Dirk Lotriet
Partytjies en sosiale byeenkomste in Suid-Afrika draai tradisioneel om ‘n paar biere.
Maar sake verander, want die gewildheid van nie-alkoholiese bier is duidelik besig om toe te neem. Hierdie verskuiwing is veral opvallend onder die jonger Gen Z-verbruikers, wat minder belangstelling toon om alkohol te drink in vergelyking met vorige generasies.
Anders as hul voorgangers, beskou Gen Z-verbruikers drank in ‘n ander lig. Persoonlike welstand en gesondheid word ernstiger opgeneem en dit het bygedra tot die verhoogde vraag na nie-alkoholiese alternatiewe. Intussen het mense van alle ouderdomme die alkoholvrye bier-revolusie begin aangryp, en die mark is besig om te ontplof.
Met erkenning aan die veranderende verbruikerslandskap, het groot brouerye hul aanbiedinge uitgebrei om meer alkoholvrye opsies in te sluit. Met groot sukses, want hoewel die nie-alkoholiese mark nog relatief klein is in vergelyking met tradisionele biere, ervaar dit aansienlike groei.
Vandag het verbruikers toegang tot ‘n wye verskeidenheid alkoholvrye bier-opsies, en Die Waarheid sal hier probeer om die doolhof meer begaanbaar te maak vir mense wat af en toe ietsie wil nuttig wat die moutsmaak en dorsles-eienskappe van bier het, maar sonder die skop.
Let daarop dat hierdie ‘n subjektiewe mening is. Smaak verskil. My vriend Fanie, byvoorbeeld, is gek oor Savanna 0.0, terwyl dit my smaakkliere nie regtig prikkel nie. Maar ek gaan nie met Fanie stry nie – hy is nogal ‘n fynproewer van alkoholvrye biere, moet ek toegee!
Hier is hoe ek die algemeenste alkoholvrye biere op die mark ervaar:
Heineken 0.0
Hierdie is die mees algemeen beskikbare alkoholvrye bier in die land. Juis daarom is dit miskien ‘n goeie ding dat dit ‘n uitstekende weergawe van ‘n bier sonder die kopdraai is.
Volgens Heineken word hul nie-alkoholiese bier twee keer gebrou en gefermenteer voordat die alkohol in ‘n “natuurlike” proses verwyder word. Van daar af word dit gemeng om ‘n geurprofiel te verkry wat effens moutagtig is met vrugtige en grasagtige note.
Dit smaak uitstekend as dit yskoud is, maar staan my nie werklik aan as dit effe warmer begin word nie. Dis ‘n uitstekende opsie en as dit so warm is soos nou met die hittegolf wat Gauteng getref het, is daar niks wat jou dors so deeglik les nie.
Punt: 8.5
Castle Free
Onthou jy daai Charles Glass-advertensie? “Gentlemen, I’m not easily pleased…”
Castle Free het daardie selfde DNS binne-in die bruin botteltjie. Dit is eg Suid-Afrikaans met ‘n lieflike goue skynsel en ‘n uitstekende skuimkop. Dit bied ‘n aangename moutsmaak, maar die hopsbitterheid is dalk net ‘n rapsie te bitter na my smaak.
Castle Free is goedkoper as die meeste alkoholvrye biere op die mark.
Punt: 7.0
Erdinger Alkoholfrei
Erdinger is die wêreld se grootste koringbierbrouery en hulle Beierse Weissbier is wêreldbekend. Weissbier, gebrou met koring en gars, het ‘n duidelike piesang- en speserygeur. Dit kom dus as geen verrassing dat hul nie-alkoholiese weergawe dieselfde geur het nie – maar dit kan nogal ‘n skok wees as jy ‘n lager gewoond is.
Dit is vol koolhidrate, energie en proteïene. Met dit in gedagte, noem Erdinger dit ‘n hersteldrank vir atlete as gevolg van sy isotoniese eienskappe (in eenvoudige taal: dit word maklik geabsorbeer). As jy ‘n weissbier-aanhanger is, is dit jou brousel.
Punt: 7.5
Bitburger
Bitburger is ‘n goeie voorbeeld van ‘n klassieke Duitse pilsner. Die nie-alkoholiese weergawe dra dieselfde skoon en ligte moutsmaak met baie klassieke blom-aromas. Die een het daai ordentlike voortslepende bitterheid van ‘n behoorlike pilsner.
Punt: 7.5
Devil’s Peak Hero
Devil’s Peak het oor die jare ‘n paar uitstaande biere gebrou. Hulle nie-alkoholiese bier is geen uitsondering nie.
Dit het ‘n relatief ligte moutsmaak. Hulle het ook pas ‘n nuwe weergawe met ‘n sweempie sitrus en een met suurlemoen vrygestel. Waar ek vrugtegegeurde alkoholvrye biere gewoonlik afstootlik vind, pas hierdie een reg in my kraal.
Devil’s Peak Hero is die heel goedkoopste alkoholvrye bier op die mark, en na my mening ook loshande die beste.
Punt: 9.0
Super Bock 0.0
Super Bock is een van Portugal se grootste en oudste brouerye.
Ná die val van die diktatuur in Portugal in 1974 is Super Bock geprivatiseer nadat dit lank deur die staat besit is.
Die brouery se produkte is ‘n groot deel van die Portugese kultuur en identiteit. Die alkoholvrye weergawe is ‘n ligte lager met ‘n maklik toeganklike smaak – volrond en glad nie bitter nie.
Hoogs aanbeveel. As dit meer algemeen beskikbaar was in Suid-Afrika, sou ek beslis meer Super Bock 0.0 gedrink het.
Punt: 8.0
Bavaria 0.0%
0.0% het ‘n ordentlike medium lyf en is goed gebalanseer tussen bitter en soet. Die bitterheid kom aan die einde deur en daar is ‘n droë nasmaak. Die oorspronklike weergawe is ‘n aangename alkoholvrye bier, maar die vrugtegeure steek my dwars in die krop.
Terloops, dit word in Nederland gemaak, nie in Beiere – daardie legendariese Duitse bierstreek – soos die naam jou sal laat glo nie.
Punt: 7.5
Benewens hierdie keuse van algemeen beskikbare alkoholvrye biere, sal jy af en toe op een afkom wat nie hier genoem word nie. Toets dit gerus!