Skip to main content

Sonnette Lombaard

‘n Persoonlike laagtepunt vir die Suid-Afrikaanse media. Só het geskokte lesers en ouskool-joernaliste landwyd gereageer oor eergister se smerige hoofberig oor die oud-Bokheld Hannes Strydom, wat laas week dood is.

Rapport, eens die geliefde stapel-leesstof in elke Afrikaanse huishouding op ‘n Sondag, se huidige laeklas-smeerjoenalistiek het nuwe laagtes bereik met gister se voorbladberig oor een van die helde van ons seëvierende Wêreldkampioenspan in 1995. Die lesers se onwilligheid om aanklank by Rapport en sy suster-koerante se hedendaagse vrot joernalistiek te vind weerspieël ook in dié koerante se lesersgetalle wat oor ‘n lang tyd erg bly daal.

Hannes Strydom (58), Bokslot wat ook vir die Blou Bulle en Goue Leeus geskitter het, het laas week tragies in ‘n motorongeluk op die Witbank-snelweg omgekom. Sedertdien kan Netwerk24 se publikasies nie voorbly met smerige berigte oor die Bokheld en pa van drie kinders nie. Die tydskrif Huisgenoot berig glo ook vandeesweek hieroor.

Hoewel dit lank in rugby- en ander kringe bekend is dat Hannes in sy laat 20s uit die kas geklim het, is dit nooit amptelik bekend gemaak nie. Hy en sy vrou, Nikolie, het lank ná sy bekentenis nog saam hul herehuis in Waterkloof gewoon, weliswaar in aparte dele.

Onder die sensasionle hoofopskrif ‘Dwelms, seks en wraak: Oud-Bok Hannes se dubbele lewe onthul’ skinder Rapport gister oudergewoonte lustig eensydig. Die berig wei smerig uit oor Hannes, ‘n skatryk apteker-sakeman van Pretoria, se sg. dubbele lewe met dwelms, manlike minnaars en ander beweerde vergrype.

Interessant en ironies is dit geskryf deur die omstrede joernalis Johan Eybers, wat volgens sy kollegas self ‘n gay man is. Eybers is een van die span joernaliste van Netwerk24 wat ook voortdurend op die sakeman Louis Liebenberg se spoor is. Hulle skryf al langer as ‘n jaar een ná die ander smeer en/of negatiewe berigte oor hom en sy vrou Dezzi, wat hulle as die “waarheid” verkwansel.

Vir plaaslike joernaliste uit die ou skool wat hul beroep professioneel benader en bedryf het, is die modus operandi van Media24 se jonger geslag verslaggewers skokkend en skandalig.“Dit maak vinnig al ons goeie werk oor dekades om joernalistiek op ‘n hoë standaard te kry, tot niet.”

Uit eerbeid vir Hannes se kinders en geliefdes wil hulle naamloos bly.

‘n Oud-joernalis van Media24 en gesoute nuusredakteur oor landsgrense sê prontuit die mediamaatskappy se onderrok hang toenemend liederlik uit en “sleep al meer op die grond”.

“Die Rapport-artikel is sensasioneel en pure poniepers. Hannes was ‘n openbare figuur, maar is hierdie smerige beriggewing werklik in die openbare belang?” wil sy weet.

Die hartseer is dat dit nou is hoe hy onthou sal word, as die held met voete van klei, meen sy. “Ek voel jammer vir sy kinders en sy vriende wat hom goed geken en vir hom lief was.”

Nog ‘n oud-werknemer van Media24 van Johannesburg oor dekades het gesê sy betreur sulke swak, geelpers-joernalistiek. “Dit raak niemand nou nie en wat wil mens in elk geval daarmee bereik? Baie sportmanne kom uit die kas en jy bly ‘n sportster, gay of nie. Dit vee nie jou prestasies uit nie.”

‘n Bekende skrywer en politieke analis van die Goudstad, meen ook eergister se geniepsige berig is ‘n nuwe laagtepunt. “Dis ‘n berig wat wemel van innuendos. Dis ondeurdag en ongenuanseerd en nydig. Jy kan nét sulke berwerings maak oor iemand wat dood is – jy hoef nie daaroor te dink nie. Jy kan skryf wat jy wil en dit sal opgeslurp word.”

Voorts glo hy die berig stereotipiseer gays. “Daar is seker gay – én heterosekskuele mense wat sulke lewens van vergrype lei, maar dis in die minderheid.”

Intussen het nabye en lojale vriende van Hannes, van wie daar vandeesweek afskeid geneem sal word, die rugbyman en sakeman vir sy menswees en vriendskap geloof. Hulle wys daarop dat Hannes ‘n gelowige mens was en dat mede-gelowiges nie veronderstel is om hulle in ander se sondes te verheerlik nie maar op hul eie swakhede te fokus.

“Het jy hom nader leer ken, was hy ‘n gentle giant,” het een van sy vriende oor langer as ‘n kwarteeu uit die Kaap laat weet.

Leave a Reply

error: Content is protected !!