Skip to main content

Die Lottopapier – deur Sjahdé Tolmay

Elsa staar deur die ruit van die klein vakansiehuis. Sy kan nie glo hoe dinge die laaste twee weke in haar lewe verander het nie.

“Dis omdat jy altyd loop en rommel optel,” het Lenie gelag. “Een of ander tyd moes die gode jou beloon vir jare se onbetaalde werk om jou omgewing skoon te hou.”

Dit is moontlik, dink Elsa. Maar ‘n Lottokaartjie wat vir haar meer as dertig miljoen rand in die sak gebring het?

Sy het aan allerhande planne gedink oor hoe om die wettige eienaar van die opgefrommelde kaartjie wat sy op pad na die park toe opgetel het, op te spoor.

“Is jy mal?” het Lenie geskel. “Kan jy dink watter geldjagters by jou deur sal opdaag as jy iets in die koerant laat sit? Kyk, as jy so skuldig voel oor die geld, skenk die meeste van dit aan welsynsorganisasies. Maar maak net seker dat hulle nie ook skelm is nie. Jy sien mos hoe maak Lulu met haar kastige toevlug vir haweloses…”

Haar selfoon lui.

“Hallo, ryk vriendin,” terg Lenie. “Hoe gaan dit in die middel van nêrens nie.”

“Jy kon saamgekom het,” kap Elsa speels terug.

“Nee, jimmel, Herman sal die kinders laat maak nét wat hulle wil, en dan moet ek weer sukkel om hulle op die regte pad te kry wanneer ek terug is,” lag Lenie.

“Ek gaan netnou ‘n ent stap. Hierdie plek is pragtig. En rustig. Salf vir my siel,” sê Elsa sag.

“Ek is bly. Wie sou nou kon raai…?” Sy praat nie verder nie.

“Die ergste skok is verby,” sug Elsa. “Jy kan maar sê wat jy dink. Ek was net so geskok toe Danie die Lottokaartjie by my probeer steel het. As dit nie vir jou was nie, was hy vort daarmee.”

“Sy is is gans te na aan mekaar,” grom Lenie. “Skelm bogger!”

Elsa lag. “Ek is bly jy is aan mý kant. Vir jou wil ek nie as ‘n vyand hê nie.”

“Het jy nou al besluit wat jy met die geld gaan maak?”

“Ja. Maar ek sal jou alles vertel wanneer ek terug is. Jy…”

“A nee a! Gaan jy my nou in limbo hou vir nog ‘n week? Ek sal by jou kom spook as ek sterf aan stres.”

“Kom ons sê net dat dit goed gaan wees vir ons almal. Ek is seker dat jy sal aanhou asemhaal tot ek terug is, al is dit net om te hoor wat ek beplan,” terg Elsa.

“Ja, oukei, maar jy stop heel eerste by my sodra jy hier aanland. Belowe?”

“Ek belowe. Njannies koepêla,” voeg Elsa ‘n ou gesegde by wat sy en Lenie van jongsaf gebruik het.

“Nou ja toe, dan los ek jou in vrede. Rus nou goed, my liefste vriendin. Tarra,” babbel Lenie en lui af.

Elsa druk haar hoed op haar kop, gryp haar kamera, en verlaat haar huisie langs die rivier.

Thula Manzi lewer elke liewe pragbeeld wat in hul brosjures verskyn, en Elsa neem hordes foto’s voordat sy tevrede terugkeer na haar blyplek.

Sy skink ‘n reuse glas vrugtesap, skop haar tekkies uit, en gaan sit-lê op die sagte rusbank in die berkervenster.

“Kom ons kyk wat my lens vandag ingesluk het,” mymer sy en begin deur die foto’s blaai op haar Sony a7 III digitale kamera.

By foto nommer drie-en-sestig voel dit of Elsa se hart links neuk in haar borskas.

Danie sit op sy hurke agter ‘n klompie biesies, verkyker in sy hande.

“Hoe de duiwel weet hy waar ek is?” mompel Elsa.

Sy bel dadelik vir Lenie.

“Verlang jy klaar na my?” beantwoord Lenie die oproep.

“Dis Danie! Hy is hier by Thula Manzi!” fluister Elsa geskok.

“Wat de hel? Hoe het hy geweet dat jy daar is? Jy moet nou dadelik huis toe kom. Die man is mal in sy kop! Sê nou…”

Die chalet se deur bars oop.

Elsa laat haar selfoon val van skok.

“Elsa? Elsa! Wat is aan die gang?” gil Lenie deur die spreekbuis.

Danie de Witt se oë is wild. Hy rig ‘n pistool op Elsa terwyl hy die deur met sy regtervoet agter hom toestoot.

“Gedink jy gaan wegkom, né?” sis hy. “Wel, jou inhalige teef, jy het nie! En ek loop nie vandag hier voordat jy ‘n stewige bedrag na my bankrekening oorgeplaas het nie. Is dit duidelik?”

Lenie hoor alles en sy hol soos ‘n mal ding in haar huis rond op soek na haar spaar selfoon sodat sy die polisie daarmee kan bel. Sy luister steeds hoe Danie vir Elsa dreig.

“Lekker bedraggie wat jy in die bank het, Skatlam,” smaal hy. “Ek dink ek sal sommer die hele dertig miljoen vat. Net omdat jy nie wou deel nie. Hoe klink dit vir jou?” Hy druk die pistool teen Elsa se kop. “Tik nou my details onder payments in! Waarvoor wag jy?”

Elsa volg Danie se instruksies sonder om haar teë te sit. Danie besef nie dat sy die hele bedrag kan omkeer sodra hy weg is nie. Vir nou moet sy net kalm om sy bevele reageer.

Danie se selfoon biep. Hy maak die boodskap oop en glimlag breed. “Poppie, jy het pas my dag, my week en my fokken jaar gemaak,” grinnik hy. “Ciao for now.”

Elsa sit vir nog sowat vyftien minute doodstil nadat Danie haastig in sy goue Ford Wildtrak-bakkie vort is. Dan trek sy haar skootrekenaar nader, en keer die betaling om.

Polisiesirenes kom al nader na die chalet en Elsa staan met bewende knieë op om die deur oop te maak toe ‘n polisie-voertuig voor haar chalet stilhou.

“Elsa Brink?” vra ‘n man in blou.

Sy knik met haar kop, steeds te geskok om te praat.

“Ek sersant Hlope, en is hier…”

‘n Stem roep oor die sersant se radio.

“Sersant, hier lê ‘n goue Wildtrak op sy dak in die veld. Die bestuurder is 10-55.”

“Waar?” vra sersant Hlope.

“So vyftien minute van Thaba Manzi af, Sersant. Lyk of hy te vinnig ‘n u-draai wou maak op die grondpad en beheer verloor het. Ek reël solank vir ‘n lykswa.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!