Skip to main content

Isaac Cloete

Dié tyd van die jaar word die publiek gevaarsku teen alle soorte gevare.

En glo dit of nie, onlangs was gevaarlike plofstof in die Hantam-area, wat onder die Namakwastreek resorteer, gevind.

Volgens ‘n verslaggewer op Calvinia het die polisie verlede week twee persone gearresteer vir die besit van plofstof. Hy het gesê: “n Oplettende lid van die publiek het twee persone gesien wat baie verdag in die sakegebied van die dorp voorgekom het. Die polisie was gekontak, wat die twee oorkant die OK-handelaar vasgetrek en gevisenteer het.”

Die persone het middels by hulle gehad wat baie verdag was. Daar was later in die laboratorium vasgestel dat dit plofstof was wat in myne gebruik word. Hulle het reeds hier in die hof verskyn en bly in aanhouding volgens die polisie.

Intussen is vasgestel dat die twee verdagtes landwyd gesoek word vir vorige misdade, wat in dorpe soos Citrusdal, Clanwilliam en Grobbelaarshoop gepleeg was. ‘n Derde makker van hulle is verlede Woensdag in die Wes-Kaap vasgetrek.

Volgens polisiewoordvoerder, luit kol Sergio Kock, was vier buise, wat soos kerse lyk en gevul was met poeier, by hulle gevind. Dit was binne ‘n bottel gevul met magou versteek.

Hulle is buitelanders en is 29 en 41 jaar oud. Hulle sal binnekort weer in die hof verskyn en staan tereg op klagtes wat verband hou met die onwettige besit van plofstof, volgens Kock.

Die plofstofeenheid op Springbok het reeds die plofstof gaan haal om te bewaar, terwyl die verdagtes verhoorafwagtend is.

Intussen het die gebiedsbevelvoerder van die Namakwastreek, brig Schalk Andrews, die Calvina-polisie en die Lynx sekuriteitsmaatskappy bedank vir hulle vinnige optrede.

Inwoners op Calvinia glo vas dat die twee vermoedelik beplan het om ‘n kitsbank hier op te blaas. Gelukkig was hulle bose planne vinnig gefnuik deur die wakker publiek en optrede van die polisie.

Die algemene publiek word weereens versoek om steeds paraat te wees en die oë en ore van die polisie te bly.

Leave a Reply

error: Content is protected !!