Sonnette Lombaard
Wakker word, Europa! Dis wat jy hardop dink oor vanoggend se nuusopskrifte want die regse golf in die Europese politiek het oornag nuwe momentum gekry.
En dít uit die baanbreker-liberale land Nederland waar die regse voorloop-vuurvreter en anti-Islam populis Geert Wilders ‘n groot oorwinning in die verkiesing behaal het. Hy moet nou koalisiegesprekke lei.
Dié verregse oorwinning by die Nederlandse stembus is geskiedkundig want vir die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog kom die grootste party in die land nié uit die liberale middel-regse of middel-linkse Europese partyfamilie nie.
Die skokuitslag in gister se kern Nederlandse verkiesing bewys dat veral die netelige immigrasie-vraagstuk Europeërs oraloor opnuut ernstig oor hul toekoms laat besin. Met al meer immigrante uit veral Moslemlande wat daagliks na Europa stroom, is dié vasteland se eens oopdeurbeleid al meer op ‘n skrefie oop.
As baie van die talle opkomende populistiese leiers op die vasteland en ook elders hul sin kry, sal die krane al stywer toegedraai word om die toestroming van immigrante en asielsoekers te temper of te stop.
Die groot groei en toename in Moslems en die Islam-geloof in Europa, asook in die VSA verander die landskap ingrypend. Dit het ‘n wêreldwye regse opmars ontlont, ingelui deur die 9/11-terroterreur en aangevoer deur die Brexit-stem waardeur Brittanje die Europese Unie (EU) verlaat het.
Gewilde populiste soos die oud-Britse premier Boris Johnson en die Yanks se oudpres. Donald Trump was behoudende voorbokke. Trump loop juis voor in peilings vir die Yanks se verkiesing in 2024 waarin hy sal probeer om vir die tweede keer die Withuis te betrek.
Punt, in die huidige onstuimige politieke klimaat wat bly verander, wen die populistiese leiers al meer by die stembus. Argentinië het juis pas Javier Milei tot nuwe president verkies. Dikwels al vergelyk met Trump, is dié olie-sakeman bekend vir sy ekstreme sienings oor aborsie en gayregte.
Gister het die inwoners van nog ‘n belangrike en vooruitstrewende Europese land ‘n regse populis oorweldigend verkies om ‘n nuwe koalisieregering saam te stel.
Die vorige regering moes juis in Julie bedank oor die omtrede immigrantkwessie.
Hoewel laaste stemme nog getel word, is Wilders reeds verseker van ‘n sege in nóg ‘n verstommende swaai na die ver regs, berig Associated Press (AP).
Boonop binne ‘n nasie wat eens ‘n bakermat vir verdraagsaamheid was. Nes sy buurland Frankryk waar die regse opmars ook voortstu met vaandeldraer Marie Le Pen wat voorlei en al gewilder is.
Nogtans het die Nederlandse uitslag skokgolwe deur Europa en wyer gestuur. Dit stu die verregse ideologiese partye daar.
Volgens AP sal Wilders môre met gesprekke begin om die volgende regerende koalisie te vorm en só waarskynlik die eerste verregse eerste minister van Nederland te word.
Wilders se Party for Freedom (PVV) het 37 van die 150 setels in die parlement se laerhuis gewen. Dis dubbel soveel as voorspel deur die laaste peiling en meer as dubbel die 17 wat hy in die laaste verkiesing gewen het.
“Ek moes myself knyp,” het ‘n verheugde Wilders, ‘n groot ondersteuner van Israel, aan lede van die media gesê.
As ‘n anti-Islam voorvegter, is hy eweneens bekend as die Nederlandse Donald Trump.
Wilders het reeds strategies begin om ander regse en middel-partye te werf. In sy oorwinningstoespraak het hy beloof dat enige beleid wat hy bevorder “binne die wet en grondwet” sal geskied.
Wilders se verkiesingsmanifes het daarop gefokus dat Nederland die EU moet verlaat, asook ‘n verbod op die aanvaarding van asiel-aansoekers in Nederland en strenger beleide om die toestroming van immigrante by die grense vaster te bestuur.
Sy “de-Islamisasie” van Nederland streef na geen moskees of Islamitiese skole in die land nie. Kenners het daarop gewys dat hy tydens sy verkiesingsveldtog wel meer verdraagsaam oor Islam was.
Sy veldtog om migrasie in toom te hou, is deur baie van sy landgenote verwelkom. Ditto die aanspreek van die lewenskoste-krisis en behuisingstekorte.
Wilders was nogtans uitgesproke dat hy die “asiel- tsunami” wil beëindig en sy landgenote deurentyd in alles sal ken. “Ons mense moet hul nasie terugkry.”
Voor Wilders dit in werking kan stel, moet hy nou ‘n regerende koalisie vorm. G’n maklike taak nie, want die Nederlandse politiek is ingewikkeld en stadig. Die hoofstroom-partye is ook huiwerig om saam met hom en sy party te smelt, en/of te werk. Wilders het ander partye genooi om konstruktief na die koalisietafel te kom.
Wilders se sege kom een jaar nadat die Italiaanse regse premier Giorgia Meloni aan bewind gekom het. Sy het sedertdien haar standpunt oor verskeie omstrede kwessies versag en is nou die meer “aanvaarde” gesig van die geharde regses in die EU. Ook in Slovakië, Spanje, Duitsland en Pole wen populistiese leiers vinnig veld.
In die sosiaal-gesinde Skandinawië is die eens geharde liberale inwoners van lande soos Swede en Denemarke ook al meer gatvol vir die gevolge van immigrasie, insluitende terro-terreur.