Skip to main content

Isaac Cloete

‘n Gesin van vier sukkel steeds om hul erg beskadigde huis te laat herstel.

Dit nadat ‘n vullislorrie gedurende November onverklaarbaar teen die woning van die Rosenberg-egpaar vasgejaag het.

James en Regina Rosenberg woon in Vaalwater, buitekant Springbok, in die Noord-Kaap. Buiten die trauma, is hulle nou briesend én moedeloos.

Die woning is erg beskadig en onbewoonbaar gelaat. In die proses was hulle bakkie, wat in die garage was, sodanig beskadig dat dit afgeskryf moes word. Regina het erg verleë gesê: “Vandat die voorval plaasgevind het, was ons nog net van bakboord na stuurboord deur die munisipaliteit gestuur.”

Volgens Regina het hulle van dag een af probleme ondervind met die munisipaliteit en die munisipale bestuurder, Jannie Swartz.

“Swartz het al die tyd aangevoer dat die munisipaliteit nie verantwoordelikheid kan aanvaar nie vir ons ongerief nie. Hulle het wel vir ‘n maand ons akkommodasie by twee gastehuise betaal. Dit was glo ‘n soort donasie om ons tegemoet te kom.”

Die Rosenbergs  het Woensdag, 13 Desember, per skrywe verneem dat die NKM hulle nog tot die einde van Desember kan help met akkommodasie. Daarna moet hulle self sien om klaar te kom.

James, huiseienaar, het vroeër gesê dat hy regskennis gaan inwin sodat hy die NKM tot verantwoording kan dwing. Hy het aangedui dat hulle aanvanklik baie ongerieflik uit ‘n motor van hulle klere moes aantrek tydens hulle verblyf in ‘n gastehuis.

Tydens die fratsongeluk was Regina alleen met haar 2-maand oue baba in die huis toe sy die slag gehoor het. Beide het gelukkig wonderbaarlik aan enige ernstige beserings ontkom.

Hulle ly egter steeds aan erge skok, trauma en pyniging, behalwe die feit dat hulle sonder hul gerieflike woning moet klaarkom.

Oor die rede vir die ongeluk word steeds gegis. Volgens NKM se eerste of aanvanklike verklaring het die remme van die lorrie vermoedelik onklaar geraak.

Ander bronne beweer dat die lorrie by ‘n winkel geparkeer was. Hierna het dit sonder die drywer met ‘n steil pad afgekom en teen die huis gebots.

Nou, na 10 November, het die fratsongeluk ongekende woede en ongeloof onder die publiek – veral op sosiale media- ontketen. Dr Gustav Bock, burgemeester by die NKM, het empaties so reageer: “Tans het die munisipaliteit nie fondse vir sulke gebeurlikhede nie. Ons het wel die familie gedeeltelik vanuit my burgemeestersfonds ondersteun. Ons was ook van plan om die familie op hoogte te hou van die terugvoering van die versekeringsmaatskappy.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!