Skip to main content

Altesaam nege verdagtes is vir veediefstal in drie afsonderlike voorvalle in Noordwes tussen verlede Woensdag en Vrydag in hegtenis geneem.

In die eerste voorval Woensdagoggend is 160 skape na bewering van ‘n plaas in Hartbeesfontein gesteel deur vier verdagtes wat ‘n vorige werknemer ingesluit het. ’n Gesamentlike poging deur Hartbeesfontein-polisie en die plaaslike Veiligheidswag het gelei tot die herwinning van al die skape.

Alhoewel die verdagtes ontsnap en die arrestasies ontduik het, is hulle later in hegtenis geneem nadat inligting oor hul verblyfplek ontvang is. Matshidiso Mokopela (23) en Motseothatha Daniel Moreo (21) is deur Stilfontein Veediefstal- en Bedreigde Spesies-eenheid (STES) in hegtenis geneem en het Vrydag in die Klerksdorp-landdroshof verskyn. Die beskuldigdes is in aanhouding tot hul volgende hofverskyning voor dieselfde hof op 24 November 2023.

In die tweede voorval wat in die vroeë oggendure Donderdag aangemeld is, is ‘n boer in Biesiesvlei wakker gemaak deur ‘n buurman wat harde geluide uit sy nabygeleë kraal hoor kom het. Die eienaar is dadelik na sy kraal waar hy ontdek het dat die heining gesny is en dat bokke en skape vermis word.

Lede van die gemeenskap is gemobiliseer en ‘n verdagte wit kombi sowat drie km van die weikamp waar die diefstal plaasgevind het, gevind. Gemeenskapslede het die voertuig agternagesit totdat dit in ‘n nabygeleë mielieland vasgeval het.

Sowat ses mense het uit die kombi gespring en weggehardloop, maar een van hulle is in hegtenis geneem. Tien bokke en vier skape is in die kombi ontdek terwyl 16 bokke by ‘n laaiplek in die bosse gevind is.

Ondersoek deur Sannieshof STES het gelei tot die arrestasie van nog ‘n verdagte later dieselfde dag. Die paar, 24 en 25 jaar oud, sal vandag in die Lichtenburg-landdroshof verskyn op aanklag van veediefstal.

In die laaste voorval Vrydag het die polisie inligting ontvang van gesteelde skape wat in Chris Hani Lokasie in Wolmaransstad aangehou is. Volgens inligying is die skape later in ‘n silwer Mitsubishi-voertuig gelaai. Daarna het Misdaadintelligensie, Openbare Orde Polisie (POP), Wolmaransstad-polisie en Stilfontein STES die inligting geoperasionaliseer en ‘n silwer Mitsubishi-voertuig met vier insittendes op die N12-pad tussen Wolmaransstad en Bloemhof voorgekeer.

Toe die voertuig deursoek is, is ‘n skaap in die kattebak van die voertuig gevind. Die verdagtes is in hegtenis geneem nadat die insittendes versuim het om vir die besit van die dier rekenskap te gee. Verdere ondersoeke het die span na drie adresse in Wolmaransstad gelei waar vyf skaapkarkasse gevind is en nog ‘n verdagte in hegtenis geneem is.

Altesaam vyf verdagtes, tussen 25 en 36 jaar oud, sal na verwagting vandag in die Wolmaransstad-landdroshof verskyn vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Die Noordwes-polisiekommissaris, luitenant-generaal Sello Kwena, het die gemeenskap bedank vir hul betrokkenheid by die bekamping van misdaad aangesien die polisie alleen nie misdaad sou kan oplos nie. Hy het boere versoek om seker te maak dat hul vee gemerk word ooreenkomstig die Wet op Diere-identifikasie, 2002 (Wet No. 6 van 2002).

Leave a Reply

error: Content is protected !!