Sonnette Lombaard
Die groot hoeha oor Kunsmatige Intelligensie (KI) vat nou vlam amper ‘n kwarteeu in die nuwe millennium in. En tog is hierdie verreikende tegnologie wat al meer die hoofstroom dramaties insypel en eietyds oorkom, reeds langer as ‘n eeu saam met ons.
As ‘n spesialiteitsveld binne die rekenaarwetenskap, skep KI stelsels wat menslike intelligensie en probleemoplossingsvermoëns kan herhaal. KI verwerk ‘n magdom data en leer uit die verlede om dinge vir die toekoms te stroomlyn en te verbeter.
Hoewel KI se toetrede tot ons lewens ook vrese veral oor werksekerheid ontlok, is die mens steeds kern in die proses. ‘n Rekenaarprogram het menslike inmenging nodig om foute reg te stel en prosesse te verbeter.
Maar niemand twyfel meer dat KI teen nou ‘n integrale deel van ons moderne bestaan is. Daar gaan nie ‘n dag om wat KI nié in nuusberigte weergalm nie. Pas weer het die musiekbedryf laer getrek oor al meer KI-musiek én KI-geskepte musieksterre debuteer. Hierdie in totaliteit rekenaar-ontwikkelde sterre bestaan nie in werklikheid nie, hoewel aanhangers hulle so hanteer. Dit bedrieg ook tradisionele kopieregte.
Eweneens maak KI opslae in sport met groot tennistoernooie en atletiekbyeenkomste wat graag gesiglose KI-kommentators vir televisie-uitsendings suksesvol inspan.
In die letterkunde en taalwêreld is KI lankal aan die woel met boeke, gedigte en draaiboeke wat deesdae met hulp van “masjienleer” uitgespoeg word, ook in Afrikaans.
Inmiddels is ChatGPT sedert dit ‘n jaar gelede bekendgestel is, besig om die tradisionele werksarena wêreldwyd vir goed om te woel. Dis ‘n vorm van ‘n generatiewe KI wat deur enigiemand gratis afgelaai kan word. ChatGPT (Chat Generative Pre-trained Transformer) is ‘n taalmodel-gebaseerde kletsbot wat gebruikers in staat stel om ‘n gesprek te verfyn na ‘n verlangde lengte, formaat, styl en taalkeuse.
In kort, jy voer die kletsbot met boodskappe oftewel tik jou teks in en vra vir die omskepping daarvan in menslike beelde, teks of video’s wat deur KI geskep is. Bv. jy kan ChatGPT vra om jou inligting wat jy intik in ‘n tabelvorm of grafieke te omskep. En met die druk van ‘n knoppie kry jy blitsige top-resultate. Dit geld ook die vertaling van enige stuk kopie in die meeste tale, insluitende Afrikaans.
En hoewel KI se vermoëns of moontlikhede tegelyk vrese en fronse uitlok, bly dit ook verstom. Die reuse-voordele daarvan vir die mens in veral die snel-vooruitgang in die mediese wetenskap is ongekend en verblydend. Soos verfynde robotte wat in teaters spesialiste en chirurge help om ingewikkelde operasies moontlik te maak en lewens te red.
Met KI kan ons bloudruk of DNS fyner nagevors word. Die DNS stoor die geheime wat elke mens uniek maak en met KI-hulp word ingezoem op hoe elkeen se samestelling reageer op omgewingsfaktore. Só kan leefstyl en dieet dienoorsenkomstig aangepas word en siektes vroeg geïdentifiseer word. Boonop wink ‘n nuwe era van persoonlike medisyne volgens elke pasiënt se uniek-genetiese profiel.
Dít als onderstreep die oënskynlik-eindelose kragtigheid van KI. Verbasend, het die KI-rewolusie al teen die 1900s, weliswaar in die agtergrond, sy verskyning gemaak.
Want hoewel die groter KI-woelinge eers ‘n halfeeu later in die 1950s sou ontvou, was die grondwerk veel vroeër gelê. Die idee van “kunsmatige intelligensie” strek eintlik duisende jare terug, tot by die antieke filosowe se vrae oor lewe en dood.
In antieke tye is meganiese uitvindsels, wat sonder menslike ingryping kon beweeg, bekendgestel. ‘n “Outomaat” of masjien wat op sy eie kon funksioneer, dateer uit 400 vC en verwys na ‘n meganiese duif van ‘n vriend van die filosoof Plato. Later sou Leonardo da Vinci dit veel verder neem.
In die vroeë 1900s het die media gegons oor die idee van kunsmatige mense. Wetenskaplikes het begin wonder of dit moontlik is om ‘n kunsmatige brein te skep. ‘n Paar weergawes is gemaak van wat ons nou “robotte” noem (die woord is in 1921 in ‘n Tsjeggiese wetenskapfiksie- toneelstuk die eerste keer gebruik). Hulle was relatief eenvoudig en meestal stoomaangedrewe, sommige kon wel gesigsuitdrukkings maak en loop.
Die eerste groot oplewing in KI het in die jare 1950-1956 gebeur met belangstelling daarin wat hoogty gevier het. Alan Turing het “Computer Machinery and Intelligence” gepubliseer wat die The Turing Test sou word om rekenaarintelligensie te meet. Die term “kunsmatige intelligensie” het sy buiging gemaak.
Hierna reg deur die 1980s het KI met rasse skrede gevorder. Met van programmeertale tot boeke en flieks wat die idee van robotte ondersoek, het KI vinnig ‘n hoofstroom-idee geword.
‘n Koelaf-periode het gevolg, hoewel KI-navorsing in die 1990s steeds indrukwekkend gevorder het, insluitend die eerste KI-robot wat ‘n heersende wêreldkampioen-skaakspeler kon klop. KI was van toe al meer deel van die alledaagse lewe met innovasies soos die eerste spraakherkenningsagteware op Windows-rekenaars.
Teen die eeu se draai, was daar g’n keer meer nie. In die ruimte het Nasa twee rovers op Mars geland om die oppervlak van dié planeet sonder menslike ingryping te navigeer. Sosiale media soos Facebook, Twitter en Netflix het ook KI begin gebruik en Apple stel die gewilde Siri, die eerste virtuele assistent, vry.
In 2015 het Elon Musk, Stephen Hawking en Steve Wozniak saam met 3 000 mense ‘n ope brief aan regerings gestuur om die ontwikkeling van en gebruik van outonome wapens vir oorlogsdoeleindes te verbied.
Interessant, was regerings aanvanklik traag om KI-navorsing te befonds. Dit het sedertdien drasties verander met lande se regerings wat tans oorbegerig vir KI begroot. Wȇreldleiers wis teen nou dat KI is hier om te bly én het aansien-waardeen wil ook die KI-verhoog annekseer.
Dis veral die daarstel van internasionale veiligheidsmaatreëls om KI in toom te hou, wat nou wyd hoog op agendas pryk.
Voorstaander daarvan, of nie, KI is duidelik reeds ‘n onlosmaaklike deel van ons moderne bestaan en nodig vir vooruitgang. Omdraai kan ons nie meer nie. Dit stel ons bekend aan nuwe wêrelde en moontlikhede maar hou ook taai mensuitdagings in. Saam met die slim robotte, sal ons hierdie brug na beloofde blinker horisonne moet oorsteek.