Skip to main content

Isaac Cloete

 Binne maande het die dood vier persone van twee families genadeloos vanaf hulle weggeruk.

Die mees onlangse een is die hartseer verhaal van die Diergaardt-familie van Komaggas. Knap voor Kersfees op 21 Desember het John “Pila” Diergaardt, sy vrou, Genavieve en hul seuntjie, Jaydon, in ‘n noodlotige ongeluk op die Van Reenenspas gesterf. Hul sesjarige dogtertjie was ook in die ongeluk. Sy het dit wonderbaarlik oorleef, maar haar arm is gebreek.

Drie ander persone, Jacobus “Mannetjie” Cloete en Harold “Boetie”Durrington (beide van Buffelsrivier, asook Angus Isaacs (Kharkams) het ook in die blou dubbelkajuitbakkie gesterf waarmee hulle gereis het.

Volgens kol Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, het die bestuurder vermoedelik beheer oor die voertuig verloor en teen die berg langs die pad gebots. Die ongeluk het op die R355 tussen Komaggas en Buffelsrivier gebeur. Hulle was op pad na Springbok om inkopies te doen.

Die bestuurder van die bakkie het dit oorleef asook twee ander volwassenes wat blykbaar by hom ‘n geleentheid gekry het.

“Dit is ‘n bitter beker om te drink… Ons gemeenskap is in skok. Slegs ‘n paar dae voor Kersfees het drie geliefdes uit een gesin die dood ontmoet en ‘n dogtertjie wees gelaat,” het ‘n inwoner van Komaggas, David Magerman, gesê.

Magerman het na die tragedie sy hartseer en medelye oor sy skoolmaat verder só bewoord: “Ons het saam skool toe gedraf, saam gespeel en saam stout gewees. Pila was ‘n lieflike mens. Pila was die jongste en ook enigste seun van antie Lena Diergaardt. Hy het ander beskerm. Boonop was hy ‘n lojale vriend wat respek by ander afgedwing het.”

Die bejaarde Antie Lena Diergaardt (80) het verlede Saterdag, na die ongluk aan ds Christo Prsent op Komaggas gesê:

“Dominee, die Here het my hard geslaan.” Volgens diaken Remonia Cloete, (neef van John) word die drie Diergaardts Saterdag, 6 Januarie, 2024, uit die VGK te Komaggas te ruste gelê. Sy het gesê:

“Ons is verpletterd en stukkend. Dis baie hartseer om drie mense uit een gesin so te verloor.

* Behalwe Mannetjie, was die Cloete-familie vroeër die jaar deur ‘n ander tragedie getref. Mannetjie se broer, Riaan, was deur ongekende vloedwaters, wat Namakwaland toe getref het, meegesleur. Sy liggaam was nooit gevind nie, volgens Frederick Veldman, ‘n kennis van hulle.

Ehlers het ook vertel dat ‘n saak van strafbare manslag teen die bestuurder van die dubbelkajuit ondersoek word, asook die oorsaak van die ongeluk.

Leave a Reply

error: Content is protected !!