Skip to main content

Die stortkop – Deur Jason Mada

Ralie vloek elke vloekwoord wat sy ken in ‘n lang string voordat haar bene aan die beweeg kan kom. Sy vergeet skoon dat sy in haar naakte glorie is en hol geskok by die badkamer uit.

Gert, een van die huurders, se brandende sigaret val geluidloos uit sy verbaasde mond toe die vet pienk gedoente verby sy oop deur skiet. Hy steek sy kop om die deurkosyn. Die gang is leeg. “Tannie Ralie?” ‘Gmf,’ dink hy, ‘ek moet dalk die aaptwak laat staan.’

Ralie hardloop tot in die spens en slaan die deur toe. Sy voel-voel uit na die skakelaar en sit die lig aan. “Og genade tog! Ek het vergeet om die handdoek te gryp.” Sy kyk rond vir iets om haar naaktheid mee toe te maak, want sy kan tog nie heeldag hier sit nie.

“Dankie tog vir All Bran Flakes,” sug sy verlig en haal Gert, die einste haarkapper, se pap van die rak af. “Dis hopelik groot genoeg om oor die ergste boude te pas.” Behalwe vir die boksie Maizena is daar geen ander ding groter as ‘n blikkie baked beans in die spens nie.

Ralie bekyk die strykplank en hoop spring in haar gemoed op. Sy baklei altyd as die huurders die ding in die spens bêre, maar vandag is sy innig dankbaar dat iemand alweer droog gemaak het.

Sy hou dit voor haar lyf. “Jimmel, maar jy is breed,” raas sy uitasem met haarself. Hoe nou gemaak?

“Nee kyk, as ek net die ergste kan toe kry totdat ek in die kamer kan kom…” Sy druk die strykplank voor teen haar pokkelpensie en haal diep asem. “Dit sal moet doen.” Sy maak haar groot buuste bymekaar en druk dit in die middel van haar borskas voordat sy dit vaspen met die plank in haar regerhand. Dan maak sy die deur stadig oop en loer in die gang af. Die All Bran boks word met die linkerhand min of meer in die middel van haar sterre vasgedruk.

“Sjit!” Die treë wat sy gee is mikroskopies klein want die staal pote van die strykplank kortwiek haar voornemende haastige vlugtog kamer toe. Sy kan ook nie haar bene hoog oplig nie. Al genade is skuifel. Met elke skuifel stappie slaan die plank haar teen die plekkie waar haar voete uit die been kom.

Teen ‘n slakkepas skuifel sy verby die opening na die sitkamer toe. Sy kyk by die vertrek in, glimlag, en sê: “môre dominee, hello Gert,” voordat sy verder loop.

Die twee mans sit verstom in die sitkamer.

Ralie bars uit in ‘n histeries lag toe die aangeleentheid insink, en ‘n knor ontsnap by die sy van die All Bran boks uit. Die karton dien as ‘n klankversterker, en dit klink of haar enjin enige tyd gaan uitval.

“Bôgger dit!” snork Ralie. Sy maak die strykplank staan teen die muur, plak die pap langsaan neer en stap soos ‘n skoonheidskoningin op ‘n verhoog in die gang af. “Ek is ‘n skepping vanuit die hemel. Wie nie daarvan hou nie kan gaan vlieg!”

Sy stap met swaaiende heupe by die stort verby waar die simpel kop steeds lê. Die popkop waarop Gert nuwe haarstyle oefen en die oorsaak van haar geskokte naakreis deur die huis. Dan steek sy haar tong vermakerig uit, slaan haar kamerdeur toe, en gaan lê met bewende knieë op haar bed. Sy kan hoor hoe die dominee vertrek, en weet instinktief dat kerk toe gaan vir ‘n lang tyd nie vanpas sal wees nie. Aan die vrugte ken mens die boom, en aan die boude ken die dominee nou vir Ralie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!