Skip to main content

Isaac Cloete

Net voor die feesgety het die SAPD weer kragdadig teenoor buitelanders opgetree.

Terselfdertyd het die Namakwalandse polisie sommer onwettige diamantdelwery probeer bekamp deur toe te slaan op ou De Beers-myne by Nuttabooi en Bontekoe, volgens polisie-woordvoerder, kol Cherelle Ehlers.

Dit is hier waar soms tot duisend onwettige delwers baljaar met onkonvensionele gereedskap waarmee hulle delf. Die sterk polisiemag, gerugsteun deur ‘n helikopter, het op die dorpies toegeslaan en altesame 130 ongedokumenteerde buitelanders gearresteer.

Die multidissiplinêre operasies, gelei deur maj gen Luntu Ngubelanga, het Maandag plaasgevind. Verskeie aksies was hier uitgevoer en so het die polisie-taakspanne verskeie stukke gereedskap en toerusting gekonfiskeer. Dit word normaalweg gebruik om onwettig in die honderde myntonnels te gaan delf.

Ngubelanga, wat ook die adjunk provinsiale kommissaris van polisie in die Noord-Kaap is, het gesê dat sulke operasies as afskrikmiddel moet dien vir ander voornemende kriminele.

“Dit is ‘n sterk boodskap aan onwettige delwers wat die reg minag af nie respekteer nie. Hulpbronne is verdubbel sodat plaaslike wetstoepassers in Namakwaland kan voort kan veg om onwettige mynbedrywighede hier uit te roei.”

Voorts het hy die verskillende polisiestasies en eenhede in die Namakwa distrik bedank, en dankbaarheid is uitgespreek aan amptenare van die department van binnelandse sake wat op die toneel gehelp het met die prossesering van die ongedokumenteerde persone.

Die gebiedsbevelvoerder van die Namakwa-streek, brigadier Schalk Andrews, provinsiale hoofde, lede van die Noord-Kaap se komponente en verskeie eenhede van die verskillende distrikte was ook betrokke.

Die 130 ongedokumenteerde persone sal binnekort in die hof verskyn,

* In een van die grootste skoonmaak-operasies in SA het die polisie in Maart op honderde hoofsaaklik buitelanders (ook in die Kleinzee-gebied), toegeslaan en hulle in hegtenis geneem.

Altesame 867 buitelanders was hiertydens gearresteer vir misdrywe wat met onwettige diamantdelwery of die oortreding van die immigrasiewet te doen het.

Net onlangs, tussen 7-13 November, het die polisie ook op 46 buitelanders sonder die nodige dokumentasie toegeslaan en hulle gearresteer, volgens ‘n polisie-woordvoeder, sers Timothy Sam. Van hulle het ongeslypte diamante in hulle besit gehad, terwyl ander die mynarea onwettig betree het.

Plaaslike inwoners van veral Port Nolloth en Kleinzee, voel egter dat dit nie genoeg is nie. Volgens hulle kom baie van die gearresteerdes net weer terug om hulle onwettige bedrywighede voort te sit

Die algemene gevoel is dat die buitelanders permanent uit Suid-Afrika verban moet word, het ‘n gemeenskapsleier anoniem aan Die Waarheid vertel.

Leave a Reply

error: Content is protected !!