Skip to main content

In ‘n strewe om die voortdurende onwettige mynbedrywighede in die Namakwa-distrik aan te spreek, het die adjunk-provinsiale kommissaris vir polisiëring in die Noord-Kaap, genl. maj. Luntu Ngubelanga, in samewerking met eksterne rolspelers, ‘n multidissiplinêre operasie uitgevoer wat die aanhouding van ongedokumenteerde persone en die daaropvolgende onwettige mynbou by die Nuttabooi/Bontekoei-nedersetting naby Kleinzee behels het.

Die operasie is gelei deur genl.maj Luntu Ngubelanga, vergesel deur die Namakwa-distrikskommissaris, brig Schalk Andrews, provinsiale hoofde en lede van provinsiale komponente en distrikseenhede asook amptenare van die departement van binnelandse sake.

Die operasie is gister uitgevoer. Tydens die ontwrigtende optrede by die nedersetting is altesaam 130 ongedokumenteerde persone gearresteer en is in aanhouding.

Daar is beslag gelê op talle gereedskap en toerusting wat vermoedelik gebruik is in die uitvoer van onwettige mynaktiwiteite.

SAPD-stasies en -eenhede van die Namakwa-distrik asook provinsiale komponente en departement van binnelandse sake immigrasiebeamptes het aan die uitvoering van die aksies deelgeneem. Immigrasiebeamptes was op die terrein om die ongedokumenteerde persone wat in hegtenis geneem is te verwerk.

’n SAPD-helikopter het die grondmagte met lugsteun bygestaan deur persone op te spoor wat probeer vlug het.

Alle gearresteerde persone sal binnekort in die Port Nolloth-landdroshof verskyn.

Die adjunk-provinsiale kommissaris vir polisiëring, genl.maj. Luntu Ngubelanga, het gesê dat hierdie optrede ‘n afskrikmiddel en ‘n boodskap moet wees aan onwettige mynwerkers wat onverskilligheid teenoor die wet toon en dat hul misdadigheid nie geduld sal word nie.

Hulpbronne is in die gebied versterk om voort te gaan met aksies wat die uitwissing van onwettige mynbou aanspreek.

Leave a Reply

error: Content is protected !!