Skip to main content

George April

Shelley Point Hotel en Spa, langs die “Golden Mile Boulevard” in St Helenabaai het op 2de Nuwejaars-oggend  tot as verbrand, wat vele personeellede sonder inkomste gelaat het.

Die nuus oor die gewilde hotel se brand het vroegoggend op sosiale media aandag getrek.  Terwyl die brand aan die gang was, het Voilet–Ann van Heerden geskryf: “die admins is nog in skok, gee kans.” Dit was nadat Die Waarheid op ‘n blad vir inligting gevra het.”

 “Gelukkig is geen van die werkers of gaste dood of beseer nie, het Christina Otto en vele ander bekommerde lesers op facebook geskryf.  Dis tyd dat St Helenabaai sy eie brandweerstasie kry, veral noudat die klein brandweerstasie uit Vredenburg verskuif is na die nuwe Saldanhabaai lughawe, was Carol Jordaan se mening.

Brandweerbeskikbaarheid in die Saldanhabaai munisipaliteit is ‘n kopseer vir baie dorpe in die streek. Behalwe dat St Helenabaai nou byna 30km vanaf naaste brandweerstasie is, is Hopefield die grootste verloorder.

Die betrokke dorp is meer as 30 km buite Vredenburg, en oor die jare het die brandweer net die huise se as kom doodspuit.

Die Waarheid dink egter aan die meer as ‘n honderd  personeellede van die betrokke hotel wat so vroeg in die nuwe jaar sonder werk gaan sit.

Die polisie se Weskus-mediawoordvoerder, kaptein Tania Helfrich, het gesê Shelley Point Hotel is aan die brand en die brand het byna alles vernietig. ” ‘n Ondersoek sal mettertyd van stapel gestuur word, maar ek glo nie dat enige ander inligting gou beskikbaar sal wees nie.  Die brandweer se ondersoekspan sal eers die voorval moet ontleed.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!