Sonnette Lombaard
Moeiteloos klink Elton John se ritmiese treffer Sad Songs (Say So Much) in my binneste op, die oomblik toe ‘n kollega vanoggend die hartseer nuus laat weet. Oud-Springbok-rugbyspeler en slotheld van ons 1995-Wêreldkampioenspan Hannes Strydom is dood.
Strydom (58) het gisteraand gesterf in ‘n motorongeluk op die N4-snelweg net voor Witbank in die rigting van Pretoria. Hy is die vyfde lid van die seëvierende Wêreldbekerspan wat groet. Ruben Kruger, Joost van der Westhuizen, James Small en Chester Williams, asook die afrigter, Kitch Christie, is dood.
Strydom, ‘n Welkom-boorling, het in die Oos-Kaap grootgeword waar die rugbyveld by sy alma mater die Hoërskool Pearson in PE na hom vernoem is. Hy het 21 Bok-toetse gespeel en was later ‘n staatmaker-voorspeler vir Noord-Transvaal (Blou Bulle) en Transvaal (Goue Leeus).
Die treurige nuus neem my terstond terug na die 1980s en my aanvangsjare as koerantjoernalis. Ek hoor Elton sing en sien ‘n tall, dark & handsome student op die dansvloer verby my gly. Met langarm-sokkie, dit nogal by die Ingelse se Rhodes-universiteit in Grahamstad.
Die jaar was 1984 en Suid-Afrika was vasgevang in wye boikotte op haas elke gebied, ook op die sportveld. Ons demokrasiedroom was toe nog ‘n dekade ver.
Maar nie eens dié skadutyd in ons landsgeskiedenis kon rou talent en leierskap verberg nie. Want toe al het Hannes Strydom die oog gevang …
Daai intervarsity-dans in die Oos-Kaap was nie my eerste kennismaking met Hannes nie. Hierdie begaafde man het my loopbaan as sportjoernalis gelanseer.
My kleintyddroom om joernalis te word, het einde 1983 waar geword toe ek pas ná my studies by die destydse dagblad Oosterlig in Port Elizabeth ingeval het. Op dag een, tydens die nuusredakteur se verkennende gesprek met my, noem ek dat ek ‘n groot sportaanhanger is, ‘n goeie sportkennis het en graag ook daaroor wil skryf.
Rugby veral, het my detyds erg geval. Ek het al op laerskool saam met my pa oraloor rugbywedstryde begin bywoon en die sport slaafs gevolg. Teen hoërskool het ek voor groot Springbok-wedstryde of Curriebeker-eindstryde oor die interkom vir die skool rugby uitgesaai.
My wense as groentjie-journo moes byval vind, want kort daarna word ek saam met ‘n fotograaf na PE se lughawe gestuur. Die SA Skole-rugbyspan se kaptein arriveer terug ná ‘n moeilike en nuusmakende toer na Engeland.
Die naam Hannes Strydom beteken tóé nog niks nie. Toe die lenige, jong man met ‘n vasberade tred uitstap en vriendelik groet, weet jy dadelik: hier is ‘n ware leier in wording. Dit was die manier waarop die 18-jarige wat pas matriek geskryf het, sy lang lyf gedra het. En die volwasse manier waarop hy my ‘taai’ vrae oor die jong Bokke se omstrede toer na Engeland met insig bo sy jare beantwoord het.
Die innemende Hannes, wat bykans 2m in sy sokkies gestaan het, het selfs van sy momentos van die betogers tydens die toer op daai ontmoetingsdag vir my gegee. Jy het gewis hierdie is nie die laaste sien van Hannes Strydom nie. En dit was nie.
Hy het die volgende jaar met sy aptekerwese-studies aan die Universiteit van Port Elizabeth begin. As joernalis het ons paaie dikwels gekruis. Boonop was hy deel van ‘n gewilde paartjie. Aan sy sy was sy skoolliefde, die donkerkop Nikolie, wat later joolkoningin en sy vrou sou word.
My storie oor die jong Bokkaptein Hannes was hoofberig op die voorblad. Ek skuif kort daarna na die sportredaksie se kantoor. Die begin van ‘n wondertyd as sportjoernalis, in die laaste dekade voor ons reënboognasie sou debuteer.
Ek dek selfs, vanaf agter my beskeie lessenaar in die Baai, die hele Olimpiese Spele in Los Angeles in 1984! Die een waar Zola Budd en haar kaalvoete met Mary Decker gebots het, en ons opmars daarna in die Olimpiese swembad die eerste rimpels sou wys.
Tuis was daar die opwindende rebelle-kriekettoere van die Engelse en Windies en natuurlik was rugby op alle vlakke altyd kookwaternuus. Ek was deel van die joernalis-spanne wat hieroor berig het en die herinneringe van op en van die veld vervaag nimmer.
En was dit nou nie vir die lang tiener wat my destyds so beïndruk het en as jong joernalis skietgoed gegee het nie, kon dinge anders gedraai het …
Oor die jare het my paaie nog ‘n keer of wat met Hannes s’n gekruis. Ook in die groot apteek op die Moot se hoek in Pretoria (hy het die Pharma Valu-apteke begin). Ons het altyd gegroet, op ‘n keer daai dag op PE se lughawe herroep: die groen joernalis afgevaardig om die latere Groentrui-held te interview.
Die lirieke van Elton John se Sad Songs wat hy saam met Bernie Taupin gepen het, wil dit hê dat jy na klassieke blues op die radio moet luister wanneer jy hartseer is. Klink nommerpas ná hierdie Maandag se blounuus. Dankie en RIV Hannes Strydom.