Skip to main content

Ten spyte van die wisselvallige Rand en kommer oor skeepsroetes in die Rooi See, sal plaaslike brandstofpryse steeds na verwagting daal wanneer dit volgende Woensdag deur die departement van minerale bronne en energie aangepas word. In kommentaar op ongeouditeerde data van die Sentrale Energiefonds (CEF), sê die Automobielvereniging (AA) die syfers dui steeds op verlagings in brandstofpryse oor die hele linie.

Volgens die CEF se syfers sal ULP95-petrol na verwagting met sowat 54 sent per liter laer wees, terwyl ULP93 op ‘n daling van sowat 39c/l gestel is. Dieselpryse sal na verwagting aansienlik daal met tussen 94c/l en R1,02c/l, terwyl paraffien met sowat 95c/l sal daal.

“Hoewel ons verwag dat brandstof in Januarie goedkoper sal wees, bly ons bekommerd oor die algehele hoë pryse wat ’n impak op alle verbruikers het. Indien die verwagte dalings gerealiseer word, sal petrolpryse steeds hoër wees as wat dit in Januarie 2023 was, maar dieselpryse sal effens goedkoper wees as dieselfde tyd. Ons moet dit alles sien in die konteks van verbruikers wat steeds herstel van skerp brandstofprysstygings in September en Oktober,” sê die Vereniging.

Die AA sê verder hoewel 2024 op ‘n positiewe noot vir verbruikers begin, is dit nog te vroeg om te bepaal of die neiging tot laer pryse sal voortduur, veral gegewe huidige geo-politieke ontwikkelings wat ‘n impak op internasionale oliepryse het.

“Om hierdie rede is ‘n volhoubare oplossing om stygende brandstofkoste te versag steeds nodig en totdat daardie oplossing gevind word, sal burgers aan die genade van brandstofprysverhogings oorgelewer wees. Ons doen weer ‘n beroep op die regering om dringend ‘n deursigtige hersiening van die brandstofprysstruktuur te begin om hierdie oplossing te soek,” sê die Vereniging.

Die Vereniging sê veranderinge aan hierdie data word verwag voor die formele aankondiging deur die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie (DMRE) voor Woensdag se aanpassing. Dit sê egter enige verligting in hierdie stadium is welkom.

Leave a Reply

error: Content is protected !!