Skip to main content

Swart Vrydag is om die draai, en vir baie Suid-Afrikaners is dit uitstekende nuus.

Die land se grootste kleinhandelaars is gereed om verlaagde pryse op ‘n reeks produkte aan te bied.

Vanjaar val Swart Vrydag op 24 November – eerskomende Vrydag, maar verskeie kleinhandelaars sal ook op 27 November aan Kubermaandag deelneem, terwyl ander Swart November-aanbiedings dwarsdeur die maand aanbied.

Gunstige produktetransaksies sal verligting bring vir Suid-Afrikaners wat reeds noustrop trek in ‘n uitdagende ekonomiese omgewing wat gekenmerk word deur stygende rentekoerse, hemelhoë inflasie en gedempte groei hoofsaaklik as gevolg van beurtkrag.

Swart Vrydag en sy gepaardgaande dae stel verbruikers dus in staat om voorraad benodigdhede en geskenke voor die feestyd te kry, maar moenie glo handelaars bied winskopies aan om jou tegemoet te kom nie.

Die term Swart Vrydag het in die laat 1980’s sinoniem geword met inkopies. Kleinhandelaars het die “Swart Vrydag”-naam begin gebruik vir ‘n reeks winskopies laat in November. Tradisioneel het rekenmeesters verskillende kleure ink op hulle balansstate gebruik  – rooi vir verliese en swart vir verdienste – om ‘n maatskappy se winsgewendheid aan te dui.

Swart Vrydag het die dag geword toe winkels uiteindelik wins gemaak het en die boekhouers die swart penne oortyd kon laat werk.

‘n Sielkundige, Zipho Mhlongo van Netcare Akeso in Nelspruit sê hoewel die feestyd ‘n vreugdevolle tyd is wanneer mense pret wil hê en ontspan, kan dit ook angs uitlok en tot finansiële swaarkry lei as ons toegee aan die drang om oormatig te spandeer.

“Onthou dat die lewe verder as die feesseisoen duur en ideaal gesproke moet ons beplan dat dit gemaklik voortgaan eerder as om ‘n swak fondasie vir die nuwe jaar te skep met ‘Janu-worry’,” sê hy.

“As jy van voorneme was om byvoorbeeld ’n nuwe yskas te kry, dan maak dit sin om voordeel te trek uit Swart Vrydag-aanbiedinge. As jy egter nie van plan was om andersins geld te bestee nie, wees bewus daarvan dat Swart Vrydag-koors ‘n ‘vrees om uit te mis’ op spesiale aanbiedinge skep wat tot impulsiewe en roekelose besteding kan lei,” sê Mhlongo.

Sommige mense sukkel om die begeerte te beteuel om luukshede te koop wat hulle nie kan bekostig nie of spandeer baie geld aan onnodige snuisterye voordat hulle hul maandelikse verpligtinge nakom. “As jy verplig voel om te veel te spandeer en probeer het om jou inkopies te beperk, maar vind dat jy dit nie alleen kan doen nie, is dit dalk tyd om te oorweeg om professionele hulp te soek.”

Mhlongo sê ‘n belangrike beginpunt is om die verskil te verstaan tussen die dinge wat jy wil hê en die dinge wat jy nodig het. “Dit is nie wys om ‘n luukse voertuig aan te skaf as jy nie huur kan bekostig nie, dit is nie wys om duur klerehandelsmerke te koop wanneer jy nie skoolgeld kan bekostig nie. Dit is belangrik om jou begroting objektief te assesseer.

“So opwindend soos die feestyd ook al is, kan dit ook maklik wees vir ouers om bo hul vermoë te spandeer deur die beste vir hul kinders te wil voorsien. Die impulsiwiteit verbonde aan die vakansietydperk en ouers wat kinders wil beloon vir hul harde werk gedurende die skooljaar, kan die gesin se vermoë om finansieel klaar te kom, bedreig wanneer die nuwe jaar begin.

“Hou ouderdomsgeskikte besprekings om kinders te leer hoe om versigtig met geld te wees en sentiment te kweek eerder as materialisme by kinders van kleins af. Beskerm jou kinders deur sterk grense van finansiële omsigtigheid te ontwikkel en lei deur voorbeeld sodat hulle nie in die toekoms die prooi word vir besteding bo hul vermoë nie,” sê hy.

“As jy jou kinders leer om sentimentele gawes en gebare eerder as materiële dinge te waardeer, kweek jy ryker en meer soliede waardes in wat hulle goed in die lewe sal dien. Kinders moet grootgemaak word om te besef dat geluk en vervulling nie noodwendig kom deur die verkryging van besittings nie.

“Die lewe se grootste betekenisvolle oomblikke van plesier behoort nie baie geld te kos nie, en waardering vir die ervaring om tyd saam deur te bring is wat die meeste saak maak. Vind kreatiewe, persoonlike maniere om mekaar te behandel – ’n piekniek van vrugte of toebroodjies waar julle tyd saam kan spandeer om pret te hê en die skoonheid van die natuur te geniet, kan meer onvergeetlik wees as ’n duur geskenk.”

Wanneer jy geskenke koop of ‘n vakansie bespreek, beplan vooruit en hou ‘n oog op spesiale aanbiedinge. “Pryse word dikwels in die feesseisoen verhoog omdat besighede weet mense is lus om geld te spandeer. Dit is wys om maande vooruit te beplan en die nodige betalings te maak voordat pryse verhoog word sodat jy nie hierdie koste aan die jaareinde hoef te absorbeer wanneer daar dikwels ander uitgawes is nie,” stel hy voor.

“Dit is ook sinvol om kinders of ander familielede saam met wie jy die feestyd gaan deurbring te vertel van jou pogings om te spaar en vooruit te beplan sodat hulle betrokke is, en hul verwagtinge word ook gedeel. Dit maak dit makliker om hierdie tydperk met minimale spanning te navigeer.”

Mhlongo waarsku dat kriminele swendelary dikwels hierdie tyd van die jaar toeneem. “Hetsy dit kulkunstenaars in die werklike lewe is, of swendelaars wat teksboodskappe, telefoonoproepe, sosiale media, e-posse of die internet gebruik, ons moet altyd op ons hoede wees.

“Tragies genoeg is bejaardes meer geneig om slagoffers van kubermisdaad te wees weens beperkte kennis van tegnologie wat hulle meer kwesbaar maak vir manipulasie. Help asseblief om die ouer mense in jou lewe in te lig. Mense moet geleer word om nie op enige skakels te klik of belangrike besonderhede soos pinkodes en vertroulike inligting in telefoonoproepe uit te gee nie,” sê hy.

“Die feestyd kan selfs meer betekenisvol wees sonder dat dit nodig is om skuld te maak. Om met familie en geliefdes te kommunikeer oor finansiële omsigtigheid is nie altyd maklik nie, maar dit kan help om verdere stres en angs op die lang termyn te voorkom.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!