Skip to main content

Isaac Cloete

Ses mense het Donderdag net voor Kersfees in ‘n ongeluk omgekom.

Drie persone van een gesin was onder die sterftes en dit word beskryf as een van die mees tragiese ongelukke nóg in Namakwaland.

Volgens bronne was die ses op pad na Springbok om onder meer Kers-inkopies te doen. Hulle het vermoedelik vier rylopers opgelaai. Die blou dubbekajuitbakkie het later die pad verlaat en teen ‘n berg gebots, volgens kol Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder.

“Die ongeluk het op die R355 langs die Van Reenenspas tussen Komaggas en Buffelsrivier gebeur. Die bestuurder het vermoedelik beheer oor die voertuig verloor en teen die berg langs die pad gebots.”

Volgens Die Waarheid se inligting het ‘n Engelbrecht-egpaar, John en Genavieve, asook hul babaseuntjie, Jaydin, omgekom. Hulle dogtertjie (6) is tans in die Springbokhospitaal weens die aard van haar beserings.

Die ander drie volwassenes wat gesterf het, se name is onbekend. Hulle het by ‘n plaaslike perlemoenplaas gewerk volgens bronne op Kleinzee.

Ehlers het verder gesê dat, behalwe die sesjarige dogtertjie, drie ander volwassenes ook beserings opgedoen het.

Intussen ondersoek die polisie op Komaggas ‘n saak van strafbare manslag teen die bestuurder van die bakkie. Hy is ongedeerd. Daar word vermoed dat spoed moontlik deel kon wees van die tragedie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!