Sonnette Lombaard
‘n Kaapse vriend laat weet hy het oor die naweek ‘n ongewone besoeker aan’t huise in die wynlande-omtrek gehad. Hy heg ‘n foto van die blink muskeljaatkat aan wat kom draai het. Volgens hom het dié skaars en skaam katagtige dier “so stil en vreesloos soos ‘n spook” kom kuier. Nie een keer nie, maar twee keer.
Wat my laat wonder oor die geheimsinnige dier, bekend as genet in Engels en mooi vertaal in Afrikaans as muskeljaatkat. Die katagtige dier is ‘n lid van die weselfamilie en verwant aan die otter.
Interessant om te lees hoeveel simboliek en geestelike betekenis muskeljaatkatte vir vele gelowe inhou, insluitende die Christendom!
Die skraal katagtige diere met ‘n lang lyf en stert, groot ore, ‘n spits-snuit en intrekbare kloue se pelse is meestal gevlek. Die diere is super rats, met snelreflekse en uitsonderlike klimvaardighede en kan op hul agterpote staan. Hulle stap, draf, hardloop, klim op en af, en spring. Hulle woon op die grond, maar hou ook van bome.
Muskeljaatkatte word as eensame diere beskou, behalwe tydens paring. Wyfies maak tot vyf kleintjies per werpsel alleen groot. As omnivore vang hulle ongewerweldes en klein gewerwelde diere, maar voed ook op plante en vrugte.
In 2014 is ’n groot gevlekte muskeljaatkat vir die eerste keer op kamera in ons agterplaas in die Hluhluwe-Imfolozi Park in KwaZulu-Natal vasgevang – waar hy op die rug van twee verskillende buffels en ’n renoster ry!
Muskeljaatkatte bestaan uit 17 spesies klein karnivore, almal inheems aan Afrika. Die gewone genet is in historiese tye as ‘n semi-mak dier na Suidwes-Europa geneem en oorleef daar.
In Afrika bewoon muskeljaatkatte beboste habitats noord van die Sahara, in savanna-sones suid van die Sahara tot suidelike Afrika en langs die kus van Saudi-Arabië, Jemen en Oman.
Die Kaapse genet is endemies aan fynbos, grasveld en kuswoude in Suid-Afrika. Die Suid-Afrikaanse kleingevlekte muskeljaatkat leef in bosveld-savannas, grasveld, ruigtes, asook droë vleigebiede in Angola, Namibië, Suid-Afrika en Zambië.
Die muskeljaatkat het sterk geestelike betekenis en simboliek in groot gelowe. Daar was geglo hierdie klein skepsel kon help om ons geestelike aard te verstaan.
Genet, afgelei van die Arabiese woord Janatha, verwys na beide die dier en mitologiese wese. In antieke tye is geglo die genet kon tussen wêrelde loop en dimensies deurkruis. Dit was dus geassosieer met transformasie, verandering en wedergeboorte.
In die Indiaanse en Keltiese kulture word muskeljaatkatte vereer as simbole van nuwe beginne of wedergeboortes, geluk en beskerming. Die katte se fyn waarnemings- en sigvermoëns in die donker, maak dit ‘n uitstekende “gids” of metafoor vir aanhou vorentoe beur deur taaie tye.
In die Verre Oosterse kulture is die genet ‘n statusdier. Hulle is die beskermer van die huis en sy inwoners en kan selfs vrugbaarheid simboliseer.
As simboliek vir Christene, is die “rein en onskuldige” muskeljaarkat ‘n simbool van Christus. In Christenkuns word dit soms saam met ‘n lam óf as die lam vertoon. Die genet simboliseer opstanding en hoop en nuwe beginne nadat struikelblokke oorkom is.
Christene het die genet as goddelike gids gebruik om hul geestelike pad te vind, om met ons hoër self en die goddelike ryk te verbind.
Die genet se betekenis is ook nou gekoppel aan die maan omdat die dier ook van vorm kan verander. Dit herinner ons dat alles voortdurend beweeg en verander. Dit help ons om harmonie in ons lewens te vind met balans tussen ons fisiese en geestelike behoeftes.
Genet-simboliek omkring verandering, transformasie en evolusie. Dit help ons om doelwitte te bereik en die lewe se uitdagings te navigeer. Dit leer die belangrikheid van aanpasbaar en buigsaam wees, om in die wêreld te oorleef en te floreer, én te wis alle dinge kom tot ‘n einde.
Meer kern, herinner die muskeljaatkat as lewensgids ons dat ons mekaar almal nodig het om te floreer. Daar word geglo ons moet aandag gee aan die tekens en boodskappe wat deur die genet vir ons gestuur word.
Met dié nuwe kennis in pag, wonder ek of ons hier in Afrika en ook as mensdom nie dringend meer tuisbesoeke van muskeljaatkatte benodig nie?