Isaac Cloete
Dis nie aldag nie dat ‘n beskuldigde sy borgtogvoorwaardes wil laat verander nie.
Dit is dus ook nie vreemd nie dat Jacobus “Japie” Claassens (59), onlangs besluit het om eerder sy nuwe borgtogaansoek prys te gee. Hy is, onder streng voorwaardes, uit op borgtog van R5 000.
Vrydag wou hy aanvanklik die hof op Springbok versoek dat van sy streng borgtogvoorwaardes verander word. Tydens ‘n vlugtige hofverskyning het hy toe aangedui dat hy dit laat vaar het.
Claassens (59) van Vioolsdrift staan tans tereg op twee klagtes van moord, nadat sy vriende James Kriel (56) en Coenraad de Beer (54) op 31 Oktober 2023 vermoedelik deur hom doodgeskiet was.
Hulle was ten tyde van die dubbele tragedie op Rooiwal, naby Vioolsdrift, gaste van Claassens volgens ‘n polisiewoordvoerder, kolonel Cherelle Ehlers. Claassens het hom toe self aan die polisie oorhandig.
Sy vorige verskyning was op 14 Desember in Springbok. Om een of ander rede kon die landdros nie die hofverrigtinge bywoon nie. Sy saak was dus uitgestel tot Dinsdag, 19 Desember, volgens die streekswoordvoerder van nasionale vervolgingsgesag (NPA), Mojalefa Senokoatsane.
Vrydag se hofverrigtinge was nie lank nie, nadat hy aangedui het dat hy sy nuwe borgtogaansoek gaan prysgee. Die hof het dus beslis dat die saak uitgestel word tot 28 Februarie. Dit is ook verskuif na die distrikshof te Vioolsdrift.
Duncan Brits, sy regsverteenwoordiger, kon nie vir kommentaar opgespoor word nie.