Skip to main content

Sonnette Lombaard

Wie sou kon raai dat die “eenvoudige” versugting na ‘n nederige wit heining soveel huismoles sou veroorsaak?

Weerklink dit ook in my hoekie sedert ek gister iets besonders pikant raakgelees het. Wat nie wil gaan lê nie … dit knaag en draai binne my. Oor dit so eietyds pas en diep sny tot op die moderne mensbeen.

Gewigtige woorde en wysheid, toegedig aan ‘n bekende en geliefde Britse sir. Dis nou die akteur Anthony Hopkins vir wie ek ook ‘n sagte plekkie het en wie deel is van my Aardse sterrehemel van medepelgrims wat met hul uitsonderlike mensgawes onderweg my lewe en menswees verhelder het.

Sy besonge doekkannibaal Hannibal Lecter in The Silence of the Lambs laat my helaas yskoud maar sy minsamer weergee van onweerstaanbare manwees in The Remains of the Day, 84 Charing Cross Road en natuurlik as C.J. Lewis in Shadowlands is ‘n perd van ander kleur.

Moes insink, want Hopkins is op 85 ‘n deurleefde gees. In staat om die kernwaarhede oor die staat van menswees teen die derde millennium stewig saam te strik: “We live in a world where funerals are more important than the deceased, marriage is more important than love, looks are more important than the soul. We live in a packaging culture that despises content.

Vatso, Sir! Jy tref kolskoot want teen die 21ste eeu speel ons saam in ‘n menssirkus van faam. Narre in ‘n tragi-komedie. Waarin voorkoms en afwys ons baas is, ons koor saam in ‘n universele hok van waaruit ons smag na roem en meer, nog meer van als, ook geld. Wyl ons siele brandarm verhonger.

Was die “packaging culture” maar barstens gevul met moeitewerd inhoud, maar dis klatergoud wat ons aanvuur. Eenvormige, oppervlakkige versugtinge om dieselfde te dink, doen, wees, kyk en veral te lyk. Nevermind dat Thanksgiving en Halloween Yank-kultuur is. Ditto die Diwali-liggiefees van die Indiërs. Ons val klakkeloos in en vier dit deesdae sommer en masse waar ookal.

Wanneer en waar het die pad verduister en ons verbysterd ontspoor? Was die begeerde goudpot onder die groot Amerikaanse droom al die tyd, gesange en wense werd? Van reënboog-teleurstellings kan niemand ons mos ná dese beter vertel nie.

Einste Yanks het ons verder die bederf ingelei met hulle plek aan die oënskynlik-onskuldige white picket fence. Dié versugting oftewel kortpad na die Yank-droom en eindelik suburbia, het in die ná-oorlogse 1950s vlamgevat.

Dit het ook die moderne geriefsdroom en massa-als ontlont. Jy kon dit nie maak as jy nié kon spog en afwys met ‘n eie, groot huis omhein met ‘n wit heining nie! Die spierwit verlei-lekkerte het gou deurgesypel na ander ontwikkelde samelewings. Saam met dit ‘n wavrag turskvye afgelaai.

Wit heinings het sonde met die bure ontketen – die Franse filosoof Jean-Paul Sartre, wat in 1980 gegroet het, wou dit selfs hê dat “hel ander mense is.” Hy het dit later versag en verduidelik dat mense uitgelewer is aan mekaar se opinies van mekaar. En met vooruitgang word menings juis grootliks gevorm op grond van wat jy het en kan wys.

Die suburbia-droom het ook ander euwels ingewaai, soos consumerism. Met slaafse verbruikers wat in voortdurende kompetisie voor Mammon kniel en nie kan ophou koop nie. Die peperduur prysetiket was die verlies van een van die samelewing se hoekstene – die kernfamilie.

Die Amerikaanse akteur en dramaturg wyle Sam Shephard noem dít tereg die hartseerste fenomeen van ons era. Shephard het in ‘n Playboy-onderhoud in 1970 ook  persoonlikheid se klere afgeruk. Volgens hom nóg ‘n eietydse uitstal-konkoksie wat wil hand uitruk. “Persoonlikheid is alles wat in ‘n mens vals is, alles wat bygevoeg en uitgedink is.”

Bevrees ek hoor hom hard en duidelik as die millenniumlandskap se geskepte celeb-persoonlikhede, bedruip met glans en goud die omkoopbare media kaap.

Maar persoonlikheid hoef nie ons vyand te wees wat ons beketting nie. Ons herstik juis nou weer almal noodgedwonge ons eie oorleefbaadjies om deur harde seisoene staande te bly.

Die lewe eis voortdurende aanpassings. Terselfdertyd herhaal alles weer. Die einste wit paaltjies in die white picket fence het voordat hulle die Atlantiese Oseaan oorgesteek het, ‘n heel ander doel gehad. In ou Europa was pikette – van die Franse woord piquet vir “puntige stok of bord” – as militêre toerusting ingespan. Houtblokke is só geslyp vir beskerming. Die wit paaltjies moes mettertyd grond en eiendom afbaken. Teen die 19de eeu het massaproduksie heiningonderdele goedkoper en fyner gemaak, en was die paalheining gou ‘n mode-item.

Nadat dit suburbia vasgepen het, het dit moderne versugtinge ontketen wat dit basies weer die vyandswapen sou maak.

Hoe dan gemaak in hierdie gulsige lewe wat moeiteloos insluk? Want geleef moet ons kry en daar is nie vir elkeen van ons ‘n eie eiland nie. Totale isolasie en afsondering werk ook nie. Die mens-swakte om verlei te word en die drang na saamsnoer dateer uit Adam en Eva se paradys.

Die meeste filosowe preek dat ons as swak en sondige wesens moet fyn trap om die duwwels en afdraaipaaie te vermy. En beland ons wel in die valstrik, moet ons loswikkel en daaruit leer.

Uit ondervinding kan ek deel dat ons eie lankmoedige Langenhoven se gevatte spreuke en sedeprekies jou padlangs prakties kan onderskraag. Soos “Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.” Goue raad wat tydloos geld en geluk koop. Sela.

Leave a Reply

error: Content is protected !!