-uitdaging om te begin by die antwoorde en dan die vrae uit te werk, was verslawend.”

Haar eerste pogings verskyn in Rapport. Dit was ‘n kitswenner. Nuwe horisonne het gewink. Sy werk egter intussen eers by die tydskrif Rooi Rose as mode- en skoonheidsredakteur en later in die promosie-afdelings by Huisgenoot en Sarie.

In haar vrye tyd kon sy egter haas voorbly met koerante en tydskrifte wat haar Afrikaanse en Engelse woord-raaikuns versoek het. Tussendeur roep sy die kundigheid van ‘n Engelsman in wat ‘n rekenaarprogram ontwerp het vir sudoku opstel. Toe kon sy vlieg.

Anina bedank en begin as voltydse vryskut om woordspelle uit te ryg. Sy stig die maatskappy XWord. Sy besluit om dit ‘n familiebesigheid te maak, siende sy toe reeds haar twee dogters, Carin en Samantha, die fyner kunsies van blokraaisels geleer het. Sus Louise en haar seun Rick, en broer Albé en sy seun, Duard, kom by. Ander taalkundiges word gebruik soos nodig.

Die maatskappy verwerf gou aansien en kort voor lank gebruik al wat ‘n publikasie in die land en selfs internasionale kliënte haar dienste. Toe die Sudoku-gier die mensdom pak, haak sy dit slim aan. Dié gewilde logiese legkaart is ‘n syferspeletjie, minus die wiskunde. Vandag skep en redigeer haar ervare span steeds ‘n groot verskeidenheid legkaarte en woordspeletjies. Afrikaanse legkaartboeke deur XWord uitgegee, sluit in die Groot Afrikaanse Pretboek, Bybelblokraaiboek, Grootdruk-blokraaiboek en die Finweek Blokkiesraaiselboek.

Met die koms van die kuberruim begin die mediabedryf wêreldwyd swaar trek en talle koerante en tydskrife maak toe. Dit het Anina ook geraak maar haar maatskappy oorleef en spog tot vandag met lojale kliënte.

Sy vertel mooi stories oor woorde se wonderweë. Soos die dagblad Daily Sun, nou haar grootste kliënt. Die koerant is veral onder swart lesers gewild. “Ons swart landsburgers het so blokraaisels ontdek. Hulle sit in taxi’s en vul dit saam-saam in,” verklap sy.

Daar is ook die man wat op Tafelberg sy verloofde die ja-woord wou vra, met die hulp van ‘n spesiale blokraaisel. Anina het dit opgestel, met die laaste vraag se regte antwoord wat gelui het: “Sal jy met my trou?”

Sy moes ook al blokraaisels ontwerp vir troumakieties waar die gaste dit invul wyl die bruidspaar foto’s neem. Bekendes met ‘n voorliefde vir woordspelle kom draai ook soms by haar, voeg Anina by. Soos sanger Jannie du Toit.

Hoor Anina ‘n splinternuwe woord, is sy steeds so opgewonde as toe sy woorde ontdek het. Weet sy nie die betekenis nie, speur sy dit blitsig na. En voeg dit by haar lywige woordlyste vir gebruik – die Afrikaanse een trek al by ver meer as 10 000 woorde.

Blokraaisels invul en Sudoku speel, is ouderdomlose tydverdrywe wat enigeen se algemene kennis en kritiese vaardighede opskerp. Dis uitstekende gesinsvermaak, bevestig Anina.

Toe semi-aftrede wink, het Anina die Goudstad vir die Kaap verruil. Nou onderweg na 80 somers, is haar woordkunsoes geil. “Ek bly verslaaf aan die nuus. Dis ‘n lewensingesteldheid.”

Woorde rank inderdaad so welig deur haar lewe, dat Anina oortuig is sy is daarmee gebore. Deesdae laat dié ouma van ‘n 25-jarige kleinseun egter die woordspelle aan die jonges oor, terwyl sy toesig hou. “Ek is ‘n moeilike baas. Hoë standaarde geld, ek duld geen foute in blokraaisels of sudokus nie.”

Daar vanuit haar “anderste” hotel-aftreeoord digby Muizenberg, bly sy dus deel van die woordwêreld wat tydloos verryk en verruim. Die St James Hotel was eens ‘n statige ou hotel, en lyk soos iets uit ‘n fliektoneel met die spoorwegstasie reg voor die hotel en die see daar agter.

Die titel doyenne oftewel ‘n hoogsgerespekteerde of prominente vrou in ‘n bepaalde veld, kom hierdie dapper Afrikaanse vrou toe. Ons oeroumas sou gloei. In ‘n taai tyd het dié Boerin plan gemaak en met haar brein en stem merk gemaak. En só die wonderwêreld van woordspelle in ons moedertaal uniek help ontsluit. Ruik na pure volkskat.

Leave a Reply

error: Content is protected !!